Dit is die roerende pleidooi van Sue Foster, ’n familievriend van die vermiste Siam Lee (20).

Siam het verlede Donderdag spoorloos verdwyn nadat sy haar werkplek in Margaret Maytomlaan in Durban-Noord verlaat het.

Volgens Sue word Siam al sedert Oktober 2017 deur iemand agtervolg en gedreig.

“Daar was die man wat ’n verhouding met Sue wou hê en sy het glad nie belanggestel nie. Sy het dit vir hom gesê en hy kon dit nie hanteer nie," vertel sy aan Huisgenoot.

“Hy het aanhoudend lelike en vernederende boodskappe aan haar gestuur. Dit was verskrilik.”

Ná 'n ruk het dit geblyk die onbekende man het die boodskap gekry.

“Hy het stil geword en haar nie meer gepla nie. Ons, haar ma veral, was verheug dat hy eindelik tot sy sinne gekom het.”

Die Lee-familie se verligting was egter van korte duur.

Volgens Sue het die man eendag by Siam se werk opgedaag – al skreeuend en geweldadig. Hy het Siam glo geruk en gepluk, waarna Siam se kollegas tussenbeide getree en die man verjaag het.

Sue is ook van mening dat die einste man agter Siam se ontvoering en verdwyning sit.

Kringtelevisiebeeldmateriaal in Maytomlaan wys glo dat Siam ontvoer is deur die bestuurder van ’n swart Mercedes met ’n Gautengse nommerplaat.

“Ons het ’n privaat speurder aangestel om die saak te ondersoek omdat die polisie nie veel doen nie. Ná verskeie doodloopstrate het die speurder Maandagaand ’n leidraad opgevolg wat gelei het tot die deursoek van ’n huis waar Siam glo aangehou word.”

“Met hul aankoms is sy egter na ’n ander plek verskuif. Ons is rasend van bekommernis. Ons wil net hê dat wie haar ook al het, haar veilig en ongedeerd moet terugbring,” het Sue huilerig gesê.

Volgens Sue is Siam se ma, Carmen Lee, gebroke en op medikasie. Sy huil glo heeldag en praat maar min.

“Die hele ontvoering is verkeerd en onaanvaarbaar. Is dit wat van die lewe geword het? Hoe kan jy iemand teen sy/haar wil neem?” wou Sue verward weet.

In ’n hartverskeurende video lewer Carmen ’n pleidooi aan Siam se ontvoerder om haar kind terug te bring.

Volgens North Glen News, ’n plaaslike gemeenskapkoerant, is Siam se skoene op die toneel gevind waar sy laas gesien is.

Kol. Thulani Zwane, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Enigiemand met inligting oor waar Siam haar bevind, word versoek om ao. Pillay by 073-789-9047 of 031-560-8004 of Stop MIsdaad by 08-600-10111 te skakel.”