Die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel

“Die volgende oomblik het hy my in sy arms gedra weg van waar ek raakgery is,” vertel Leandri (24) aan die aanlyn koerant Informanté.

Sy word in die Mediclinic Windhoek versorg vir beserings aan haar enkel, elmboog, nek, skouer en heupe. “Daar lê ’n lang pad van herstel voor,” sê sy. Dit lyk nie of sy netbal sal kan speel in die komende seisoen nie, al kry sy rehabilitasie.

Die Namibiese polisie het die voorval en feite aan Huisgenoot bevestig. “Daar is nie nuwe verwikkelinge nie. Die verdagte is borgtog geweier en sal weer op 5 Mei 2020 in die hof versky,” sê hoofspeurder Kaunapawa Shikwambi.

In die beeldmateriaal wat op 30 November om 02:49 by ’n vulstasie in Talstraat in die sakekern van Windhoek opgeneem is, kan gesien word hoe die kar ’n bakkie om en om die petrolpompe jaag. Dan spring Xico Coetzee (in die geel T-hemp) uit die bakkie met Leandri in ’n rooi T-hemp en jeans kort op sy hakke.

Die volgende oomblik beland sy onder die wiele van die ander motor, wat agteruit ook oor haar ry. ’n Onbekende man het ook die een of ander tyd uit die kar geval. Dit lyk asof hy ook raakgery en beseer is.

Die bestuurder van die Citroën is intussen geïdentifiseer as die 31-jarige Ruandre Wessels. Die voorval van geweld is glo die deel van ’n jarelange vete tussen Xico en Ruandre.

Ruandre is in die hof in Windhoek aangekla van poging tot moord en ook dat hy nie gestop het om seker te maak van die omvang van die beserings en skade nie.

EKSTRA BRON: NAMIBIAN.COM.NA

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.