Prinses Latifa bint Mohammed Al Maktoum (32) is een van die kroonprins van Doebai, sjeik Mohammed bin Rashid Al Maktoum, se 30 kinders.

Een van haar vriende, Tiina Jaauhiainen (41) van Finland, beweer sy was saam met Latifa in die Nostromo se kajuit en dat hulle in die badkamer weggekruip het.

Hulle planne is egter verydel toe daar na bewering gas vrygestel is en hulle genoodsaak was om boontoe te gaan. Daar wou die gewapende mans bulderend weet watter een van hulle Latifa is.

 

Latifa het glo aan hulle gesê sy beskik oor asiel, maar hulle het hulle nie aan haar gesteur nie.

Tiina, wat ook Latifa se persoonlike afrigter is, beweer sy is ná die voorval ondervra en gedreig voor ’n video-opname van haar gemaak is, waar sy beken sy het sekere misdade gepleeg.

Tiina sê sy het beslis nie die misdade gepleeg nie, maar het geen ander keuse gehad nie.

Boonop moes sy hope dokumente, in ’n taal wat sy nie verstaan of kan lees nie, onderteken. Op 22 Maart is sy na Finland teruggestuur.

Óf dood óf in ’n slegte situasie

Latifa het glo haar regsverteenwoordiger, wat in Amerika is, versoek om ’n video openbaar te maak indien sy sou sterf of verdwyn. Tiina het bevestig dat dit inderdaad Latifa is wat in die video verskyn.

In dié video, wat op 11 Maart op YouTube verskyn het, maak Latifa verskillende verwysings om te bevestig sy is wie sy is. Sy verwys na haar familie, haar ma en haar pa wat "mense sal doodmaak om sy eie reputasie te beskerm", en herhaal weer dat die video waarskynlik haar lewe kan red.

"Ek is óf dood óf in ’n baie slegte situasie," sê sy kort daarna.

"Vryheid van keuse bestaan nie vir ons nie," was een van die redes wat sy vir haar ontsnapping uit Doebai aangevoer het. In die video sê sy dat sy van 2000 nog nooit Doebai kon verlaat nie.

"Ek sien uit na ’n beter lewe, ’n nuwe hoofstuk in my lewe."

Latifa se laaste woorde in die video is genoeg om koue rillings langs jou ruggraat te laat afloop: "As ek dit nie maak nie, hoop ek dat veranderings wel sal plaasvind."

Sarah Leah Whitson, direkteur van Human Rights Watch, het in Mei daarop aangedring dat die Verenigde Arabiese Emirate dadelik bekend moet maak waar Latifa haar bevind en dat sy met die buitewêreld moet kontak maak.

Latifa bin Mohammad al-Maktoum

Sy is glo een van drie van die kroonprins se kinders wat die naam Latifa dra. Haar ma, Horriya Ahmed, is van Algerië en een van die kroonprins se minder bekende vroue.

Toe Latifa 16 was, het sy en haar ouer suster Shamsa probeer ontsnap. Hulle wou glo vlug van ’n lewe waar hulle geen keuses oor hul eie toekoms kon maak nie.

Latifa is by die grens na Oman vasgekeer, na Doebai teruggebring en glo vir die volgende drie jaar was sy in aanhouding gemartel.

In die 24 Januarie 2018-uitgawe van Emirates Woman, verskyn daar foto’s van Latifa waar sy besig is met valskermspronge. In die artikel word sy beskryf as "die waaghalsige koninklike wat ons inspireer om meer avontuurlik te wees."

Juan Mayer, ’n fotograaf wat Latifa verskeie kere in aksie afgeneem het, het haar beskryf as een van sy gunstelingonderwerpe om in die lug af te neem, vanweë haar toewyding en energie vir die sport.



Mohammed bin Rashid Al Maktoum
  • Hy is ’n bekende perdeteler wat na bewering goeie kontak met koningin Elizabeth II het vanweë hul liefde vir perde.
  • In 2006 het hy sy broer opgevolg en die heerser van Doebai en die eerste minister van die Verenigde Arabiese Emiraat geword.
  • Hy was die stukrag agter die bekende Palm Islands, die Burj Al-Arab-hotel en die Burj Khalifa-wolkekrabber wat hoog bo die stad uittroon.

Bronne: news.com.au, mirror.co.uk, escapefromdubai.org, emirateswoman.com, hrw.org