Dit het in ’n woonbuurt in die stad Valladolid in die sentrale Spaanse streek Kastilië en León gebeur en is wyd in die sosiale media en boodskapdienste gedeel.

In die video vlieg die hommeltuig deur die strate van die buurt met ’n rol toiletpapier wat daaraan hang.

’n Man wat die vreemde toneel opneem, sê: “Sê hallo, op en af om ja te sê,” en dan kan gesien word hoe die hommeltuig op en af beweeg.

Die plaaslike media het berig die toiletpapier is na ’n inwoner in die buurt geneem wat dit nodig gehad het. Volgens berigte is toiletpapier een van die mees gesoekte produkte in Spaanse supermarkte tydens die inperking.

Die video het meer as 318 000 trefslae gekry en het wyd kommentaar ontlok, soos ene CcssOscar wat geskryf het: “Hy moet dit (die toiletpapier) in kwarantyn plaas voor hy dit gebruik. COVID-19 sal nog op die oppervlak van die papier wees.”

Nollevanketchup het geskryf: “Haha, dit bring die beste uit in mense” en Orio_Eriole het laat hoor: “As ’n polisieman hom sien, gaan hy ’n boete kry. Jy mag ongelukkig nie hommeltuie in die stad laat vlieg nie.”

Spanje het 28 768 bevestigde gevalle van COVID-19 en 2 182 sterfgevalle.

In Kastilië en León was daar 1 744 bevestigde gevalle.