'n Video wat ’n afgryslike motorongeluk in Krugersdorp aan die Wes-Rand van Johannesburg vasvang, wys hoe ’n enkele sekonde die verskil tussen lewe en dood kan wees.

Die ongeluk, wat vandeesweek wyd opslae gemaak het, het Dinsdagoggend sowat 10:30 voor die Key West-winkelsentrum plaasgevind toe ’n wit Ford Ranger na bewering met ’n massiewe spoed teen ’n kleiner Ford Bantam-bakkie vasgery het. Die Bantam-bakkie het regs by die kruising in Voortrekkerweg ingedraai, toe die Ford Ranger dit aan die passasierskant getref het.

“Die bestuurder van die Ranger is na die naaste hospitaal geneem vir behandeling, maar die bestuurder van die Bantam-bakkie is op die toneel dood verklaar deur paramedici,” sê kaptein Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder in Krugersdorp.

Masondo wou nie die identiteit van die vroulike oorledene bekend maak nie.

Die video van die ongeluk is al meer as 180 000 keer gekyk sedert Krugersdorp News dit Dinsdag op YouTube gelaai het.

’n Ooggetuie het aan Huisgenoot gesê dat hy langs die Bantam-bakkie in die teenoorgestelde rigting gery het toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ek was twee maande terug self in ’n ongeluk gewees. Ek het toe niks gesien nie, ek het net brieke wat skree gehoor. Hierdie ongeluk was presies dieselfde. Ek het my doodgeskrik,” vertel hy.

Die ooggetuie vertel die ambulanse en polisie was blitsvinnig op die toneel.

“Ek het dadelik by die volgende robot gaan omdraai en teruggery, want toe ek daardie klein bakkie sien, het ek geweet iemand het baie seer gekry,” sê die ooggetuie duidelik steeds onsteld.

Hoewel dit nie in die video gesien kan word nie, het die Ford Ranger ook ’n wit Volkswagen Polo getref, maar niemand is verder beseer nie.

’n Saak van strafbare manslag word deur die Krugersdorpse polisie ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Die bestuurder van die Ford Ranger was nog op die ongelukstoneel toe die polisie opgedaag het, maar is nie in hegtenis geneem nie hangende die ondersoek,” vertel Mavela.

Volgens Krugersdorp News word die vrou oorleef deur haar man en twee kinders. Die gemeenskap het ’n bankrekening oopgemaak waar fondse ingesamel kan word om te help om vir die begrafnis te betaal.