Die storie van Dennis het  in 2017 opslae gemaak nadat ’n Facebook-gebruiker Fransua se foto met die van die lank vermiste Dennis vergelyk het.

Dennis het reeds in 1986 – as 22-jarige – onder raaiselagtige omstandighede verdwyn toe hy van Bloemfontein na Pretoria vir ’n werkonderhoud gereis het

’n Facebook-gebruiker het aangevoer ‘n foto van ‘n hawelose in Pretroria wys Dennis en dié man is een en dieselfde mens. Almal was opgewonde dat die “verlore seun” opgespoor is.

Daar was selfs einde 2017 ’n blye ontmoeting met Dennis se bejaarde ma, Rina Smit (nou 79).

DNS-toetse van Fransua en Dennis se familie sou egter tot almal se teleurstelling toon hy is nie die ware Dennis nie. Kort voor lank het niemand geweet waar Fransua is nie en was hy weer op straat.

Die eerste sprake vandeesmaand dat Fransua dood is, het in die sosiale media op Facebook kop uitgesteek en is ook deur Dennis se biologiese suster, Desiree Haynes (50), gedeel.

Die plasing lees: “Onthou julle die verhaal van Dennis wie toe eintlik Francois (sic) Venter was? Gedurende daardie tyd het Francois soveel liefde en bederf ervaar, wat hy nooit andersins sou ken nie . . .

'Die soektog na Dennis duur voort . . . Francois se lewen spad (sic) het egter geeindig, hy is sowat n week gelede onder ‘n brug in Mountain View aangetref . . . Ons gaan jou mis Francois . . . ” 

‘n Familievriendin van Fransua se biologiese familie het bevestig Fransua is glo reeds vroeër as wat die plasing dit voorhou, op 26 Mei dood.

“Hy is op 8 Junie begrawe nadat hy in ’n tref-en-trap ongeluk raakgery is. Hy is nie op slag dood nie,” is al wat die familievriendin verder van Fransua se kant van die familie se kant wou sê.

Desiree het bevestig sy het verneem Fransua is in Mei in Pretoria dood.

“My hart is baie seer. Die trane lê maar vlak,” het Desiree Maandag aan Huisgenoot gesê.  

Desiree is Dennis se suster en sy het ook aanvanklik vas geglo Fransua is haar verlore boetie toe hulle in 2017 nuus kry van ’n hawelose man in Pretoria wat nes haar broer lyk.  

Desiree vertel sy het nog net ’n maand gelede nog met Fransua gepraat. Die twee het nog af en toe gesels.

“Ons het maar net gepraat oor hoe dit gaan en hoe dit met my ma, Rina gaan,” sê sy.

Rina ly aan gevorderde been- en baarmoederkanker.

“Ons weet nie meer hoe lank my ma het nie… Ek het haar nie vertel van Fransua se dood nie. Hulle het geheg geraak aan mekaar en dit sal vir haar wees soos om weer ’n seun te verloor,” sê Desiree tussen die trane deur.

Rina het vas geglo Fransua is haar seun Dennis, toe hulle ontmoet het. Haar hart is daarna gebreek toe sy uitvind dit is inderdaad nie so nie.

“Ek dink hy het op straat gebly, maar ek is nie seker nie. Hy het nooit gekla nie. Ek weet ook nie presies hoe hy dood is nie.”

Desiree glo haar broer, Dennis is ook oorlede.

“Miskien ontmoet hulle twee mekaar nou.”

Ruth Jacobs, ’n weldoener van Pretoria-Noord wat destyds die Haynes-familie in aanraking met Fransua gebring het omdat sy geglo het dit kan dalk Dennis is, het ook van sy dood gehoor.

“Hy is onder ’n brug dood en glo in ’n tref-en-trap. Dis baie hartseer nuus,” sê sy.

Desiree sê sy hoop haar ma vind nie uit van Fransua se dood nie.

“Sy vra nog gereeld na hom maar sy is in baie pyn (van die kanker).”