Volgens Facebook se berekeninge sal sowat 87 miljoen mense Maandag met ’n persoonlike boodskap uitvind of hul inligting deur die privaat konsultasiefirma Cambridge Analytica ingewin is.

Al 2,2 biljoen gebruikers sal ook binnekort ’n kennisgewing op hul profiel kry, wat “Protecting Your Information” heet, het Facebook se stigter en uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, op sy Facebookblad gesê.

The New York Times, een van die publikasies wat die storie gebreek het, verduidelik dat hierdie kennisgewing ’n skakel sal bevat wat gebruikers in kennis stel watter apps hulle gebruik en watter inligting mense met die apps al gedeel het.

Kortom, mens sal kan sien watter inligting by derde partye is, en die opsie hê om hierdie apps individueel of almal gelyktydig af te sit. 

"Een van my hoof prioriteite vir 2018 is om te verseker dat ons poisitiewe diskoers ondersteun" - Mark Zuckerberg

Mark sal later hierdie week voor Amerika se kongres oor die voorval moet getuig en het self vroeër erken dat hy ’n “groot fout” begaan het, berig The Guardian, nog ’n publikasie wat die storie gebreek het.

Die data wat deur Cambridge Analytica verkry is, is gebruik om onder meer die Amerikaanse presidensiële verkiesings te beïnvloed. Dit is iets waarvan Mark nou deeglik bewus is en doelbewus uitkyk.

“Met belangrike verkiesings wat in die Verenigde State van Amerika, Mexiko, Brasillië, Indië, Pakistan en ander lande in die volgende jaar plaasvind, is een van my hoof prioriteite vir 2018 om te verseker dat ons (Facebook) positiewe diskoers ondersteun en enige inmenging in hierdie verkiesings verhoed,” het Mark Vrydag in ’n verklaring op sy Facebookblad geskryf.

As jy meer wil lees oor hoe om jouself te beskerm, lees hier.

Bronne: Nytimes.com, Theguardian.com, Facebook.com