’n Inwoner van Mokopane (voorheen Potgietersrus) in Limpopo se grys huiskat, Stoffel, het ’n gewoonte wat wel, effens ongewoon is.

Hans de Waal (47), ’n ingenieur van die dorp, vertel hy het so 'n bietjie langer as ’n jaar gelede ’n hen gekry omdat hy gehoop het die haan op sy erf sal 'n bietjie minder kraai.

“Stoffel het dan soms onder die bosse gaan lê en die hoenders dopgehou. Maar hy het hulle nooit probeer vang nie,” vertel Hans.

“Een oggend hoor ek net ’n vreeslike geraas. Toe ek buite kom, sien ek die kat het die hen van haar nes af gejaag en lê op die eiers.”

Hans sê hy weet nie of dit Stoffel se vaderlike instink is en of die hen se nes net ’n lekker lêplek is nie.

“Maar hy het dit taamlik gereeld gedoen en hy lê so dat die eiers nie breek nie,” vertel Hans.  

Wanneer Stoffel die hen, gewoonlik soggens, verjaag, begin sy vreeslik kekkel en vlieg op, maar die kat steur hom min aan dié bohaai.

“Naderhand loop die hen saam met die haan weg. Hulle het al gewoond geraak aan die kat. Hy het nie ’n vreeslike jaginstink nie,” sê Hans.

Die driejarige Stoffel is ’n kruis tussen ’n vriend se huiskat en ’n vaalboskat. Die De Waal-gesin het Stoffel present gekry toe hy nog ’n babakatjie was.

Wanneer Stoffel eers sy lê gekry het, lê hy taamlik lank, vertel Hans.

“Maar ongelukkig nie lank genoeg nie en nou broei die eiers nie uit nie."

Daarom het Hans die hen se nes nou effens kleiner gemaak sodat Stoffel nie meer daar kan uitkom nie.

“Nou lê hy weer en hou hulle dop,” sê Hans.

Kyk die video hier