Vir die familie van Liam Nortjé van Harrismith was dit Donderdag 21 Maart ’n tweede verjaardag sonder dat hulle ’n idee het waar hy hom bevind. 

Liam was twee jaar oud toe hy na bewering deur sy pa, Nantes Nortjé (48), ontvoer is. Hy sou Donderdag sy vierde verjaardag vier.

Daar was op dié dag geen verjaardagkoek of ballonne nie, iets wat hulle so graag vir hom sou wou hê.

“Dit is nou al twee verjaardae, twee Kersfeeste. Hy het verlede Donderdag op die vakansiedag verjaar. Ek het vir hom gebid. Ek het vir hom gebid soos wat ek elke dag vir hom bid, ek het net dié keer gebid dat hy moet weet dit is sy verjaardag. Ek het gebid dat hy bederf word waar hy ook al is. Ek het gebid dat God hom beskerm," vertel sy oudste suster, Wynette (20).

Wynette sê sy het geen kontak met hul pa, onder wie se toesig Liam een jaar en vier maande tevore spoorloos verdwyn het nie. Sy wil hom ook nie sien nie.

'Dit is alles net verskriklik,' sê Wynette.
'Dit is alles net verskriklik,' sê Wynette. Foto: Facebook.

Nantes sal waarskynlik later vanjaar in die rondgaande Vrystaatse hooggeregshof op Harrismith moet kom antwoord wat van Liam geword het aangesien hy die laaste mens was in wie se sorg Liam ten tyde van sy verdwyning was.

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in die Oos-Vrystaat, het Dinsdag aan Huisgenoot bevestig die hooggeregshofdatum is nog nie bepaal nie. Ook nie die aanklag nie.

Nantes Nortjé

Huisgenoot het by meer as een onafhanklike bron verneem daar is “’n sterk vermoede” klein Liam is op die dag van sy verdwyning op 21 November 2017 vermoor. Hy sal vermoedelik benewens ontvoering moontlik ook van moord of poging tot moord aangekla word.

Nantes, wat in die Harrismith-gevangenis aangehou word, het tot vandag nie ’n woord gerep oor wat van sy seun, wat hy saam met sy vervreemde vrou, Cheinelle (43) gehad het, geword het nie.

Huisgenoot het vroeër berig Cheinelle het in die tyd voor Liam se verdwyning aan Nantes gesê sy wil van hom skei.

Sy vermoed hy het Liam na bewering ontvoer om haar te straf.

Liam was hul laatlammetjie. Foto: Verskaf.

Intussen vertel Wynette, Nantes se oudste van drie kinders, dit breek hulle om elke dag sonder antwoorde voort te gaan – veral op sy verjaardag. Wynette en Liam het nog ’n minderjarige tienersussie wat net so bekommerd is oor hom. 

Sy het op sy verjaardag op Facebook vir hom geskryf: “Baba, vandag is jy 4 jaar oud. Ons mis jou so baie, ek hoop dat jy baie bederf word waar jy ook al is. Ons vertrou dat jy een van die dae weer by ons sal wees.”

Die klein blondekoppie is na bewering verlede jaar
Die klein blondekoppie is na bewering verlede jaar deur sy pa ontvoer. Foto verskaf.

Wynette vertel sy het ten spyte van alles steeds hoop dat haar boetie, wat met sy blonde hare baie soos sy lyk, steeds leef. “Ek het nog hoop, maar ja, die tyd stap aan. Dit raak net nou 'n bietjie lank.”

Huisgenoot het intussen betroubaar verneem die polisie het al verskeie mense by Nantes in die gevangenis gehad om hom te pols oor waar Liam hom bevind. Hy swyg egter soos die graf.

Al wat hy na bewering vir Cheinelle van haar seuntjie gelos het, was ’n verbrande haarlok en 'n briefie wat gelui het sy sal Liam in haar lewe nooit weer sien nie.