Marilyn Hartman, Amerika se sogenaamde “serial sto
Marilyn Hartman, Amerika se sogenaamde “serial stowaway”, is in Chicago in hegtenis geneem. Foto: Splashnews/Greatstock

Sy is al meer as 20 keer in hegtenis geneem, word in lughawens reg oor Amerika verbied en moes al ’n enkelmonitor dra om haar streke te beperk – maar dit lyk of niks haar kan stuit nie.

Want Marilyn Hartman het al na talle veraf bestemmings rondgerits – waaronder Parys en Kopenhagen – sonder om ’n sent vir haar vlug op te dok.

Haar modus operandi behels om sonder ’n kaartjie, paspoort of instapkaart op vliegtuie te sluip en te maak asof sy ander groepe passasiers vergesel. En omdat sy soos ’n skadelose ouma lyk, het sy dit reggekry om die afgelope twee dekades onder die radar te vlieg.

Marilyn (69) het al minstens 30 keer die Amerikaanse vervoerveiligheidsowerheid geflous en dit eenkeer tot in Londen gemaak voor sy deur die Britse immigrasieowerhede teruggestuur is toe sy nie met haar aankoms haar paspoort kon wys nie.

Sy was onlangs weer in die nuus toe sy betrap is waar sy aan boord van ’n vliegtuig probeer kom by die O’Hare-lughawe in Chicago – al het ’n hofbevel haar toe al belet om haar voet op dié lughawe te sit. En nou is die vrou wat al jare lank gratis rondvlieg opnuut in die moeilikheid.

Marilyn is in die Amerikaanse media as die “serial stowaway” gedoop nadat haar manewales in 2014 die eerste keer bekendgeword het.

Sy het toe ’n soort sterstatus bereik vir haar vermoë om haar teen die stelsel te verset. Lugvaartowerhede dink egter nie dis ’n grap nie.

Die feit dat sy onwettig op soveel vliegtuie kon klim en reis, het ook swakpunte in lugrederye se sekuriteit uitgewys, en dit het groot kommer veroorsaak in Amerika, waar lughawesekuriteit sedert die terreuraanvalle van 11 September 2001 in die kollig is.

Tog het Marilyn se gedrag dalk nie noodwendig iets te doen met swerflus nie; dit hou eerder verband met haar geestesgesondheid. Haar regspan skets ’n prentjie van ’n versteurde vrou wat nie verdien om agter tralies te wees nie.

Sy is ’n hawelose alleenloper wat nie haar borgtog van R100 000 kan bekostig nie en waarskynlik in aanhouding sal bly tot haar hofsaak later vanjaar begin. Maar party kenners sê sy het mediese hulp nodig; nie tronkstraf nie.

“Die strafregstelsel is nie goed met hul hantering van minder ernstige geestesprobleme nie,” sê Robert Talbot, ’n regsdosent aan die Universiteit van San Francisco.

“Dis op misdaad en straf ingestel.” En al moet Marilyn se vlerkies geknip word, beteken dit volgens kenners soos hy nie sy hoort agter tralies nie.

Marilyn het die eerste keer die nuus gehaal toe sy op 15 Februarie 2014 by die lughawe in San Francisco in hegtenis geneem is nadat sy sonder ’n kaartjie ’n vliegtuig na Hawaii gehaal het. “Ek is net deurgelaat,” het sy verduidelik.

Sy is aangekeer toe ’n ander passasier uitgewys het sy sit op hul sitplek, maar sy’s vrygelaat nadat die polisie haar ondervra het. Drie dae later is sy by dieselfde lughawe in hegtenis geneem toe sy deur ’n sekuriteitshek probeer glip het.

Marilyn het die Amerikaanse vervoerowerhede ­ al ­
Marilyn het die Amerikaanse vervoerowerhede ­al ­minstens 30 keer geflous. Foto: Gallo Images/Alamy

Twee dae later was sy terug by die lughawe en is sy weer in hegtenis geneem nadat sy met ’n weggegooide instapkaart op ’n vliegtuig probeer klim het. Maar dié voorvalle vertel net ’n deel van haar storie, want Marilyn sê sy het 12 jaar lank maklik daarmee weggekom voor die owerhede snuf in die neus gekry het.

“Die eerste keer toe ek deurgeglip het, het ek Kopenhagen toe gevlieg,” sê sy. “Die tweede keer na Parys.”

Hoe meer sy daarmee weggekom het, hoe groter het die risiko’s geword wat sy geneem het. Sy is in 2015 in Florida van bedrog en onregmatige betreding aangekla nadat sy onder iemand anders se naam in ’n hotel ingeteken het.

Maar elke keer wanneer sy in hegtenis geneem is, is sy met ’n waarskuwing laat gaan en na ’n skuiling gestuur. Marilyn het al dikwels beweer sy het nie familie nie, maar ’n ondersoek deur die San Francisco Magazine het onthul sy het in die suide van Chicago grootgeword.

Sy het in 1969 aan ’n nywerheidskool in die stad gematrikuleer, en volgens haar jaarboek was sy ’n lid van die National Honor Society (amper soos akademiese Toastmasters vir skoolkinders), ’n koorlid en ’n klasmentor.

Sy het drie broers, Ken, Randy en Jim Stall, maar hulle het haar in 1970 laas gesien. “Sy is al dekades lank nie meer deel van hierdie mense se lewe nie. En selfs destyds was daar nie baie interaksie nie,” sê Ken. “Sy is amper soos ’n spook.”

Marilyn, ’n voormalige regsassistent, het haar van in 1985 van Stall na Hartman verander, maar dis nie duidelik hoekom nie. Sy het vir die grootste deel van haar volwasse lewe in vroueskuilings en motelle gebly en op straat geslaap.

Sy beweer sy is deur die Amerikaanse speurdiens, die FBI, uit haar huis gedwing weens ’n sameswering teen haar. Dít, sê sy, veroorsaak dikwels ’n veg-of-vlug-reaksie in haar.

“Ek het hierdie behoefte om net op ’n vliegtuig te klim en weg te gaan,” sê sy.

Ná nog ’n inhegtenisneming in 2015 – dié keer in Florida – is Marilyn onbevoeg verklaar om verhoor te word deur ’n span sielkundiges wat bipolêre gemoedsteuring by haar gediagnoseer het. Maar in ’n onlangse onderhoud het sy haar beweerde geestesprobleme self afgemaak.

“Ek weet hulle benadruk die geestesongesteldheid. Wetstoepassers wil dit graag so hê, maar nee, dit gaan heel goed met my.” Maar hoe kon ’n pensioentrekker lugrederybeamptes dan só lank flous, al is sy al talle kere in hegtenis geneem en het die polisie verskeie foto’s van haar op rekord?

Haar sukses lê in haar vermoë om die owerhede te ontduik deur in ’n skare te verdwyn, meen mense wat haar verhaal gevolg het.

Dit help ook dat sy lyk soos ’n gewone tannie wat nie ’n vlieg kwaad sal aandoen nie. Sy glip deur kontrolepunte deur agter lughawepersoneel te stap, en sy waag haar kans wanneer mense se aandag afgelei is.

Mense by die lughawe.
Die pensioentrekker se stralerjakkery het opnuut die kollig op lughawe­veiligheid geplaas. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy klim aan boord van vliegtuie met instapkaarte wat reeds gebruik of weggegooi is. “Die vindingrykheid van haar modus operandi lê in die eenvoud daarvan,” sê die Amerikaanse lugvaartkenner Jeff Price.

“Dié ongesofistikeerde soort planne is dikwels die suksesvolste.” Jeff, die voormalige hoof van sekuriteit by die Denverlughawe, het ’n beroep op die owerheid gedoen om Marilyn se geval te gebruik om nuwe sekuriteitsagente op te lei.

“Hulle behoort ’n kurrikulum te ontwerp wat gegrond is op hoe sy dit kon regkry om verby sekuriteit te glip.”

Tot haar onlangse inhegtenisneming het sy gewoon in ’n behuisingsfasiliteit waar sy elektronies met ’n enkelmonitor dopgehou is. Maar dit lyk asof die geduld van die Amerikaanse regstelsel – wat eers huiwerig was om ’n vrou tronk toe te stuur as haar obsessie met vlieg dalk ’n geestesiekte was – eindelik opgeraak het.

Die regter wat haar jongste saak hanteer, het dit duidelik gemaak sy kan verwag om tronkstraf te kry. Maar haar prokureur, Parle Roe-Taylor, hou vol Marilyn is nie ’n gevaar vir ander nie en glo haar gewoontes moet met terapie behandel word eerder as dat sy gestraf word. Want net omdat sy nie meer haar vlerke mag sprei nie, meen haar prokureur, beteken nie sy hoort op hok nie.

BRONNE: DAILYMAIL.COM, CNN.COM, CHICAGOCBSLOCAL.COM, SFGATE.COM, NYPOST.COM, NYTIMES
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.