Dit was soos ’n prentjie op ’n poskaart: ’n soel middag op die Liko­ma-­eiland aan die ooste van die Malawimeer met die laatmiddagson wat die water ’n oranje gloed gee. Maar die ­tiener wat vergeefs op haar pa se koms sit en wag het, het nie die mooi om haar raakgesien nie.

“My hart het koud geword. Ek het geweet iets is fout,” sê Megan Werner.

Die 17-jarige het onlangs nuus gemaak toe sy en ’n groep tieners hul eie Sling 4-­vliegtuig aanmekaargesit en van 13 Junie tot 8 Julie daarmee van Kaapstad deur Afrika tot in ­Kaïro gevlieg het as deel van die U-Dream Global-projek.

Haar vlieënierpa, Des Werner (49), het haar gehelp om dié ­organisasie te stig en het self die hulpvliegtuig tydens die reis gevlieg. En toe Megan-hulle eindelik in Kaïro land om haar droom ná twee jaar se harde werk en beplanning ’n werklikheid te maak, was Des daar om haar te omhels en geluk te wens.

Maar hul vreugde was van korte duur. Op 3 Augustus – skaars twee weke later – sterf haar pa en sy medevlieënier, ­Werner Fronemann, in ’n vliegtuig­ongeluk in Tanzanië, en Megan se wêreld stort in duie.

“Ek het nooit gedink my pa sou iets oorkom nie. Hy het oor die 10 000 vliegure agter sy naam gehad,” sê Megan ­verslae terwyl haar ma, Belinda (44), haar hand vashou. Hulle sit saam met Megan se ouer suster, Cindy (21), op die rusbank in die Werners se huis, net ’n klipgooi van die Lanseria-lughawe af.

Die gesin sou later vanjaar na ’n wildplaas gegaan het om saam ’n jaar van groot verjaardae te vier: Des sou in Augustus 50 word, Cindy het 21 geword, en Megan word 18. Maar nou is die drie Werner-­vroue sonder hom, omring deur begraf­nis­ruikers.

Megan, Des, haar ma, Belinda, en suster, Cindy. Fo
Megan, Des, haar ma, Belinda, en suster, Cindy. Foto verskaf

Ná hul suksesvolle Kaap-na-Kaïro-reis moes die groep tieners haastig terugkeer vir die nuwe skoolkwartaal. Die self­geboude vliegtuig het eers in Egipte ­agtergebly, en die span het dit twee weke later gaan haal.

Die terugvlug was toe rampspoedig – nie vir die tieners in hul vliegtuig nie, maar vir die ervare vlieëniers in die vliegtuig wat deur ingenieurs gebou is.

Des het die vorige dag op pad van ­Soedan af na Malawi laat weet hulle ­ervaar oliedrukprobleme en gaan in Uganda land en oornag. Megan-hulle moet egter solank aanstoot Malawi toe en daar gaan wag.

En terwyl die ure dié ­Saterdag aangestap het, het Megan ál meer die ergste begin vermoed . . .

Met ons vorige onderhoud, net ná hul suksesvolle reis, het Megan liries geraak oor die Malawimeer met sy kleurryke ­tro­­pie­se visse en die idilliese Likoma-­eiland.

Nou sal dié eiland op die grens met Mosambiek haar altyd aan die hartseerste dag in haar jong lewe herinner – toe sy die pa by wie sy haar liefde vir vlieg geërf het aan die dood moes ­afstaan, die man wat haar self leer vlieg het en haar droomtog van begin tot ­einde ondersteun het.

“Toe ek hoor my pa is dood, wou ek nie huis toe kom nie. Ek wou net alleen op die eiland bly en nooit terugkom nie.”

Toe Megan oor haar laaste woorde aan haar pa praat, is daar min van haar aansteek­like, positiewe houding van ons onderhoud ­sowat twee weke tevore te bespeur.

In die plek van daardie borrelende selfver­sekerdheid is daar nou ’n diep hartseer oor haar gesig geskryf.

Pa en dogter het die aand voor sy dood op WhatsApp gesels. “Ek het geskryf: Love you, daddy, be safe,” vertel Megan, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Op die koffietafel voor haar staan ’n ruiker van die begrafnis wat op 12 Augustus gehou is.

Des en Werner het in Uganda aan die vliegtuig laat werk, brandstof ingegooi en die Saterdagoggend van daar af op­gestyg. Des het die span laat weet hulle sal voor sononder by hulle op die eiland aansluit.

“Dit het later en later geraak, en ons het begin besef die tyd raak min. Toe het ek op ’n hangmat langs die meer gaan sit en wag.”

Die nuus

Op tuisbodem het Belinda ’n oproep gekry van ’n vriendin wat in Tanzanië bly.

“Sy het vir my gesê daar het pas nuus gekom. ’n Vliegtuig met twee Suid-­Afrikaners het geval. Daar is blykbaar geen oorlewendes nie,” sê Belinda, wat ’n opleidingskool vir vliegtuigingenieurs bestuur. Sy wou in daardie stadium nie die ergste verwag nie.

“Ek het nooit in my man se vlieg­vaardighede getwyfel nie, en ek het een van ons kontakte, wat ’n vlieginspekteur in Tanzanië is, gebel.

“Hy het my kort daarna teruggebel en die vliegtuig se registrasienommer gegee. Dit was Des-hulle se vliegtuig . . .”

Die ma en dogters hou mekaar se hande stywer vas, asof hulle probeer om vir die tweede keer die nuus te verwerk.

Des en Werner is op slag dood. Die Tanzaniese burgerlugvaartowerheid ondersoek nog die ongeluk.

“In daardie stadium kon ek nie dink nie. Ek was platgeslaan,” sê Belinda.

“Ek wou net die nuus by Megan kry.”

Dit was Driaan van den Heever (18), Megan se hulpvlieënier, wat die nuus aan haar moes oordra.

Terwyl die vissersbote ingekom het, het hy tot by haar op die hangmat gestap.

“Hy het net afgekyk en niks gesê nie,” vertel Megan. “Dit is toe dat ek weet my pa is dood.”

Megan en haar medevlieë­nier,­ Driaan van den Heev
Megan en haar medevlieë­nier,­ Driaan van den Heever. Driaan het die slegte nuus aan Megan oorgedra. Foto: Fani Mahuntsi

Die tieners het die vliegtuig in Malawi gelos en die volgende dag met ’n kommersiële lugredery teruggevlieg Suid-­Afrika toe, waar Megan, Cindy en Belinda skielik ’n begrafnis moes reël.

“Hy het ons altyd sy drie girls genoem,” sê Belinda met ’n stem wat bewe.

“Ons was die belangrikste ding in sy lewe. Dit gebeur baie dat vlieëniers nie baie tyd saam met hul familie kan deurbring nie. Maar Des het altyd ’n punt daarvan gemaak om vir geleenthede soos verjaardae en ons huweliksherdenking by die huis te wees.”

Cindy, ’n B.Sc.-student aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroom­kampus, vertel hoe Des haar as kind leer ysskaats het.

“Hy het gesê die reling langs die baan is die samelewing. Dis jou gemaksone. Elke keer dat ek soontoe gegryp het, het hy gesê ek moet uit my gemak­sone kom en na die middel van die baan beweeg.”

Tog was Des altyd aan haar sy, reg om haar te vang. Tot Cindy eendag ouder­gewoonte na die middel van die baan geskaats en met die omkyk gesien het haar pa is nie daar nie.

“Hy het op die paviljoen gesit en vir my hande geklap.”

Dís wat sy graag vir hom sou wou sê as sy geweet het daai WhatsApp was die laaste een, sê Megan.

“Baie dankie vir als wat hy vir ons gedoen het. Hy het my en my sussie gevorm in die mense wat ons vandag is; hy het ons gedruk om ons uit ons gemaksone te kry.”

Belinda troos Cindy. Sy vertel haar pa het altyd t
Belinda troos Cindy. Sy vertel haar pa het altyd tyd vir hulle in sy besige rooster ingeruim. Foto: Fani Mahuntsi

Sy terggees en aweregse humorsin sal hulle bybly.

“Hy kon van enigiets ’n grappie maak; selfs toe die gemoedere tydens die Kaap-na-Kaïro-vlug hoog geloop het, het my pa ’n manier gehad om die situasie te ontlont,” vertel Megan oor haar pa se rol in hul epiese lugreis van 31 dae en 24 000 km oor die lengte van Afrika.

Hoe lyk die pad vorentoe vir Des se drie girls, sonder hom?

“Ek dink ons is almal baie sterk en onafhanklike mense,” sê Belinda.

“Maar daar is nou ’n groot deel van ons weg. Elke persoon het sy eie lewensirkel, maar ons as gesin se sirkels het baie oorvleuel.”

In die weke voor haar Kaap-na-­Kaïro-reis het Des vir Megan leer vlieg. Sy het haar privaat vlieglisensie slegs twee dae voor hul vertrek uit Kaapstad gekry.

“Ons het voor skool gaan vlieg, net ek en my pa. Dan sien jy hoe die son oor die horison begin opkom. Dit was baie spesiaal.”

Is sy nou bang om self weer te vlieg?

“Nee, ek was nadat ons teruggekom het bang, maar ná my pa se begrafnis het ek weer in die vliegtuig geklim. Hy is dood terwyl hy gedoen het waarvoor hy lief was.”

Sy beplan steeds om ’n kommersiële vlieglisensie te kry, sê Megan. Wanneer sy hoog bo die wolke vlieg, voel sy die naaste aan haar pa.

“Hy het my altyd geleer om my drome na te volg en hy sou wou gehad het ek moes aanhou doen wat ons albei lief­gehad het: om te vlieg.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.