Timone,vermis,gevind,Betlehem
Timone saam met Anita Henning en haar kleinsussies Trixi and Roxi. Foto: Verskaf

Predikante het selfs in kerke afgekondig dat sy soek is, skole en besighede het gehelp.

"Ek is so dankbaar om terug by die huis te wees," "skryf" die Italiaanse windhondjie op haar Facebook-blad, I am Timone. Dit is waar haar "ma", Anita Henning, vertel het sy is weg. Sy is 'n gastehuisbestuurder op die dorp.

Sy het om 14:00 Saterdagmiddag 16 November voor die slaghuis op Betlehem uit die motor gespring en die pad gevat.

"Timone is bang vir mense. Ek het nie gedink ons gaan haar kry nie omdat sy heeltyd sal weghardloop," vertel Anita aan Huisgenoot.

Timone se roete het min of meer so gelyk, volgens mense wat haar gewaar het: Sy het Mullerstraat met reuse vragmotors trotseer, ‘n baie besige Eeufeesstraat gekruis en opgehardloop in een van die hoofroetes in Bethlehem en daarna oor die N5-snelweg tussen Bloemfontein en Harrismith.

Elke leidraad is opgevolg en die woonbuurtes is gefynkam, selfs tot so ver as die as-gate.

Die naam Timone is van Antieke Griekse oorsprong en beteken "eerbaar". In die Bybel is dit iemand wat ander onderskraag. Haar vorige eienaar het deur 'n moeilike tyd gegaan, waartydens Timone heeltyd by haar was.

Toe die vrou Engeland toe verhuis, het Anita vir Timone aangeneem.

Om 16:45 die Maandag het Wilma Masut vir Timone in Panorama, Bethlehem, raakgesien en dit op ’n WhatsApp-groepie geplaas. Iemand het Anita toe daarvan laat weet.

“Sy het so lekker geëet toe sy by die huis kom,” vertel Anita.

“Daar het soveel mooi goeters hieruit gekom. Soveel mooi het uit hierdie ervaring gekom – ondersteuning en onderskraging uit die gemeenskap en die en die oorweldigende reaksie in die sosiale media het my verbaas,” voeg sy by.

Ander stories van verlore diere duik nou op Timone se blad op, soos die labrador Julie, wat vyf dae lank sonder water en kos in ’n kapel op mense se landgoed toegemaak was nadat sy agter werkers aangeloop het.

“Ons moet meer bedag wees op verdwaalde diertjies wat ons sien en bewustheid skep by ons werkers, om altyd uit te kyk vir die diere op die perseel. Iemand soek na daardie troeteldier,” sê Anita.

Op Timone se Facebook-blad vertel Anita nou nie net in haar hond se stem hoe dit met haar gaan nie, maar plaas ook stories van ander diere wat vermis is of eens was.

“Intussen het ons voorsiening gemaak op ons sypaadjies met groot waterbakke, vir dors diertjies wat die pad byster geraak het.”