“Ek dank die Here dat my kind veilig is en niks oorgekom het nie. Ek was mal van bekommernis,” sê sy ma, Adri. 

Volgens Adri het Fanie gister (Woensdag) in ’n histeriese toestand by die Addington-staatshospitaal aangekom en vir die personeel gesê iemand agtervolg hom en wil hom leed aandoen. 

“Hy is medikasie gegee om te kalmeer en hy kon eers vandag my nommer onthou. Die hospitaal se personeel het nie geweet hy word vermis nie.” 

Fanie het op 8 Julie besluit hy wil uit die huis trek en het ’n rygeleentheid saam met ’n vriend Durban toe gekry. 

“Hy het vir my gesê hy het ’n werk daar geky, maar watter werk weet ek nie. Hy is met al sy besittings hier weg.” 

Op 10 Julie het Adri met Fanie oor die foon gepraat. 

“Hy was toe in Pinetown en het by vreemde mense gebly. Hy is daarna na ’n niggie van hom in Amanzimtoti, maar hulle het stry gekry en hy is uit haar huis geskop.”

Fanie Bothma. Foto's: Verskaf
Fanie Bothma. Foto's: Verskaf

Dit was die laaste keer dat Adri van Fanie gehoor het.

Ná sy verdwyning het Adri dreigoproepe van ’n man ontvang wat R10 000 eis - of hy sou Fanie leed aandoen. 

Sy het nooit die geld betaal nie en die polisie het haar gemaan om nie verder met die persoon te praat nie. 

Sy sê sy beplan om oor die naweek by Fanie in Durban te gaan kuier. 

“Hy is tans in die hospitaal se psigiatriese afdeling en word gemonitor. Hy gaan moontlik nog vir ’n rukkie in die hospitaal wees.” 

Fanie is bipolêr en het glo in die verlede ook ’n dwelmprobleem gehad. 

“Ons is net bly hy het niks oorgekom nie. Ons beplan om hom na ’n rehabilitasiekliniek te stuur sodat hy kan gesond word.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe