“Waar is my kinders? Is hulle veilig? Sal ek hulle ooit weer sien?” Met dié vrae wat in oomblikke van kommer vlugtig deur ouers se gedagtes flits, leef Miena Carolus van George in die Wes-Kaap nou al ’n uitmergelende 14 jaar lank saam. Nog ’n Kersfees en nuwe jaar het vir die 53-jarige ma aangebreek sonder enige antwoorde oor wat van haar kinders geword het.

Simia (toe 16) en Elrenzo Gereldo Carolus (toe 10) en André Adams (ook 10), die seun van haar destydse lewensmaat, Adam Adams, wat sy van kleins af soos haar eie grootgemaak het, het op ’n Saterdagoggend saam na ’n winkel gestap en nooit weer teruggekom nie.

Miena Carolus
André Adams. Foto: Verskaf.

Ná uitgebreide soektogte, talle polisieondersoeke en leidrade wat vergeefs opgevolg is, brand die vraag steeds binne haar: Wat het van my kinders geword? “Ek het myself baie afgevra of hulle leef en waar hulle is. Maar ek het nog nie die gevoel gekry dat hulle dood is nie. Hulle is nie dood nie,” benadruk sy. “Ek dink iemand hou hulle gevange.”

Die knaende onsekerheid het sy tol geëis en sy is al vir depressie behandel. Tog bly sy aan die hoop vasklou dat iemand eindelik na vore sal kom met inligting wat die raaisel kan help opklaar. Dit is ook waarop Leon Rossouw hoop, die privaat speurder wat die saak nou opnuut bekyk.

Miena Carolus
Elrenzo Gereldo Carolus. Foto: Verskaf.

“Sedert ek in 2004 hierby betrokke geraak het, spook dit by my: Hoe raak drie kinders helder oordag net so weg, op dieselfde dag en sonder antwoorde?” sê Leon, wat nou ’n speurfirma in Bloemfontein het, aan Huisgenoot.

Dié gerekende speurder, wat onder meer die moordenaar van die Nederlandse student Marleen Konings help vastrek het, het nog in George gewoon toe Miena se kinders verdwyn. Hy het destyds sonder vergoeding leidrade daaroor help opvolg.

Miena Carolus
Simia Carolus. Foto: Verskaf.

“Ek het onlangs nuwe inligting bekom wat moontlik vir my antwoorde kan gee. Maar ek wil my nie verder daaroor uitlaat tot dit opgevolg is nie,” voeg Leon by. Intussen bly Miena na die drie vermiste kinders se gelaatstrekke soek in die jong gesigte op haar tuisdorp. “Ek sal nou nog op die dorp net by winkels instap om na die mense te kyk,” vertel sy.

En wanneer sy iemand sien wie se gesig half deur ’n kledingstuk verberg word, sal haar hart soms vinniger begin klop. Irrasioneel? Nee, ’n ma soos sy hou nooit op met hoop nie. 

Die Saterdagoggend van 2 Oktober 2004 was vir Miena aanvanklik nes enige ander. Maar dit het die dag geword toe haar wêreld in duie stort. “Die kinders sou skoene by Pep gaan koop.” Dié winkel is skaars 750 m van Miena se eenslaapkamerhuisie in Conville.

Miena Carolus
Die kinders was op pad na dié Pep in Conville, George, toe hulle vermis geraak het. Foto: Misha Jordaan.

“Ek het nog agternageroep hulle moet ook ’n sakkie aartappels en ’n kilogram meel saambring. Dit was my laaste woorde aan hulle, die laaste keer dat ek hulle gesien het,” sê sy sag.

Die kinders is tussen agt- en negeuur daar weg. Miena is ’n bietjie later self dorp toe, maar met haar terugkeer ná 11 was haar spannetjie nog nie tuis nie. “Ek het bekommerd geraak toe ek wag en wag, maar hulle nie huis toe kom nie.”

Toe Adam teen etenstyd van ’n doktersafspraak tuiskom, was sy al hewig ontsteld. Hulle het eers self by die winkels en in die omgewing begin soek. Later die middag is hulle na die polisiekantoor. “Ons het saam met hulle gery en oral vir die kinders rondgekyk.”

Nadat die ouers die Maandag hul kinders se verdwyning by hul skool aangemeld het, het ’n skoolmeisie vertel sy het Simia en die boeties saam met ’n vreemde vrou by ’n supermark op die dorp gesien en weer later saam met haar by die George-hospitaal.

Gerugte het ook die ronde gedoen dat hulle die Saterdagaand gesien is in Blanco, sowat 10 km noordwes van Miena-hulle. Die polisie het hierdie vrou ondervra, maar dit het niks opgelewer nie. Miena is steeds ongelukkig daaroor dat die polisie eers ’n paar dae ná die kinders se verdwyning ’n grootskaalse soektog begin het.

‘Wie sou hulle gevat het en hoekom?’

’n Groot groep polisielede en reserviste het toe George en die omgewing gefynkam en ook reddingshonde ingespan. Die soektog is na onder meer Joubertina, Willowmore, Uniondale en Beaufort-Wes uitgebrei. Maar al die leidrade het op niks uitgeloop nie en belonings van sowat R80 000 van die polisie en munisipaliteit is nooit opgeëis nie.

Aanvanklik het sy met vrae geworstel soos of die kinders kos het, hulle warm genoeg is en of hulle gesond is. “Ná die eerste groot skok het ek myself oor en oor gevra: Is hulle dan regtig net weg? Wie sou hulle gevat het en hoekom?”

Simia was knap met haar skoolwerk, nes haar jonger broer Werner, wat maar ses was toe sy ousus en twee broers verdwyn. Werner (20), wat in 2017 gematrikuleer het, se sertifikate vir akademiese prestasies en sewesrugby neem ’n hele muur en tafel in Miena se beskeie, netjiese woonplek in beslag.

Miena Carolus
Miena Carolus. Misha Jordaan.

Haar jongste, Dominick (16), is nog op skool, ook aan die Hoërskool Parkdene soos Simia destyds. “Sy was baie lief vir lees en skryf en om biblioteek toe te gaan. Sy was ’n stil kind en baie huisvas,” onthou sy. “Ons was close; sy was my enigste meisiekind. En as jy maar gesien het, het sy haar bababoetie, Dominick, op haar heup gehad.”

Miena se oë dwaal na Elrenzo se ondeunde gesiggie op ’n foto. “Hy was baie lief vir lag en grappies maak en het nooit lyf weggesteek nie.” Hy en André, wat graag rugby gespeel het, was albei leerders aan die Laerskool Parkdene. “Hulle het alles saamgedoen.”

Sy vertel van ’n droom wat sy oor Simia gehad het: “Sy wil ’n foonnommer neerskryf. Maar nes sy die pen vat, nog voor sy my die nommer kan gee, skrik ek wakker.” En een oggend het ’n beeld van haar kinders wat maer en ineengekrimp van die koue buite haar huis sit haar na die voordeur laat haas. Maar toe sy dit oopmaak, was daar niemand.

“Ek was destyds baie seer; ek was stukkend. Ek het nie geëet nie en omtrent net water en koeldrank gedrink. Ek het later gewens: Hoekom stuur hulle nie maar net die kinders huis toe of laat my weet hulle is dood nie?”

Miena Carolus
Die speurder Leon Rossouw bekyk nou weer die saak. Foto: Verskaf.

Die onsekerheid het haar eindelik gebreek en sy het in depressie verval. Eers het sy sielkundige behandeling daarvoor ontvang en later medikasie, wat sy steeds gebruik. Sy en Adam is ’n paar jaar gelede al uitmekaar en finansieel trek sy noustrop.

Haar geloof is die een ding wat haar staande hou. “ ’n Kerksuster praat my gereeld moed in. Ná die kinders se verdwyning het ek my hart vir die Here gegee. Dis hoekom ek nog hier is.”

Die feestyd is elke jaar vir haar moeilik, maar op 14 Junie, 10 November en 5 Desember gaan dit nog swaarder. Dis onderskeidelik Simia, André en Elrenzo se verjaardae. “Simia is nou 30 en die twee seuns 25,” mymer sy.

Leon was een van die mense wat destyds die hardste na haar kinders help soek het, sê Miena. En nes sy het hy nog nie tou opgegooi nie. “Ek glo iemand wat hulle geken en vertrou het, was by die kinders se verdwyning betrokke,” sê Leon. “Dit maak nie sin dat hulle sommer saam met vreemde mense sou loop of in ’n vreemde voertuig sou klim nie.

“Ek verstaan dat die publiek nie altyd wil betrokke raak nie al weet hulle dalk iets, dat hulle bang is ander sal uitvind hulle het inligting verskaf. Maar ek vra weer die gemeenskap om met inligting na vore te kom. “Help Miena om antwoorde oor haar drie kinders te kry.”

Enigeen met inligting kan Leon by 079-240-3491 bel of na consultingdetectivesbloem@gmail.com ’n e-pos stuur.