John J Magers was op die toneel toe die rooi helikopter, na bewering 'n Eurocopter AS350 van Liberty Helicopters, die water getref het.

Die groep aan boord van die gedoemde helikopter was glo besig met 'n fotosessie toe sake gruwelik skeefloop en die helikopter die water getref het.

Die vlieënier kon homself uit die helikopter bevry. Hy het bo-op die wrak geklouter en om hulp geroep. Sleep- en noodbote het hul na die toneel 'n paar honderd meter van Roosevelt-eiland gehaas.

Sy toestand word as "oukei" beskryf.

Volgens die New Yorkse brandweerdiens het polisieduikers en brandweermanne vyf mense uit die wrak bevry. In daardie stadium was die helikopter onderwater en onderstebo in die rivier.

Twee van die passasiers is op die toneel dood verklaar. Drie is in 'n kritieke toestand na die hospitaal vervoer, maar hulle het nie oorleef nie. Daniel A. Nigro, die kommissaris van die die New Yorkse brandweerdiens, het tydens 'n mediakonferensie gesê die insittendes was so stewig vasgegord dat hulle losgesny moes word.

In daardie stadium was die wrak reeds ongeveer 15 m onder die water, daar was strome van tot 6,4 km per uur en ysige water met temperatuur onder 4 grade C het die reddingspoging belemmer. 

Die roete is 'n gewilde besigtingsroete vir besoekers aan New York en volgens inligtingstukke is dié helikopterdiens die enigste wat oor 'n lisensie beskik om tot 304 meter van die bekende vryheidsbaken, die Amerikaanse vryheidstandbeeld, te vlieg.

Vorige voorvalle

2011

In Oktober 2011 het daar ook 'n helikopter in dieselfde rivier neergestort.'n Vrou, Sonio Marra (40) van Sydney, het in die ramp gesterf. Sy het kort tevore haar 40ste verjaardag gevier. Die oorlewendes was Sonio se ouers, Paul Nicholson (71) en Harriet (60). Hulle was van Portugal. Helen Tamaki (43), 'n vriendin van Sonio in Sydney het ook oorleef.

2005

Op 14 Junie 2005 het al die insittendes van nóg 'n besigtingshelikopter gelukkig almal oorleef.

Toeriste aan boord van die helikopter was op 'n besigtigingstoer, 14 Junie 2005. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: nytimes.com, inspireposts.com, foxnews.com