Vrydagoggend, 11 Januarie. Vir Lester Smith voel dit of die hele wêreld in vlamme en rook opgaan. Wanneer gaan dit end kry?

Dan lui sy foon weer. Nes dit sedert vroeg Nuwejaarsdag feitlik dag en nag gedoen het.

Want hier in sy kantoor op Hermanus is Lester, senior bestuurder van brandweerdienste, rampbestuur en sekuriteitsdienste van die Overstrandmunisipaliteit, aan die hart van die stryd teen die brande wat skynbaar eindeloos oor die berge aanstorm en aan die kusgemeenskappe lek. Hy antwoord.

’n Nuwe brand het in Gansbaai se Masakhane-woongebied uitgebreek en na Franskraal begin versprei. Soveel plekke waar dit brand, maar net soveel brandbestryders en voertuie om lewens en eiendomme te beskerm.

Altesaam 41 huise het in die slag gebly.

Brandspanne van die Stad Kaapstad, Overstrand, die Overbergdistrik, Stellenbosch-munisipaliteit, Kaap Natuurbewaring, spanne van Working on Fire en plaaslike boere veg al dae lank onverpoos teen die inferno, maar telkens breek ’n nuwe krisispunt uit.

Skaars het Lester planne beraam om die jongste gate toe te stop of die foon lui weer. Dié keer is dit Marlu Rust, ’n senior brandweeroffisier op Bettysbaai, waar die brande glo vroeg op Nuwejaarsdag begin het weens die beweerde onverskillige afvuur van ’n noodfakkel.

“Chief, hier is moeilikheid. Hier is challenges . . . Ons het nog voertuie nodig,” kom Marlu se stem.

Lester bel die brandweerdiens van Stellenbosch. Kan hulle help?

Die brand wat op Nuwejaarsdag naby Bettys­baai begin het, het op 3 Januarie na Pringlebaai versprei en nog verwoesting ­gesaai. Helikopters het van bo af probeer om die brand te blus.

Vrydagmiddag, 13:00: Nog ’n brand, op Karwyderskraal, word deur die wind oor die berg na die kus gejaag. Hermanus moet ontruim word. Dadelik. Dinge lyk ál slegter. By Franskraal, Bettysbaai en Hermanus beweeg die brande vinnig nader aan woonbuurte. Lester bel die Wes-Kaapse provinsiale regering se rampbeheerkantoor: “Kode rooi! Ons het ’n noodgeval . . .”

Pieng! waarsku sy selfoon hom feitlik terselfdertyd oor die koms van ’n nuwe teksboodskap. Dis van sy dogter.

“Daddy, ons moet weg van die skool af; die vuur spring tot by die skool,” lees hy. Sy maag draai. Skielik het die brande baie persoonlik geraak . . .

Lester wil met alle mag in sy kar spring en haar gaan haal. Maar hy durf nie sy pos verlaat nie. Hy sal moet vertrou dat die skool se brandontruimingsprosedure seepglad verloop.

Daar lui sy foon al weer. Hy moet nou fokus . . .

Lester Smith, die brandweerhoof van die Overstrandmunisipaliteit, en Marlu Rust, assistentbrandweerhoof, staan in ’n uitgebrande kerkie op Bettysbaai.

By Bettysbaai, 48 km van Lester se kantoor op Hermanus, hou Marlu en ander brandweeroffisiere inderhaas kajuitraad. Tyd is min, want die brand kom vinnig bergaf. As assistentbrandweerhoof van die Overstrandmunisipaliteit het Marlu reeds ekstra brandspanne aangevra en as eerste prioriteit word daar met die ontruiming van bejaardes begin.

Dan gebeur dit. Met verbysterende spoed spring die brand tot in Disakloof, bo die kuspad, en begin aan Clarensrylaan vreet. Met winde van tot 112 km per uur is die hel behoorlik los.

Marlu kyk in ongeloof hoe die vlammemuur ál nader kom. Hy sien hoe gloeiende kooltjies voor die vuur deur die lug gewaai word en nuwe brande ontstaan waar dit in droë fynbos val.

Die brand begin vreet aan die fynbos wat die huise omring. Die brandweermanne haas hulle van huis tot huis en hamer aan deure.

“Kom uit!” skree hulle op die inwoners.

Terwyl Marlu deur die strate ry, pluk die wind aan sy voertuig. Waar hy stilhou om mense te help ontruim, loop hy moeisaam teen die wind in. Die rook en aswolke is verblindend en die hitte intens.

En die ergste van als is dat die winde te sterk is vir die helikopters om te vlieg en water oor die vlamme te stort. In sy 20 jaar as brandweerman is dit een van die ergste brande wat hy al beleef het.

Dis 14:00 toe die eerste huis begin brand . . .

Die brand het weens stormsterk winde vinnig versprei.

In Clarensrylaan sien Pieter (82) en Stella Richard (80) geskok hoe die huis oorkant hulle s’n skielik in vlamme opgaan. Skaars twee uur tevore het die bejaarde egpaar van Somerset-Wes nog taamlik bedaard gesels.

Stella was van mening haar beursie is die belangrikste, maar Pieter se plan was om die woonwa met sy bakkie te haak sodat hulle darem blyplek sou hê. Maar nou is daar nie meer tyd om te praat of met die woonwa te stoei nie.

Stella gryp ’n klein tassie wat sy vroeër begin pak het. Sy kyk deur die kamervenster net betyds om te sien hoe die mense wat in die woonstel bo hul motorhuis woon deur die ruie bosse see toe hardloop. Sy en Pieter stoei teen waaiende rook- en aswolke tot in hul bakkie en ry in die rigting van Kleinmond.

“Ry aan die regterkant van die pad,” sê Stella vir Pieter, want sy voel hoe die metaal van die bakkie warm word van die vuur aan haar kant van die pad. In die rook wat oor die pad waai, kan hulle beswaarlik sien waar hulle ry – of wat met die siersteenhuis gebeur waarin hulle, hul kinders en kleinkinders die afgelope 30 jaar soveel spesiale vakansies deurgebring het.

Van baie huise het net murasies oorgebly.

“As die huis afbrand, gaan ons hom nooit weer herbou nie,” sê Stella.

Sowat ’n kilometer van die Richards se huis kyk die 60-jarige Pearle Gold by die venster van haar haar huurwoning uit. “Vlamme!” skree sy vir haar dogter Debbie (43). Die huise oorkant hulle in Clarensrylaan brand reeds.

Die vlamme is hoër as die dakke van die huise, wat skielik soos brose popspeelgoed lyk. Pearle en Debbie gryp die donkerblou sak met hul medikasie, Sassa-kaarte, warm klere en tandeborsels. Dan gryp hulle hul troeteldiere – Joy die hond en Sasha die kat – en hardloop na die ander wooneenheid wat aan hulle s’n grens.

Binne sit Carol (54) en Graham Clark (53) van Kaapstad besig om ’n haastige middagete van oorskietkos te eet. Toe hulle Pearle se waarskuwingsgille hoor, gryp hulle hul honde, Tikky, Mika en Davey.

Van die houthuise is blitsig deur die vlamme verswelg.

Saam bid die vier dat hulle die vlamme sal ontkom. Dan spring hulle met hul troeteldiere in twee motors en ry saam weg in die rigting van Kleinmond. Hul plan is om daar op die strand te wag en in ’n gemeenskapsaal te oornag tot die brand verby is.

Die rook raak ál digter en hulle kan skaars 2 m voor hulle sien terwyl hulle ry. Hulle bid aaneen. Hulle sien hoe die motorhuis agter hulle in vlamme opgaan. Die laaste wat hulle sien, is hoe die vuurtonge aan Pearle se gordyne begin lek.

Terwyl die inwoners van Clarensrylaan na veiligheid vlug, sit die sakeanalis Jaco Strauss (51) in sy kantoor op Somerset-Wes, sowat 48 km van sy vakansiehuis op Bettysbaai. Hy weet van die brande wat op Nuwejaarsdag begin het, maar sover hy weet, is dit aan die ander kant van die berg as waar sy huis is.

Dan kry hy ’n oproep van die veiligheidsmaatskappy dat die diefalarm in sy vakansiehuis afgegaan het. Dis vreemd, dink hy. Geen huurders is tans in sy huis nie. Niemand is veronderstel om daar te wees nie.

Groot gedeeltes van Bettysbaai is nou net ’n swart landskap vol as.

Maar kort daarna laat weet sy vrou, Loni (45), dat sy by ’n onderwyseres op Bettysbaai gehoor het die brand het oor die berg tot binne-in die dorp beweeg. Jaco bel die veiligheidsmaatskappy om te hoor of hulle kan gaan kyk wat by sy huis aan die gang is, maar die wagte kan nie by sy erf uitkom nie.

Dalk is dit kansvatters wat by sy huis probeer inbreek terwyl dit op ’n ander plek brand, dink Jaco. Of dalk het die stormwinde die alarm laat afgaan.

Maar later hoor hy die slegte nuus: Die brand woed wel in die omgewing van sy huis. Hy bly vasklou aan die hoop dat die inligting verkeerd is en dat die huis wat Loni met soveel moeite en liefde versier het, gespaar sal bly.

Dis omstreeks 17:00 Vrydagmiddag toe Jaco die verpletterende boodskap van die veiligheidsmaatskappy kry: “Jul huis het ongelukkig afgebrand.”

Die trane stroom oor Loni se gesig terwyl Jaco haar probeer troos.

Brandbestryders het skofte van 10 tot 12 uur gewerk. Hulle het deur die nag gewerk om die brande onder beheer te kry.

Laat Vrydagmiddag sak ’n sifreën oor Bettysbaai en die berg uit. Dis ’n genade vir die uitgeputte Marlu en sowat 140 ander brandbestryders, wat die eerste keer sedert Nuwejaarsdag die natuur aan hul kant het.

Dis eers die Saterdag veilig vir huiseienaars om die dorp binne te kom. Teen Sondag is die voorheen skilderagtige Bettysbaai gitswart. Die reuk van roet meng met die soutreuk van die see en die blare aan die bome is brokkelrig van die vuur se hitte.

Die berg met sy kombers van vaalgrys as lyk soos ’n maanlandskap of ’n slagveld ná ’n bombardement. Plek-plek staan die swartgebrande murasies van huise soos ou grafstene. Van die houthuise op Bettysbaai is niks oor nie, net die skoorstene wat op party plekke soos geraamtevingers hemelwaarts wys.

Sommige huise is net deur die vlamtonge gelek en nie heeltemal verteer nie, al is die ruite gebreek en het die geute weens die hitte gesmelt. Ál meer mense kom die dorp ingery en kruie al om die uitgebrande motorwrakke wat nog in die strate lê.

Daar is uitroepe van vreugde oor huise wat gespaar is; skok en trane oor huise wat verwoes is. Sommige krap net verwese in die puin rond. Die vuur het 41 huise heeltemal verorber. Nog 28 huise is gedeeltelik afgebrand.

Sowat 28 huise het net gedeeltelik gebrand.
Mense het op Saterdag 12 en Sondag 13 Januarie deur die puin begin soek na enigiets wat gered kon word.

Onder die gelukkiges is Pieter en Stella, wie se siersteenhuis toe nie in die slag gebly het nie. En die vlamme wat Pearle se gordyne laat brand het, het nie verder vat aan die huis gekry nie.

En Lester se dogter? Ná daardie teksboodskap Vrydag kon hy te midde van al die krisisse haar darem bel om seker te maak dat sy veilig saam met haar maats en onderwysers uit die skool ontruim is.

Maar dit was eers die volgende dag, Saterdag, dat hy vinnig huis toe kon gaan om hallo te sê voor hy hom na die volgende brandpunt moes haas. Want die wind kon weer draai, en hy en die brandbestryders moes paraat bly.

  • Kort voor ons druktyd het Lester bevestig dat al drie die brande, by Franskraal, Hermanus en Bettysbaai, grootliks onder bedwang was.
Foto's: Corrie Hansen, Sullivan Photography, Gallo Images/Netwerk24/Jaco Marais, Facebook/Betty’s Bay Village