Vandag is Kelvin van Baalen (22) al presies 388 dae in die hoësorgeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Hy steeds aan lewensondersteunende masjiene gekoppel; en dokters kan ná langer as een jaar steeds nie sê wanneer Kelvin weer die buitekant van die hospitaal sal sien nie.

“Dit is enige ouer se grootste nagmerrie; en sekerlik ook die mees verwoestende tragedie wat ’n ouer kan oorkom,” sê Leigh van Baalen (47), sy ma, aan Huisgenoot.

Kelvin (links) saam met een van sy valskerm­sweefv
Kelvin (links) saam met een van sy valskerm­sweefvriende, Mark Aldridge. Foto: Verskaf

Kelvin het op 29 Junie verlede jaar – op die laaste dag van die Barbertonse Valskermsweef-ope – derde- en vierdegraadse brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen toe hy in kragdrade vasgesweef het.

Die jong swewer het glo oomblikke voor die voorval die kragdrade opgemerk; paniekerig geraak en toe beheer verloor.

Die kragstroom wat deur sy liggaam geskiet het, het die klere van sy liggaam afgebrand en erge skade aan sy ingewande aangerig.

In September verlede jaar, elf weke na die ongeluk, het Leigh nog aan Huisgenoot gesê: “Wat my die meeste onderkry, is die onsekerheid oor wat die toekoms inhou. Ek is ’n ma, ek wil my kind by my hê, ongeag hoe hy óf die toekoms lyk.”

Maar selfs tóé het sy nie besef nog so lang pad lê voor nie, sê Leigh.

“Dis ontsettend moeilik, natuurlik is dit. ’n Mens kyk nou terug oor die afgelope jaar en jy weet nie hoe jy daardeur gekom het nie. Ek het nie ’n idee nie. Ons het die pad tree vir tree gestap; elke dag hoopvol dat Kelvin sal herstel.”

Hy het in ­Junie vanjaar ernstige brandwonde oor t
Hy het in ­Junie vanjaar ernstige brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen nadat hy tydens ’n valskerm­sweefkompetisie naby ­Barberton in kragdrade vasgevlieg het.

Kelvin is steeds in die hospitaal omdat sy organe glo nie normaal funksioneer nie. Hy het al orgaanversaking gehad; nierdialise ontvang en moes al vyf keer bygebring word nadat sy hart gaan staan het. Leigh sê hy sukkel ook met infeksie wat nie wil opklaar nie.

“Ons is nie meer in die stadium waar ons om sy lewe veg nie – ons baklei nou net vir die herstel. Dis ’n ongelooflike lang en ontstellende pad, maar ’n mens kan nie ongeduldig word nie.”

Hy het al meer as 17 veloorplantings ondergaan, maar dié operasies was glo elkeen ’n sukes. Wanneer Kelvin wel sterk genoeg is om ontslaan te word, sal ’n lang en uitmergelende rehabilitasieproses voorlê, verduidelik Leigh.

“Hy het baie erge skade aan sy spiere opgedoen – veral in sy een kuit en in die heup. Hy sukkel om ’n selfoon of ’n boek vas te hou omdat hy baie bewe. Hy praat ook weer en lyk baie beter as voorheen. Al hierdie dinge maak nie saak nie; solank ek net my seun kan huis toe vat.”

Leigh van Baalen sê dit breek haar hart om te sien
Leigh van Baalen sê dit breek haar hart om te sien hoeveel seer haar kind het. Foto: Onkgopotse Koloti

Kelvin sou verlede jaar ’n B.A.-graad met sielkunde as hoofvak aan die Universiteit van Witwatersrand voltooi het. Sy meisie, Robyn, ’n homeopaatstudent, is ook nog al die pad aan haar kêrel se sy, vertel Leigh.

“Dis eintlik ’n wonderlike romanse. Hulle het mekaar maar ses weke voor die ongeluk ontmoet. En nou, met Kelvin al langer as ’n jaar in die hospitaal, kom kuier sy nog elke week saam met my. Sy was elke tree van die pad net daar langs hom.”

En hoewel die pad vorentoe steeds duister en vol onsekerhede is, glo Leigh steeds vas dat Kelvin weer sal huis toe gaan – en ja, dalk selfs weer sal valskermsweef ook. Dis nou natuurlik as hy sou wou . . .

“’n Ma sal enigiets vir haar kind doen; ek sal hom in alles ondersteun. Solank hy net deurdruk, beter word en kan huis toe kom. Dis al waarvoor ons kan hoop en bid.”