Daar lê ’n lang pad van genesing voor vir die Dazel-gesin van die Wes-Rand nadat Martin Dazel (34) en sy seun, Francois Dazel (12), vir byna twee weke lank vermis was nadat hulle op 7 Januarie in Durban, KwaZulu-Natal, ’n bus verpas het.

Die Pink Ladies-organisasie het die goeie nuus Dinsdagaand op hul Facebookblad gedeel.

"Martin en Francois Dazel is veilig en ongedeerd gevind. Laat die genesing begin," het Dessie Rechner, direkteur van die Pink Ladies, op die Facebookblad geskryf.

Kapt. Appel Ernst van die Randfontein-polisiekantoor het Woensdagoggend aan Huisgenoot bevestig die vermiste pa en seun is in Durban opgespoor.

Maar Appel kon nie oor die omstandighede van die opsporing uitbrei nie.

Martin en sy seun, Francois, was veronderstel om op 7 Januarie 2018 'n bus vanaf Durban na Johannesburg te haal.

Die pa en seun het nooit by hul bestemming in Johannesburg opgedaag nie en was sedertdien vermis. Hul familie het in hierdie tydperk niks van Martin of die vermiste seun gehoor nie.

Vermiste pa, Martin en seun, Francois veilig terug by die huis nadat hulle byna twee weke lank vermis was. Foto: Facebook.

"Dit is wonderlike nuus dat hulle veilig gevind is. Hulle het gister veilig by hulle huis aangekom," het Dessie bevestig.

Omdat daar ’n kind in die vermiste saak betrokke is, sal die saak steeds ondersoek word.

Dessie sê ook daar sal berading aan die familie verskaf word.