Taylor Murphy (24) van Seattle in die Amerikaanse deelstaat Washington het die skaal op net onder 130 kg getrek toe glioblastoom, ’n ongeneeslike breinkanker, by haar man, Ricky Carrington (29), gediagnoseer word en hulle hoor hy het 15 maande om te leef.  

Nadat sy kos haar lewe lank as “emosionele kruk” gebruik het, het Taylor geweet sy moet haar lyf regruk om die meeste te put uit die tyd wat sy en Ricky oor het. 

Sy het die Starbucks-koffie, wegneemkos en sjokoladepeuselhappies gelos en minder begin eet nadat sy verlede jaar ’n maagomleiding ondergaan het. 

Danksy ’n gesonde eetplan en daaglikse oefening saam met haar man het Taylor ’n indrukwekkende 64 kg afgeskud. 

Nou vergoed sy vir verlore tyd deur die heel eerste keer ’n tweestuk op die strand te dra en saam met haar man goed te doen soos temaparke besoek. 

Taylor, ’n kleinhandelwinkelbestuurder, sê: “Die diagnose was absoluut verpletterend. Ek het baie van my lewe vermors deur te eet en te slaap en nie by my man te wees nie, maar nou moet ons albei aanhou baklei. 

“Die eerste paar maande was baie verlammend, maar die werklikheid het ingesink en ek het besluit om die beste ervarings moontlik te hê in die tyd wat ons oor het.” 

Sy vertel: “Ná ons troue het ek gedink oor wat ek kon doen om ter wille van hom gelukkig en gesond te raak. Ek het chirurgie ondergaan om gewig te verloor. Baie van my sukses met gewigsverlies het neergekom op die wete dat ek nie kan misluk nie. Ek doen dit nie net vir myself nie; ek doen dit ook vir my man. Mislukking was nie ’n opsie nie. "

“Ek het nou so baie energie. Voorheen het ek altyd by die huis gekom en reguit bed toe gegaan nadat ek geëet het. Nou is ek nie so moeg nie. Om soveel meer energie te hê het ons huwelik baie sterker gemaak. Ek voel my gewig en gemoedstemming het hom voorheen afgebreek."

“Onlangs op die strand het ek ’n tweestuk gedra en nie omgegee wat enigiemand dink nie. Voorheen het ek nooit gedink ek sou dit ooit kon doen nie. Dit voel nie meer of ek beoordeel word nie. Voorheen was ek bang en mistroostig en het ek gedurig weggesteek wie ek is."

“Nou maak ons die meeste van ons tyd saam – met alles van besoeke aan Disneyland en Hawaii tot staptogte, strandbesoeke, besoeke aan die mark en dinge waarvoor ek nie voorheen die energie sou gehad het nie.”

Taylor het vetsugtig geraak omdat sy verkeerd geëet het. Sy het meestal aan wegneemkos en nagereg weggelê en soet koeldranke gedrink. 

Sy voeg by: “Ek was altyd oorgewig. Kleintyd het ek swak koskeuses gemaak en halfmas geoefen. Voorheen was my geestestoestand ook nie van die beste nie. Ek was die gesig van die maatskappy en het net gewerk, geëet en geslaap."

“My reaksies en emosies was altyd op kos ingestel – ongeag of ek hartseer of gelukkig was.”

Maar ná Ricky se diagnose in 2014 het sy geweet sy moet fiks genoeg wees om hom te versorg en die res van hul lewe so gelukkig moontlik te maak. 

Taylor sê: “Met die kanker weet ons ongelukkig daar sal ’n punt wees waar ek hom sal moet versorg. In daardie stadium kon ek myself nie eens geestelik of liggaamlik versorg nie. Ek het geweet ek kon nie meer my emosies weg-eet nie. Kos sou nie help nie. Toe besluit ek om my lewe te verander.”

Sy is Mexiko toe vir die verslankingsoperasie. Dit, ’n gesonde eetplan en gereelde oefening het haar liggaam omskep.

Taylor vertel vandat sy 65 kg weeg, het haar ingesteldheid verander en kyk kollegas en vriende dikwels ’n tweede keer wanneer hulle haar sien. 

“Voorheen het ek party dae in die agterste kantoor weggekruip, want mense is veroordelend. Ek het nie goed gevoel oor myself nie, maar nou voel ek wonderlik. Nou herken mense my nie wanneer ek instap by winkels wat ek lank laas besoek het nie. Dit het een meisie 15 sekondes geneem om te besef wie ek is."

“Dit sê baie oor hoe baie ek nou lyk. Ek kruip nie meer soos voorheen agter opvallende, kleurryke klere en my hare weg nie. Ek trek nou om die regte redes aandag.”

Taylor wil nou met mededingende liggaamsbou begin. 

“My gewigsverlies het wonderlike leefstylveranderings teweeggebring en stokperdjies wat nie meer om drink en eet draai nie.

Voorheen was ek groot, maar nou het ek sterk bobene en ’n slanke, gespierde bou. Ek dra kort tops in die openbaar en kry baie komplimente."

“Ek het selfs gehoor ek lyk atleties; iets wat ek nooit gedink het sou gebeur nie.” 

Taylor sê haar man was die dryfveer agter die gewigsverlies, maar die sosiale media het ook haar verantwoordbaar help hou. 

Sy sê: “Ricky is baie ondersteunend. Terwyl party lewensmaats kan sukkel as hul maat baie gewig verloor, is myne ongelooflik. 

“Hy komplimenteer my lyf, sê ek is pragtig en hou van my selfvertroue. Hy kan sien hoe gelukkig ek is en hou daarvan om komplimente te hoor oor hoe skraal ek nou is."

“Ek het nooit gedink ek sou so selfversekerd en gelukkig wees met waar ek in my lewe is nie. Ek is geskok en baie trots.”