Sampie en Irma se liefdesverhaal het kykers se hartsnare geroer veral oor Sampie se vermoë om die vurige Irma se hart sag te maak. 

Irma het aan Huisgenoot bevestig dat Sampie op 20 Oktober in die nag 'n hartaanval in die gesin se huis op Newcastle gehad het, waarna Irma koelkop gehou het om hom by die hospitaal te kry. 

Binne 20 minute het 'n hartspesialis bevestig dat hy 'n bloedklont in sy hart gehad het en hy moes na Pietermaritzburg oorgeplaas word. 

Hy was toe egter nie stabiel genoeg nie. Sampie is die week daarna oorgeplaas, waarna komplikasies met van sy organe ingetree het. 

Op Saterdag, 2 November het Sampie vir Irma gevra wat gebeur het. 

Van links is Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Sam
Van links is Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Sampie en Irma de Klerk.

En sy vrou, wat hom nie verder wou ontstel nie, het gesê dat hy siek was en dat dokters als onder beheer het. 

“Ek sê toe Sampie jy het jou verjaardag (28 Oktober gemis) jy het die Wêreldbekerrugby-kwarteindstryd gemis, jy het die  –halfeindstryd gemis en die Bokke het so pas die Wêreldbeker gewen! 

“Toe kry hy weer so 'n groot glimlag in sy oë, want hy kon op daardie tyd nog nie met sy mond glimlag nie weens die induksiepyp.”

Ondanks die dokters en kundiges in die kardiologie-eenheid se pogings, het Sampie se hart omstreeks 10:00 op Donderdag, 7 November gaan staan en kon hy nie weer bygebring word nie. 

Die dokters vermoed hy het ’n tweede hartaanval gehad.

“Hy was die braafste man wat ek ken. Hy het my cheeky-geid hanteer soos 'n kampioen,” vertel Irma. 

“Dit was nie vir hom 'n probleem dat hy met die kwaaiste vrou in die land getroud was nie.”

Sampie en Irma sou op Kersdag hul 36ste huweliksherdenking vier.