“Speurders en die anti-bende-eenheid asook die SAPD se misdaaddeskundiges fynkam die toneel vir bewyse ná die skietvoorval wat op die hoek van Cavalcade en Thornhill in Groenpunt Dinsdagoggend om 07:35 plaasgevind het,” bevestig sersant Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder.

“’n 50-jarige man is in die kop geskiet in sy voertuig deur ’n ongeïdentifiseerde verdagte wat nog nie in hegtenis geneem is nie,” sê sy.

Die verdagte het van die toneel in ’n metaalgrys VW Polo gevlug.

“Die slagoffer se agtjarige seun is ook tydens die voorval beseer en is in die hospitaal opgeneem,” sê Noloyiso.

Reddam House in Groenpunt, Kaapstad. Foto: Google Maps

Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek en enigeen met inligting kan Crime Stop by 08600 10111 skakel.

Die voorval het by Reddam House-skool plaasvind, toe Pete glo sy seun by die skool afgelaai het. Die skool is intussen afgeblokkeer.

Foto’s van die Pete se swart voertuig met ’n enkele koeëlgat in die venster van die bestuurderskant doen reeds die rondes in die sosiale media.

Pete was bekend vir die verskeie hoë-profiel bendelede en misdadigers wat hy verteenwoordig het. Hy het onder meer die beweerde 28-bendebaas Ralph Stanfield verteenwoordig.

Koeëlgate in die skuifdeure by Kaapstad Internasionale lughawe ná ’n mislukte sluipmoordaanval die vermeende bendebaas Jerome "Donkie" Booysen in Oktober verlede jaar. Foto: Gallo Images

Hy het ook die vermeende bendebaas Jerome "Donkie" Booysen verteenwoordig.

Jason Rohde by die besoek ter plaatse by die spoglandgoed Spier naby Stellenbosch. Foto: Gys Visser

Pete was ook ’n regsverteenwoordiger van die voormalige Sotheby's-grootbaas Jason Rohde, wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou, Susan, vermoor het.