Dan hoor jy hoe Irma de Klerk, van Vir die voëls-faam, se stem aan die ander kant van die telefoon breek en sy die trane moet sluk voor sy verder praat.

“Dít is nou my harde werklikheid. Dalk gaan hierdie gevoel van verlange na hom eendag weg . . . maar ek twyfel.”

Dit is bykans nege maande nadat Irma se man, Sampie, aan ’n hartaanval oorlede is. Nege maande wat Irma moes leer om skielik sonder haar “sielsmaat” van die afgelope 35 jaar te leef. 

Maar Irma sou dit nooit maklik kry nie.  

Vier maande ná sy dood is die nasionale staat van inperking op 26 Maart aangekondig. Dit het Irma forseer om alleen in haar en Sampie se huis, waarin hulle vir 35 jaar lank gewoon het, in Newcastle, KwaZulu-Natal, vasgekeer te wees.

’n Huis waar elke vertrek ’n verhaal kan vertel en waar herinneringe aan elke meubelstuk vaskleef.

Die besigheid waar Irma as boekhouer werk, het sy deure vir vyf weke gesluit. 

“Toe die lockdown begin, het ek geweet ek sal iets moet doen om my kop aan die gang te hou. Ek het vir myself gesê: ‘Irma’tjie, jy gaan nou maar hierdeur moet kom.’

“Toe begin ek planne maak . . .”

Die aangrypende ware liefdesverhaal van Sampie (59) en Irma (57) de Klerk het Suid-Afrikaners behoorlik aan die hart geruk nadat dit uit honderde inskrywings as die wenner van Huisgenoot se eerste wareliefdesverhaalkompetisie gekies is. 

Die fliek is geïnspireer deur die verhaal, Vir die voëls, en is in 2016 in samewerking met kykNET en die vervaardigers van The Film Factory uitgereik ter viering van Huisgenoot se eeufeesjaar. 

Dit vertel die verhaal van die vurige rooikop Irma Humpel wat voor die kansel vir kykers vertel hoe hard haar geliefde Sampie moes werk om haar hart en haar hand te wen. Die aktrise Simoné Pretorius (voorheen Nortmann) vertolk die rol van Irma en Sampie word gespeel deur Francois Jacobs. 

Van links is Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Sampie en Irma de Klerk.

Die fliek was dadelik ’n wegholsukses by die loket en is ook op vyf internasionale rolprentfeeste vertoon. Op die Tallgrass-fees in Kansas, Amerika, is Simoné as die beste aktrise in ’n hoofrol aangewys.  

Om die kroon te span het die rolprent op die Edmonton-fliekfees in Kanada ook die prys as beste internasionale rolprent gewen.

Intussen het die De Klerks sommer gou bekende name en gesigte in Suid-Afrika geword. Die fliek het van Sampie en Irma rolmodelle gemaak omdat hul verhaal een was van onvoorwaardelike liefde en ondersteuning deur goeie en swaar tye.

Irma moes ook gereeld hoor hoe vroue, jonk en oud, vir haar sê: “Ek soek ’n Sampie.”

Maar toe neem die lewe ’n onverwagse draai met Irma en Sampie. 

Sampie en Irma de Klerk se liefdesverhaal het die hart­snare geroer toe hul storie in 2016 in Huisgenoot se liefdesverhaalkompetisie gekies is. Foto: Studio Elite

Op 20 Oktober 2019 het Sampie ’n hartaanval in die gesin se huis gehad, waarna Irma met hom na ’n plaaslike hospitaal gehaas het. Hy het ’n bloedklont in sy hart gehad en moes na ’n hospitaal in Pietermaritzburg oorgeplaas word. 

Maar komplikasies het ingetree en op 7 November, drie dae voor haar 57ste verjaarsdag, het Irma se selfoon gelui.

Dit was die hospitaal. Sampie is dood, het sy gehoor.

Toe, vier maande na sy dood, het die inperkingstyd haar genoop om haar hande, en haar kop, besig te hou.

“Ek het gedink ‘Suster, jy moet jou ding doen, jy kan nie net so in die huis sit en jouself bejammer nie,’” vertel sy. 

Eers het Irma besluit om haar hele tuin oor te doen.

“My tuin se hele gesig het nou verander,” verander sy opgewonde.

“Dit was baie terapeuties om in die tuin te werk, maar by tye ook moeilik. Sampie was net so mal oor tuinmaak. Hy het gewoonlik al die swaar goed weggeskuif en opgetel. En skielik is hy nie meer daar nie,” vertel sy, weer met 'n tikkie hartseer in haar stem.

Toe takel Irma haar en Sampie se slaapkamer.

“Vandat hy oorlede is kan ek nie meer in ons bed slaap nie. Ek het gereeld in die sitkamer op die bank gaan lê net om te kan slaap,” vertel sy.

Irma, wat ’n groot liefde vir antieke meubels het, het die kamer omskep en dit ’n ou, Victoriaanse-styl gegee.

“Sampie was heeltyd in daardie kamer. Ek moes alles verander, tot die gordyne. En nou slaap ek weer lekker, my kamer is weer vir my ’n mooi plek om na toe te gaan. Dis nie meer so hartseer nie.”

Toe Irma se tuin spog met ’n nuwe gesig en sy weer lekker in die aande kan slaap, het sy besluit dit is tyd om die fokus te skuif – vanaf haarself en haar verlies, na ander en hulle nood.

Met haar eie spaargeld het sy vir drie maande lank vir 10 gesinne wat gesteier het onder die inperkingsreëls, kos voor gemaak.

“Ek moes eenvoudig op iets anders fokus,” vertel sy. “En jy sal nie glo hoe baie help dit ’n mens as jy net vir ’n rukkie jou oë van jouself afhaal en uitreik na ander nie. Want deur om ander te help, help jy eintlik vir jouself.”

Saans het Irma die breinaalde opgetel en haar eerste blokkieskombers vir haar bed begin brei.

“Kyk, ek is glad nie ’n naaldwerkster of bakster nie. Maar ek het daardie blokkieskombers begin brei. My ma het gekom met die naalde en die boekie en my gewys hoe om te brei. Die kombers is knus en warm en hy is amper klaar,” vertel sy opgewonde. 

Maar al hou sy haarself besig, is die verlange na Sampie elke dag “reusagtig groot”.

Die ware Sampie en Irma de Klerk op wie se liefdesverhaal die fliek Vir die Voëls gegrond is. Foto: Verskaf

“Ag, ek mis hom verskriklik. Ek mis dit om te hoor hoe hy sing in die stort, of in die motorhuis wanneer hy met sy messe werk en hy net daar begin lostrek.

“Nou is die huis baie, baie stil. En ek is mos nie iemand wat ’n liedjie kliphard sal aansit en aangaan nie.” 

Ek is soms eensaam, maar ek is nooit alleen nie. Ek het baie goeie vriende in my lewe wat my ondersteun.

Irma vertel sedert sy dood bel hul seun Werner (35) haar elke aand seweuur om seker te maak sy ma is oraait en dat sy niks nodig het nie. “Weet jy, dis asof hy daardie beskermende rol van Sampie oorgeneem het om na my te kyk,” sê sy en dit is amper asof jy ’n glimlag in haar stem kan hoor.

“Ek is soms eensaam, maar ek is nooit alleen nie. Ek het baie goeie vriende in my lewe wat my ondersteun.

"Maar ek vind die rouproses ’n erge, onaangename besigheid. Een dag is jy oraait en die volgende dag word jy wakker met ’n knop in jou keel wat heeldag daar sit. En soms bly die knop daar vir twee of drie dae.”

Sy het al gehoor van weduwees wat van hul oorlede mans droom, sê sy, en snags, voor sy gaan slaap, dan bid Irma en vra vir God dat sy van Sampie kan droom. 

“Dis snaaks, dit gebeur nie,” sê sy. “Ek kan hom in my drome hoor, maar hy is altyd in ’n ander vertrek of hy staan agter ’n muur. Dis asof die Here hom vir my wegsteek.

"Maar dit is ook okei so, want darem weet ek hy is daar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe