’n Porsche-liefhebber, net bekend as Chu (42), het Woensdag in Taichung City in Taiwan gewys waartoe ’n woedende mens in staat kan wees wanneer hul luukse vuurwa nie na wense toegerus is nie.

Hy wou die Porsche Panamera Sport Turismo – waarvoor hy in 2017 ’n prys van R2,55 miljoen beding het – laat toerus met talle ekstras, soos die innoverende 4D-onderstelbeheer. Dit het die finale prys van dié luukse motor tot sowat R3,18 miljoen opgejaag.

Chu het sonder omhaal ’n deposito van R950 000 betaal, maar die opgewondenheid oor sy nuwe wiele het blitsig verdwyn toe dit in November by hom afgelewer word. Van die 4D-onderstelbeheer was daar geen teken nie.

Hy weier toe om die uitstaande bedrag te betaal. Meer nog, hy wou summier die transaksie kanselleer. Maar toe Chu vyf dae gelede ’n brief ontvang waarin ’n ultimatum aan hom gestel word dat hy óf die uitstaande balans betaal óf sy deposito sal verloor, het hy rooi gesien.

Woensdag het hy agter die stuur ingeklim van nog ’n Porsche in sy besit, dié keer ’n Cayenne van R1,7 miljoen, en deur die glaspaneel van die handelaar se vertoonlokaal gery. Die ontvangstoonbank het met ’n tweede poging ook die knie gebuig voor die kragtige motor se aanslag.

Gelukkig kon die ontvangsklerke betyds padgee voor hulle self in die slag gebly het. Chu het daarna ewe kapokhaantjie uit die motor geklim en hande op die heupe die personeel uitgeskel. Dit lyk egter nie asof hulle juis ag geslaan het op sy tirade nie.

Wat het hy oor sy ongewone binnekoms te sê? Wel, iemand het glo deur ’n rooi robot gejaag, en hy moes uitswenk om ’n ongeluk te vermy . . .

Intussen het die owerheid bekendgemaak Chu het 10 jaar gelede ook met die gereg gebots oor klagte van bedrog en inbraak.

Die beste raad vir Chu: Hy moes hy liewer geld bestee het aan terapie vir woedebeheer as opsionele ekstras vir sy Porsche.

Bronne: dailymail.co.uk, porsche.de, taiwannews.com, carmag.co.za