Dit volg nadat die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, einde laas week 'n noodtoestand in die deelstaat afgekondig het weens die vinnige verspreiding van die virus daar.

Die sone word rondom New Rochelle as episentrum van die uitbreking gevestig. Dié klein stad lê sowat 40 km noord van die stad New York.

Cuomo het begin vandeesweek gesê New Rochelle verteenwoordig waarskynlik "die grootste bondel van coronavirus-gevalle in die VSA". Die inperkingsone het as middelpunt 'n sinagoge wat vermoedelik baie mense met die virus in aanraking gebring het. Groot vergaderplekke soos skole en plekke van aanbidding binne dié radius sal vanaf Donderdag vir minstens twee weke gesluit word.

Die staat New York sal ook soldate van die National Guard, Amerika se militêre reserwemag, ontplooi om skole skoon te maak en ontsmet en vir mense onder kwarantyn kos te neem.

Intussen het talle onderrig-instellings dwarsoor New York toegemaak. Duisende leerders sal vir minstens 'n week nie in die klas wees nie, en Cuoma het ook verklaar as enige leerders positief vir die virus toets, sal hul skole onmiddellik sluit terwyl gesondheidsowerhede die situasie beoordeel. 

Teen Woensdag is meer as 170 coronavirusgevalle in die staat aangeteken, insluitend sowat 108 in die New Rochelle-omgewing en 36 in die stad New York. Die prentjie landwyd het ook kommerwekkend begin lyk: meer as 1 000 gevalle, waaronder 31 sterftes.

New York was toe een van 36 deelstate in Amerika waar virusinfeksies opgespoor is en die tweede deelstaat ná Washington wat meer as 100 gevalle aangeteken het. Laasgenoemde, Kalifornië, Oregon en New Jersey het ook noodtoestande afgekondig.

Volgens Cuomo is die noodtoestand in New York onder meer nodig sodat hospitale toetsvoorrade en mediese toerusting vinniger verkry en gesondheidswerkers om moontlik duisende pasiënte te help monitor gouer gehuur kan word.

90 plus gevalle met een draer verbind

Minstens 90 infeksiegevalle is blykbaar tot by New York se tweede aangemelde coronaviruspasiënt, 'n 50-jarige man van New Rochelle, teruggespeur.

Intussen is daar teen begin vandeesweek nog geen gevalle in die stad New York se openbare skole aangemeld nie, en sou hulle oopbly. Digby 90 verpleegsters is egter gewerf om waar nodig by die skole te gaan help. En die stad maak seker daar's genoeg skoonmaakmiddels en seep en ontsmettingsmiddels by openbare instansies.

Gevangenes word selfs ingespan om sowat 380 000 liter ontsmettingsmiddels te maak wat gratis aan skole, regeringsinstellings en tronke verskaf word.

"Ons probeer om nie te ver te gaan nie, maar ook nie te onderreageer nie," het George Latimer, 'n New Yorkse amptenaar, opgemerk. "Dit is ernstig; dis nie 'n grap nie. Dis nie iets wat sal verdwyn net omdat jy wens dit gaan weg nie. Maar dis ook nie Armageddon nie."

Bronne: ny.gov, nyc.gov, nytimes.com, apnews.com buzzfeednews.com