Huisgenoot het twee weke gelede berig Delmarie het verdwyn nadat haar ouers haar die oggend by die skool afgelaai het. 

Haar ma, Bianca van der Merwe, het toe gepleit dat haar oudste dogter huis toe kom. 

Die Vanderbijlpark-polisiewoordvoerder, sers. Gertrude Makhale, sê Delmarie is in Pretoria gevind.  

“Die ondersoekbeampte het haar in Pretoria gaan haal nadat ons ’n wenk gekry het en het haar huis toe geneem,” sê sy. 

Tania Opperman van die organisasie South African Support Initiative het gehelp om na Delmarie te soek. Sy sê sy is baie verlig sy is ongeskonde gevind. 

“Iemand het haar gesien en herken van ’n vermiste persoon-plasing op Facebook. Hulle het toe die polisie laat weet. Die gemeenskap speel so 'n groot rol in dié soort vermiste persoon-plasings,” sê sy.

Delmarie se ouers kon nie bereik word om kommentaar te lewer nie. 

“Geen klagte is ingedien nie. Die meisie het bevestig sy het uit eie wil weggeloop van die huis af en is nou veilig by haar ouers,” sê Gertrude.