Met die eerste oogopslag het die man net soos haar kêrel van die afgelope paar maande gelyk. Maar toe Jody Kurash, ’n Amerikaner, ondersoek instel, het sy uitgevind dit is inderdaad nie John Bothma nie.

Baie mense is steeds op die uitkyk vir John, ’n Suid-Afrikaanse onderwyser wat in Viëtnam skoolhou. Hy is sedert 18 Mei vermis.

John, oorspronklik van Roodepoort in Johannesburg, is laas in Ho Chi Minh-stad gesien, maar sedertdien weet niemand wat van hom geword het nie. Sy selfoon is ook af.

“Ek het al drie kennisgewings op die Facebookblad ‘Find John Bothma’ geplaas, maar ek word steeds oorval met boodskappe oor die foto,” sê ’n moedelose Jody. “Ek waardeer dit dat mense probeer help, maar om daardie foto oor en oor te sien, is ontstellend. Ek bid vir daardie man se herstel en stuur my beste wense vir sy famlie,” sê sy.

John en Jody het mekaar in November verlede jaar ontmoet toe albei in Viëtnam Engels gegee het. Hulle is sedert Desember ’n paartjie en het beplan om later vanjaar weer in Viëtnam te herenig. 

John en Jody is sedert Desember 'n paartjie.
John en Jody is sedert Desember 'n paartjie.

John sou op 1 Junie Suid-Afrika toe gevlieg het, maar hy was ook nie op die vliegtuig nie.

Jody het vir John die laaste keer op die oggend van 15 Mei gesien. “Ons was albei in DaNang in Viëtnam vir ’n seevakansie. Ons het so ’n lekker tyd gehad,” onthou sy. Sy moes egter ’n vlug na Europa haal, waarna sy in Pole Engels gaan gee het.

“Dit was ’n haastige koebaai, maar ons het mekaar tot siens gesoen en gesê ons is lief vir mekaar,” vertel Jody, wat steeds in Pole is.

Hul laaste gesprek was vroegoggend op 18 Mei.

“Dit was vroegoggend in Viëtnam en amper middernag in Europa,” verduidelik sy.

Jody het vir John gevra hoe sy dag was, waarna John gesê het sy dag was lekker.

“Ek het ’n paar pagodas (’n tradisionele vyfverdieping-hoë toring) besoek, het klas toe gegaan en in die park gestap. Vandag gaan ek na ’n botaniese tuin of dieretuin. Lief, ek gaan verder slaap. Ek praat weer in so agt tot nege uur met jou,” het John geantwoord.

Hulle het vir mekaar nag gesê en daarna het Jody nie weer van John gehoor nie.

Volgens Jody is die polisie besig om inligting te ondersoek wat moontlik daarop dui dat hy in ’n stadium in Mei by iemand gebly het wat hy deur die verblyfwebtuiste couchsurfing.com ontmoet het.

“Ek het die persoon ook probeer kontak, maar nog geen terugvoer gekry nie.”

Sy sê daar is baie ongegronde gerugte van mense wat beweer “’n vriend” het John in ’n park gesien, dat hy mense geld skuld of dwelms gekoop het.

“Maar dit is alles gerugte. Wanneer ons mense kontak en daardie ‘vriend’ se naam vra, wil niemand meer inligting gee nie.”

Volgens Jody is daar ook baie teenstrydige weergawes van die gerugte. “Maar Interpol ondersoek dit.”

Jody is gereed om Viëtnam toe te vlieg sodra dit nodig is. Sy het voortdurend kontak met John se familie.

“Mense moet asseblief vir ons relevante inligting stuur en nie net negatiewe kommentaar lewer of aannames maak nie. Dit help nie en dit is baie ontstellend vir mense wat deur ’n moeilike tyd gaan.”