Marietjie (34) is aanvanklik van aanranding sonder die doel om te vermoor aangekla nadat haar 17-jarige stiefdogter, Mundolene, in Oktober 2016 tydens 'n onderonsie tussen hulle twee gesterf het. Dit het op die eerste dag van wat ’n idilliese vakansie in Mauritius moes wees, gebeur.

Woensdag is die oorspronklike klag verander na 'n mindere klag van aanranding.

Die Le Defi Media Group, 'n Mauritius-gebaseerde mediahuis, het die onderhoud met Marietjie opgeneem.

In die video sê ’n emosionele Marietjie in effens gebroke Engels sy het nooit bedoel vir dit wat gebeur het nie.

Huisgenoot het Maandag bekend gemaak Marietjie het ’n sug van verligting geslaak toe die hof Woensdag die “meer ernstige klag” van aanranding sonder die doel om te moor teen haar ter syde gestel het.

“Wat gebeur het was ’n fout," sê Marietjie.

“In ’n oomblik dat jy seergemaak en kwaad is, doen jy goed wat jy nie bedoel om te doen nie. Dit was nooit my bedoeling om Mundolene te slaan nie, maar in ’n oomblik van woede het dit gebeur, sonder om te dink.

“Ek het hulle (die familie) om vergifnis gevra. Ek het ook ’n 11-jarige seun by die huis. Sy pa werk nie in Suid-Afrika nie. Ons betaal ’n au pair om na hom te kyk. Daar is nie ander familie wat dit kan doen nie.

“Ek wil regtig huis toe gaan om by my seun te wees. Ek is baie lief vir my familie en hou baie kontak met hulle. Sodra ek weer terug is by die gevangenis, sal ek hulle bel en met hulle praat.”

Skuldgevoelens

’n Joernalis vra haar dan: “Maar het jy oor die jare met skuldgevoelens geworstel weens die verlies van jou dogter?”

Marietjie antwoord dan nog meer emosioneel: “Elke dag. Ek was vir haar lief soos my eie dogter, al was sy nie, sy was soos my eie dogter.”

Sy begin dan huil: “Vir my was dit ook soos om ’n kind te verloor. Dit was ook vir my moeilik."

Mundolene se pa

Hulle vra haar dan uit oor haar man, Mike (47), Mundolene se pa met wie sy nog wettig getroud is.

“Hy is elke dag daar vir my. Hy ondersteun my en weet ek is nie skuldig nie. Ek het haar nie vermoor nie. Hy ondersteun my en help my. Hy het nooit sy rug op my gedraai nie."

Die onderonsie

Marietjie en Mundolene, wat glo nooit goed klaargekom het nie, het die dag weer oor ’n onbenullige kwessie gestry by die swembad van die luukse Hotel Riu.

Dit is toe dat Marietjie vir Mundolene, wat op pad terug na die hotelkamer was, glo in die gesig met die vuis bydam. Mundolene is kort daarna by die hotel dood. Die koptrauma het glo ’n ligte beroerte en ’n vorm van bloeding op haar brein veroorsaak.

Zaredhin Jaunbacchus, Marietjie se regsverteenwoordiger, het aan Huisgenoot bevestig Marietjie is wel aan ’n klag van aanranding (wounds and blows) skuldig bevind en sal Maandag op dié klag gevonnis word.

“Marietjie het reeds 17 maande agter tralies deurgebring. Ek glo dit sal Maandag in ag geneem word,” het Zaredhin gesê. Hy het bevestig hy glo sy sal binnekort huis toe kom.