Nie eens die verbande om haar linkerarm kan klein Nicela Naudé keer om soos ’n warrelwind deur haar ouerhuis te trek nie.

Skaars twee dae ná die soveelste operasie in haar kort lewetjie – dié keer om van die abnormale groeisels aan haar arm weg te sny – is die vierjarige woelwater weer haar energieke, bekkige self.

“Ek is wild!” laat sy hoor. Die krulkoppie wat met die uiters skaars Klippel-Trénaunay-sindroom gebore is, loop duidelik oor van selfvertroue danksy die toegewyde sorg en liefde van haar aanneemouers, Jacques en Madelaine Naudé.

Net een uit elke 100 000 mense word wêreldwyd met dié sindroom gebore. Dit het ’n invloed op die vorming van bloed- en limfvate en kan groeisels soos dié aan Nicela se lyfie veroorsaak.

Verwerp deur haar ma

Haar biologiese ma wou nie die misvormde baba hê nie. Enkele ure ná haar geboorte op 16 Maart 2014 het haar ma haar in ’n Kaapse hospitaal agtergelaat. Personeellede moes haar later op Facebook opspoor sodat sy die nodige dokumente kon onderteken om haar kind te laat aanneem.

Maar nie een van 80 potensiële aanneemouers op ’n waglys het kans gesien vir Nicela en al die operasies wat sy sou moes ondergaan om haar lyfie so na moontlik aan “normaal” te kry nie.

Jacques (45) en Madelaine (46) het geen plan gehad om ’n kind aan te neem nie toe hulle die drie weke oue Nicela toevallig sien in die huis van ’n vriendin wat haar tydelik as noodma versorg het.

“Sy het dadelik in ons hart ingekruip,” onthou Jacques, ’n polisieman van Bothasig in Kaapstad.

Ons wonderlike families het Nikki met ope arms aanvaar. Sy is soos ons bloeddogter.

Halfpad terug huis toe het hulle die gevoel gekry hulle het iets agtergelaat. Dit was klein Nicela, ’n naam wat hy vir haar uitgedink het – net so sonderling soos sy.

“Ons wonderlike families het Nikki met ope arms aanvaar. Sy is soos ons bloeddogter,” sê Jacques van sy enigste kind.

Madelaine, wat as polisieklerk werk, het ’n 23-jarige seun, Rick, uit ’n vorige huwelik. Hy is ’n trotse ouboet wat sy kleinsus gereeld see toe neem.

“Sy is sonder liefde gebore; daarom gooi ons haar nou daarmee toe,” sê Jacques. En Madelaine voeg by: “Elke oggend by ons word sy met ’n glimlag wakker.”

Oral in haar ouerhuis staan haar bynaam opgeplak: prinses Nicela.

“Waar is jou kroon?” wil ek weet.

“Ek het meer as een,” vertel die klein parmant.

“En ek het hulle almal veilig weggesteek.”

Pa Jacques moet maar oë toeknyp, want pienk is dié kleur in hul huis. Selfs ’n stoeltjie met die Blou Bulle se embleem daarop is in die kleinding se gunstelingkleur.

Van sport kyk moet hy partykeer maar vergeet wanneer Nicela na die musiekkanaal wil kyk.

Skielik weergalm haar stemmetjie hard oor die luidspreker van haar karaokemasjien. Sy maak haar eie brabbeltaallirieke op vir die poptreffers wat speel.

En dan begin sy Twinkle, Twinkle, Little Star oor haar mikrofoontjie sing.

Haar ander gunstelingspeelding, haar karaokemasjien. Foto: Corrie Hansen

“Sy hou ons op ons tone,” lag Madelaine.

’n Geliefkoosde speelding is ’n bloedrooi viertrekmotortjie, wat selfs met ’n radio toegerus is, waarmee sy op die plaveisel voor die huis rondjaag.

Talle operasies

“Stadig, stadig, jou arm,” keer Jacques, want die 35 cm lange operasiesnit aan haar linkerarm is nog rou. Met net haar regterarm draai Nicela die stuurwiel van haar vuurwa om in alle rigtings te ry. Sy skater van plesier.

Prinses Nicela het ook ’n magdom onderdane aanlyn. Onder haar meer as 12 000 volgers op haar Facebookblad, “Baby Nicela Fund”, is buitelanders soos Claire McGeer van Wallis, wat in die Kerstyd foto’s van Nikki op die Milnertonstrand kom neem het.

Die kleinding is ’n regte klein modelletjie. Waar jy kyk, is foto’s van haar saam met haar ouers en ouboet Rick, ’n kliëntekonsultant.

“Toe ons haar oplaai, het sy geen emosie gewys nie,” vertel Madelaine.

Onder haar hempie is die groeisel wat met haar geboorte so groot soos ’n eetbord was nou veel kleiner.

“Die verpleegsters in die hospitaal het vertel sy het heeltemal ophou huil, asof sy moed opgegee het dat iemand haar ooit gaan kom haal.”

Nicela weet sy is aangeneem en verduidelik: “Mamma het my by die hospitaal kom haal.”

Onder haar hempie is die groeisel wat met haar geboorte so groot soos ’n eetbord was nou veel kleiner. Jacques wys op sy selfoon ’n homp van sowat 1 kg wat in 2015 uit die groeisel gesny is. Met haar geboorte was haar linkerhand ook baie groter as die regterhand.

Sy het die eerste drie weke gesukkel om asem te kry weens ’n knop wat haar lugweg versper het, maar het dié probleem gou ontgroei.

In Mei 2016 het Nicela (toe 2) ’n operasie van drie uur lank aan vier vingers ondergaan om hulle kleiner te maak sodat hulle meer soos dié aan die regterhand sou lyk.

Dit was nie nodig om aan die pinkie te laat sny nie. Aan elk van die ander vier vingers was 20 steke.

Vier maande later het sy haar linkerhand vasgeknyp terwyl sy met klei gespeel het. Die vingers met steke het oopgebars, die hand het begin blou raak en haar ringvinger swart.

“Ons het ons doodgeskrik,” vertel Jacques.

Prof. Frank R. Graewe, rekonstruktiewe chirurg van die fakulteit geneeskunde en gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch, wat haar al tevore behandel het, het die operasie in die Louis Leipoldt-hospitaal in Bellville gelei om die gestolde bloed uit die vingers te verwyder, hulle skoon te maak en weer steke in te sit.

Madelaine moes elke aand die verbande omruil.

’n Vrou in Amerika wat op Facebook daarvan gelees het, het medisinale heuningsalf gestuur om die vingers te help genees.

Nicela kan selfs nou al met daardie vingers legkaart bou en munte in haar spaarvarkie gooi. Maar sy gebruik instinktief meestal haar linkerarm.

Nicela is gebore met ’n skaars gewas wat nou stuk-stuk weggesny word. Ook haar handjie moes geopereer word. Foto: Corrie Hansen

Sy gaan na ’n Engelse privaat skool waar die klasse klein is en sy nie so maklik sal seerkry nie, reken haar ouers. Sy is met nog ’n mediese toestand, plagiosefalie, oftewel skeefhoofdigheid, gebore.

Weens die groeisels aan haar lyf en omdat sy twee weke laat gebore is, was daar te min ruimte vir haar in die baarmoeder en dit het druk aan die regterkant van haar kop uitgeoefen.

Die pad vorentoe

As baba moes Nicela ’n paar maande lank 23 uur per dag ’n ortopediese helm dra om haar kop normaal te help groei. Met haar krullebol is daar geen teken meer van enige skeefhoofdigheid nie.

“Ons verwag sy sal die res van haar lewe plastiese chirurgie moet ondergaan,” vertel Madelaine. Hul mediese skema dek nie operasies wat as kosmeties beskou word nie; daarom het hulle ’n fonds gestig om hulle die mediese koste te help dek.

Voor die einde van die jaar sal Frank en sy span ’n operasie aan Nicela se bors uitvoer waar weefsel voorheen weggesny is om te probeer verseker dat sy as tiener normaal sal ontwikkel.

’n Deel van ’n gewas oor haar ribbes aan die regterkant moet ook nog weggesny word, en daar moet weer aan die vingers aan haar linkerhand gewerk word.

Al het operasies en doktersbesoeke al deel van haar kinderlewe geword, kla sy nie oor pyn nie. Sedert haar jongste operasie het sy nog nie een keer pynpille gevra nie.

“Sy is ’n sterk meisie,” spog Jacques met sy dogter. Maar die sonderlinge keer dat sy wel oor ’n eina huil, bars die taai polisieman sommer self in trane uit.

“Dan voel dit of ek seerkry . . . ”

Foto's: Corrie Hansen