Soos in ’n angswekkende koorsdroom beur sy uur ná uur te voet deur die swetende mensegewoel in die strate en stegies. By die lawaaierige markte waar geredekawel word in ’n taal wat sy nie verstaan nie, deel sy met vraende oë haar pamflette met foto’s van haar seun uit.
Maar elke keer word sy kopskuddend geantwoord: Nee, ons het hom nie gesien nie.
Snags is sy lyfseer en moeg, maar die slaap bly haar ontwyk. Sy bid die tyd tot dagbreek om. En dan hervat Colleen Bothma (48) haar soektog na John (22) deur die strate van die Viëtnamese hoofstad, Hanoi. By die plek waar hy as ’n tydelike onderwyser gewerk het; by sy loseerplek van anderhalf jaar; in die omliggende strate en restaurante.
En in haar agterkop maal die bespiegeling in die media dat hy moontlik die slagoffer was van ’n sindikaat wat menslike organe oes om in die sluikhandel te verkwansel . . .
Toe die hoofstad niks verklap nie, vlieg sy die sowat 1 300 km na Ho Tsji Minhstad, ’n metropool aan die Viëtnamese kus – nes John gedoen het voor hy vyf maande gelede verdwyn het.
Hier, op sy bed in die toeristeherberg waar hy die laaste keer gesien is, waar sy hom kan ruik aan sy klere wat nog netjies in sy tas gepak is, word haar vrese en verlange van die afgelope maande te veel en huil sy onbedaarlik.
“Daardie oomblik was die absolute laagste, laagste punt van my hele lewe,” vertel Colleen nou in haar kantoor by die kliniek in Kempton Park waar sy as verpleër werk.
Die ma en weduwee, wat voor haar desperate sending van 10 dae na Viëtnam nog nooit buite Suid-Afrika was nie, het ’n week tevore op Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe geland.
Langs haar lessenaar staan haar bagasie en John se reistas met sy besittings wat sy van Viëtnam af gebring het. Selfs sy skeersakkie is nog daar saam met sy netjies gevoude klere.
Net van John is daar geen taal of tyding nie. Dis asof die verre land hom spoorloos ingesluk het.
Haar ledemate voel loodswaar van al die stappery, vertel Colleen. Die moegheid rem aan haar skouers en mondhoeke. Die soete ontvlugting van slaap het sy lank laas ervaar.
“Hoe slaap ’n ouer as jy nie weet of jou kind leef of dood is nie? Jy slaap nie. Die lewe is een uitgerekte nagmerrie,” sê sy.
Sy het vandag, soos ontelbare kere tevore, John se selfoonnommer gebel. Maar sy is net deur doodse stilte begroet.
“Die verlange is vandag erger as ooit . . . Die bekommernis verswelg jou.”
Die glas-engeltjie
In haar hande hou sy die glas-engeltjie vas wat saam met John se klere en boeke in sy tas was. Sy het dit aan hom gegee voor hy op 21 November verlede jaar Hanoi toe gevlieg het.
“Dit sou sy beskermengel wees omdat sy ‘Mêmê’, soos hy my noem, nie by hom kon wees nie.
“Nou is die beskermengel hier by my, maar John is weg.”
John, ’n onderwysstudent in sy tweede jaar aan Unisa, het sy studie tydelik gestaak om in Hanoi skool te hou. En ses maande lank het hy sy ma daagliks telefonies vertel hoe hy dit daar geniet.
“Hy was nog nooit so gelukkig nie,” vertel Colleen.
15 Mei 2019
Maar op 15 Mei – kort voor sy kontrak sou verval – het hy nie Colleen se oproepe beantwoord nie. Later het sy haar oudste dogter, Leandri Perreira (29), gevra om ook te probeer.
“Sy’t my histeries gebel; vir my gesê daar’s inskrywings op Facebook wat sê hy’s vermis. Ek onthou hoe die wêreld onder my padgegee het. Jy kán dit mos nie glo nie – nie jóú kind nie. Ek het gebel. Niks. Weer gebel. Steeds niks. Dit was soos ’n doodsvonnis.”
Die Suid-Afrikaanse ambassade kon haar nie antwoorde gee nie. Interpol het monsters van haar DNS kom neem.
“Almal het gesê: Wees geduldig.” Maar die nagmerriedae sonder enige teken van John het verbygesleep – ook 21 Junie, die dag toe sy hom op O.R. Tambo sou gaan haal het ná sy Viëtnamese avontuur.
“Dis al die gewag wat jou mal maak. Ná elke dag sonder antwoorde breek jy van voor af; elke nag teister die nagmerries jou.”
Menslike organe
En toe, by ’n winkelsentrum, lees sy dat gerugte die rondte doen dat John dalk betrek is by ’n misdaadsindikaat wat menslike organe oes om in die sluikhandel te verkoop. Sy het op die plek histeries begin gil.
“Wát dink mense doen dit aan ’n ma wanneer sy so iets lees? Dat my kind se organe dalk geoes is en sy liggaam êrens agtergelaat is? Niemand het ooit met my oor so iets in verbinding getree nie.”
Sy het geweier om dit te aanvaar en besluit om self in die onbekende na John te gaan soek – al het sy in daardie stadium nog nooit ’n paspoort besit nie.
“God het ’n uitweg gemaak: My vlugkaartjie en visum is vir my betaal. Ek was oortuig ek sou met my kind terugkom.”
Nog ’n vermiste kind in Viëtnam
Voor haar vertrek het sy kontak gemaak met nog ’n Suid-Afrikaanse ma wie se kind in Ho Tsji Minhstad verdwyn het: Faheema Abrahams van Kaapstad.
Haar seun, Mushfiq, word sedert 5 Julie vermis. Ook hy het in Viëtnam gaan skoolhou. Colleen het afgespreek om Faheema, wat toe al ’n ruk lank in Ho Tsji Minhstad was om na haar kind te soek, daar te ontmoet.
Maar eers is Colleen stoksielalleen na Hanoi.
Voete stukkend geloop
“Ek onthou hoe ek verdwaas op die lughawe gestaan het. Bang vir die vreemde; dog hoopvol dat my seun veilig sou wees,” vertel Colleen.
In Hanoi het sy haar voete stukkend geloop.
“Boetie sou nooit glo wat sy Mêmê gedoen het nie. Daar in Hanoi het ek op ’n bromponie gery, oral pamflette uitgedeel, na die plaaslike polisie gegaan. Die verkeer is ondraaglik en ek’t vir my lewe geklou.”
Maar daar was geen antwoorde nie.
“Ek het ure alleen op ’n bus na die kus gery. Steeds niks. Toe na Ho Tsji Minhstad en die backpackers waar hy geslaap het. Sy paspoort, wat hy sou terugkry wanneer hy uitteken, was steeds daar. Sy reistas ook.”
En toe kom die stortvloed trane daar op die bed waar hy geslaap het.
“My man, John, is 10 jaar gelede weens ’n beroerte oorlede. ’n Mens dink jy sal nooit weer opstaan nie; tog doen jy dit. Maar toe ek my kind se besittings sien, was dit vir my tienduisend keer so erg as die dood. Want jy ruik hom, maar jy sien hom nie.”
Voor haar terugkeer het sy Faheema ontmoet. “Ons het saamgehuil; ons is albei verpletter. Ons weet nie of ons moet rou of nie.”
Colleen het met ’n swaar hart na Suid-Afrika teruggevlieg.
“Ek wens ek kon soos Faheema alles hier agterlaat en daar bly om na John te soek. Die Here weet, ek wou nie sonder Boetie terugkom nie,” vertel sy en die trane loop weer.
“Maar ek moes; ek het nie meer die geld gehad om daar te bly en my soektog voort te sit nie, en my dogter het my ook nodig. Maar dit voel of ek my seun versaak.”
Faheema het vanuit Viëtnam aan Huisgenoot gesê: “Ons was al oral. By polisiekantore; sy skool; die hele stad. Maar ek sal nooit moed verloor nie; ek sal nooit ophou soek nie.”
Toe Colleen haar seun se reistas by die Johannesburgse lughawe uitdra, het sy skielik gedink: Dalk kom hy nooit huis toe nie.
“Tog, wanneer ek saans op my knieë vir antwoorde smeek, wanneer die trane nie wil ophou nie, bly daar iets binne my wat sê: Jy sál hom weer vashou . . .”
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook, WhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET