John Bothma se ma, Coleen Bothma, ’n verpleegster wat in Kempton Park woon, sê haar grootste begeerte is om te weet dat haar seun “oraait” is.

Coleen sê sy verlang verskriklik na John en het op 15 Mei laas met hom gepraat. Daarna kon sy hom nie weer in die hande kry nie.

Sy is baie ontsteld oor die bewering dat haar seun se organe moontlik geoes is.

“Ek wens net ons kan antwoorde kry,” sê sy aan Huisgenoot ná berigte dat die twee vermiste onderwysers moontlik die slagoffers is van 'n orgaanhandel-sindikaat. 

John Bothma (23) van Johannesburg en Mushfiq Daniels (28) van Kaapstad het albei vroeër vanjaar in Ho Chi Minh-stad vermis geraak.

John is al sedert 18 Mei vermis en Mushfiq is sedert 5 Julie weg.

Volgens Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die noodleningsorganisasie Gift of the Givers, het hy die situasies begin volg ná Mushfiq se familie hom gekontak het om vir hulp te vra.

“Ek het met albei families gesels en die situasie begin ondersoek. ’n Mens kan nie net verdwyn nie,” sê Imtiaz.

Hy het die gevolgtrekking gemaak dat die twee mans moontlik die slagoffers van orgaanhandel kan wees nadat hy gelees het van ’n sindikaat wat organe oes wat vroeër vanjaar in Viëtnam vasgetrek is.

“Maar dit is net ’n teorie,” beklemtoon Imtiaz.

Oor berigte wat verwys na twee verskillende Amerikaanse vroue waarmee die onderwysers bevriend geraak het, sê Imtiaz: “Ek impliseer hulle (die vroue) nie,” sê hy.

Santjie Dixon, John se tannie wat hom ook help grootmaak het, sê die bewerings dat John en Mushfiq se organe geoes is, is bloot spekulasie en baie traumaties vir hul families.

“Ons is baie geskok oor al die goed. Maar dit is nog net spekulasie en daar is nog geen bewyse daarvoor nie,” sê sy. “John se situasie het nie sedert 18 Mei verander nie. Dit maak ons uiters ongerus.” 

Sy het op 18 Mei laas met John gepraat en is in kontak met die Departement van Internasionale verhoudinge en samewerking (DIRCO).

Die kennisgewing word op sosiale media versprei.
Die kennisgewing word op sosiale media versprei.

John, wat oorspronklik van Roodepoort in Johannesburg is, het in die Bin Ksoejen-streek skool gehou, maar was met vakansie in Ho Chi Minh-stad toe hy vermis geraak het. Hy het glo by ’n vriend gaan kuier.

View this post on Instagram

#eslteacher

A post shared by John Bothma (@panda3beast) on

Santjie sê sy was voortdurend bewus van John se verhouding met die Amerikaner Jody Kurash, en het tot op hede geen rede om haar te verdink nie. “Sy is die eerste mens wat ek gebel het toe ek verneem het dat John vermis is. Dit was die oggend van 19 Mei,” vertel Santjie.

Volgens Santjie is Jody ook verskriklik ontsteld oor die bewerings wat die afgelope week gemaak is.

Jody, wat vir John op 15 Mei laas gesien het, het in Pole skoolgehou toe John vermis geraak het. Die blondekop-vrou het in Junie en Julie vir drie weke na Viëtnam teruggekeer om na John te soek en was voortdurend in kontak met John se familie.

“Ek was in Hanoi; ek het met die ambassade gaan praat en ’n saak by die polisie aangemeld in Ho Chi Minh-stad. Ek was by vier verskillende polisiestasies, het hostels besoek, kroeë en oral pamflette versprei. Ek het selfs in Kambodja na John gaan soek om te kyk of hy nie dalk onbewustelik die grens oorgesteek het nie,” het Jody onlangs aan Huisgenoot vertel.

“Toe ek in Viëtnam kom, was daar nog geen saak aangemeld nie. Die plaaslike owerhede het vir ’n maand lank nie geweet John is vermis nie,” het sy gesê. “Dit was baie oorweldigend en frustrerend en ek het my bes gedoen. Maar ek het besluit om vir tyd en wyl in Bali te bly, wat deesdae my tuiste is.”

Jody het die afgelope week in ’n e-pos gesê dat die polisie in Viëtnam al haar besonderhede het. “Ek het niks om weg te steek nie,” het sy gesê. Sy het ook beklemtoon dat sy nog nooit vir Mushfiq ontmoet het nie en hom van geen kant af ken nie.

Santjie, wat hoofsaaklik in kontak is met die owerhede wat John se verdwyning ondersoek, sê sy wag dat “alles op die regte vlakke en tye gebeur”.

Sy beklemtoon dat gerugte wat aanvoer dat sy gesê het John was depressief, verkeerd is.

“Ek het vir John gevra of hy 'down in the dumps' is, en hy het nee geantwoord,” vertel Santjie oor een van hul laaste gesprekke.

Mushfiq se familie is tans in Viëtnam om te help met die ondersoek na Mushfiq, berig Netwerk24.

Huisgenoot het hulle vir kommentaar genader, maar hulle het nie reageer nie.