Vodacom het seker ’n besige oggend beleef nadat data en lugtyd Maandagaand soos mis voor die son van hul kliënte se toestelle verdwyn het.

Die data en lugtyd was net ewe skielik skoonveld.

Maandagaand het Vodacom op hul Twitter-blad laat weet hulle is bewus daarvan dat sommige kliënte nie hul data-bondels kan gebruik nie en dat hulle kennisgewings ontvang het dat hul data-bondel uitgeput is.

“Ons vra verskoning vir die ongerief,” lui die twiet van Vodacom.

Dit het nie hul kliënte gekeer om naels te wys nie. Phumlani Msomi het getwiet Vodacom moet hul kliënte se data teruggee en “nog gee vir ons pyn, vir die trauma en enige ander lyding wat ons dalk ervaar”.

Willem Rabie reken dis onaanvaarbaar dat Vodacom al sy data en lugtyd in ’n oogwink laat verdwyn het.

Nhleko Gado het gesê hy het lugtyd en data gekoop, maar dit was binne twee minute weg.

Ander maatskappye het die geleentheid gebruik om hul produkte te adverteer. Die energiedrankievervaardiger Red Bull het hul leuse aangepas en getwiet: “Wanneer jou data vlerke kry.”

Selfs die voormalige openbare beskermer adv. Thuli Madonsela het betrokke geraak. Sy het aan Vodacom geskryf: “Vodacom, betaal asseblief die kliënte terug. Vir baie beteken dit onder meer ’n verlies aan werk- en studiegeleenthede.”

Vodacom het hul kliënte later ’n reeks twiets probeer gerusstel: “Vodacom is daartoe verbind om te verseker dat alle geaffekteerde kliënte ten volle terugbetaal word. Nogmaals dankie vir jou geduld.”

Hulle het Dinsdag laat weet hulle vergoed kliënte tans vir Maandagaand se probleem.

“Alle buite-bondel-koste word terugbetaal en alle uitgeputte bondels herstel,” het die selfoonmaatskappy beloof.

Dinsdagoggend het Vodacom se woordvoerder, Byron Kennedy, eNCA laat weet hulle het die meeste kliënte reeds vergoed.

“Ons hoop om dit alles deur die loop van die oggend uit te sorteer.” 

Bronne: Enca, Twitter