“Ons is stukkend. Ons was positief gewees ons sal hom kry en dat hy oukei sal wees,” sê Mark Rodda, John se seun. 

John (82) het op 8 Mei verdwyn toe hy met sy wit Nissan Tiidda by die Wilgers-aftreeoord in die ooste van Pretoria uitgery het. 

Hy was veronderstel om na die apteek te gaan om vir sy vrou, Rosemary, medikasie te gaan koop. Hy het egter nooit by die apteek uitgekom nie en het spoorloos verdwyn. 

John het nie ’n selfoon, rybewys of selfoon by hom gehad nie. 

Die familie het ’n grootskaalse soektog geloods en vir Mike Bolhuis se Specialised Security Services aangestel om te help soek na die bejaarde. 

Daar is in Mamelodi en in Pretoria-Wes na hom gesoek nadat mense gesê het hulle het vir John daar gesien. 

John het spoorloos verwyn nadat hy op pad apteek t
John het spoorloos verdwyn toe hy op pad apteek toe was. Foto: Verskaf

Maar die soektog het egter tragies geëindig. 

Volgens Callie de Kock, hoofondersoekbeampte, is John se lyk Vrydag in ’n lykshuis in Emalahleni (Witbank) gevind. 

“’n Werker by die lykshuis het te hore gekom van die saak en agtergekom dat John in die lykshuis lê. Hy was al sedert Saterdag (8 Mei) daar.” 

Callie sê John was in ’n motorongeluk op ’n grondpad buite Emalahleni betrokke. 

“Hy het die motor gerol en het baie ernstige beserings opgedoen. Hy is die Saterdag na die hospitaal in Witbank gevat, maar het daar aan sy beserings beswyk.” 

Mark sê die familie en veral John se vrou, Rosemary, is verwese. 

“My ma vat dit baie erg. Sy is sieklik en hulle was baie geheg aan mekaar. My ouers was vir 59 jaar getroud. Hulle het alles saam gedoen.” 

Mark sê hy het reeds vandag sy pa by die lykshuis gaan uitken. 

“Dit was glad nie ’n mooi prentjie nie. Hy het baie seergekry in die ongeluk. Dis vir ons baie erg dat dit so uitgedraai het, maar ten minste is daar nou afsluiting.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe