Maar Tracey Burrows (56) het nooit op 5 Februarie 2017 by Julie in Merseyside in Engeland gaan inloer vir een van vyf noodsaaklike versorgersbesoeke per dag nie.

Vier dae later het Julie — volgens getuies so hulpeloos soos 'n baba sedert haar beroerte in 2013 — sonder medikasie, kos of vloeistof binne haar bereik gesterf.

Burrows, die versorger wat gereeld in die verlede na Julie omgesien het, is Dinsdag in die Liverpoolse hof tot drie jaar tronkstraf gevonnis deur regter Neil Flewitt. Hy het bevind haar "growwe nalatigheid" het 'n reeks ononderbroke gevolge aan die gang gesit wat regstreeks Julie se lewe gekos het.

"Jy kan jou net indink die angs wat Julie Cleworth moes ervaar toe sy hulpeloos in haar bed lê, met die besef sy is alleen gelaat en gelos om 'n hongerdood te sterf," het die regter gesê.

Hoe het dit gebeur?

Burrows het ’n leuen vertel wat die wiele aan die rol gesit het wat daartoe sou lei dat tuisbesoeke aan Julie herroep is. Sy het haar werkgewer, Unite Healthcare, gekontak en beweer Julie is nie tuis nie en dat sy elke vertrek in haar huis deurgeloop het op soek na haar.

Die versorgingskedule is in reaksie op dié inligting gekanselleer.

Maar Burrows het nie eens die huis binnegegaan nie. Inteendeel, sy het in haar motor bly sit en gesien die huis is donker. Toe het sy eerder vir die afgesproke 30 minute by haar eie ma daar naby gaan inloer.

Sy het later weer na Julie se huis teruggekeer, maar toe dit nog steeds donker was, het sy aangery.

Tydens haar verhoor is die moontlikheid van 'n misverstand geopper: dat Julie weer in die hospitaal opgeneem is omdat haar elektroniese bed tuis probleme gegee het.

Maar die bed is intussen deur 'n lid van die ambulanspersoneel herstel nadat hulle haar van die hospitaal af tuis besorg het 'n paar dae vóór Burrows haar moes besoek. Hulle het Julie, wat aansienlik oorgewig was, op die bed in haar slaapkamer tuisgemaak.

Burrows was gewoond daaraan om Julie in die voorkamer aan te tref. Maar indien sy, soos wat sy beweer het, deur elke vertrek in die huis na Julie gesoek het, sou sy haar tog in haar slaapkamer aangetref het.

Tracey Burrows. Foto: Facebook
Tracey Burrows. Foto: Facebook

Burrows ontken die klag van manslag vanweë growwe nalatigheid en hou vol sy het nie 'n aandeel in Julie se dood gehad nie. Haar regsverteenwoordiger, Nigel Power, het haar as iemand beskryf wat haar pasiënte met uitsonderlike sorg behandel en dat die ma van drie "absoluut onselfsugtig is in bykans elke aspek van haar lewe".

Bronne: sthelensstar.co.uk, bbc.com, mirror.co.uk, independent.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.