Een van haar eerste openbare verskynings sedert die nuus van Steinhoff se ineenstorting bekend geword het, was by die Veuve Clicquot-meesterspolobyeenkoms, wat in Maart vanjaar op die luukse Val de Vie-landgoed by die Paarl in die Wes-Kaap gehou is. 

Berdine het ontspanne gelyk terwyl sy die polo van die kantlyn af gekyk het en het rustig aan ’n sigaret geteug terwyl sy met vriende gesels het. 

Die 34-jarige is einde Julie weer gewaar - in ’n motorhandelaar se vertoonlokaal in Kaapstad. Daar het sy luidens berigte met twee mans vergader. 

Maar die eintlike verrassing was Woensdagaand toe Berdine die Tap Dogs-vertoning in die Grand-arena van die GrandWest-casino in Kaapstad bygewoon het.

Die langbeenblondine was deur ’n onbekende man vergesel en die twee het ontspanne gelyk terwyl hulle deur die skare by die vermaakkompleks gestap het. 

Voor hulle die arena binnegegaan het, het Berdine, met ’n wegneemkoffiebeker in haar hand, by die kroegtoonbank gestaan.

Ná ’n rukkie het sy haar by die vriend aangesluit en hulle het na die ingang van die arena gestap.

Berdine, wat swart kniehoogte leerstewels, ’n trui en leerbaadjie aangehad het, het ontspanne gelyk terwyl die sekuriteitsbeamptes by die deur haar handsak deursoek het. 

Die twee het toe hul sitplekke ingeneem en ontspanne gesels voor die vertoning begin het.

Later het hulle na die casino-afdeling gestap. Hulle het vir mekaar gefluister, gegiggel en ingehaak. 

Dit is onbekend of die twee romanties betrokke is. 

Vroeër vandeesmaand het Huisgenoot oor Markus (56) en Berdine se eenderse weeldemotors, die Bentley Bentayga, berig.

Die uiters luukse Bentayga kos tussen R3,5 miljoen en R4 miljoen en daar is net ’n paar van dié voertuie in Suid-Afrika. 

Markus rits in ’n swart weergawe rond, terwyl Berdine ’n blink bronskleurige model bestuur. 

Sy is die vrou met wie die voormalige uitvoerende hoof van die internasionale kleinhandelmaatskappy glo ’n affair gehad het toe sy ryk verlede Desember ineenstort nadat beweerde finansiële ongerymdhede aan die lig gekom het. Steinhoff se val word as die grootste korporatiewe ineenstorting in die Suid-Afrikaanse sakegeskiedenis beskryf.

Sedert gerugte oor hul vermeende verhouding rugbaar geword het, het nie Markus of Berdine al op die bewerings van 'n buite-egtelike verhouding kommentaar gelewer nie.

Dit is nie bekend of dié twee enigsins kontak met mekaar het nie. 

Terwyl duisende beleggers geld verloor het toe die maatskappy se aandele tuimel, wil gerugte dit hê dat Markus steeds die weelderige lewe lei waaraan hy gewoond is. 

Hy en sy vrou, Ingrid, geniet glo ’n stresvrye leefstyl op die kusdorp Hermanus, waar hulle ’n vakansiehuis het. Hulle eet drie keer per week by ’n gewilde restaurant op die dorp en die inwoners laat hulle glo gewoonlik met rus. 

“Almal ken Markus en groet hom. Hy is ’n aangename man en het taamlik baie vir die mense hier beteken,” het ’n bron vroeër dié maand aan Huisgenoot gesê.

“Hy is altyd netjies en vriendelik wanneer hy hier is ten spyte van die enorme druk waaronder ek my voorstel hy is.”