Baie gis oor of die paartjie verloof is en of die ring, wat nou aan Heidi se niggie se ringvinger pryk, Heidi se trouring was.
Twee foto’s wat Nazisca van der Merwe, die ontslape Heidi Scheepers se niggie, onderskeidelik op 29 Desember verlede jaar en 6 Januarie vanjaar op haar Facebook-profiel gelaai het, pronk sy met die ring aan haar linkerhandse ringvinger.
Dit het in die sosiale media gegons dat die ring op 'n druppel soos "Heidi se trouring" lyk.
In die een foto rus haar hand liefies op Ettienne, Heidi se wewenaar, se bors en met die ander hand wys sy die diamantring, terwyl sy ’n glas wyn vashou.
Só asof die paartjie, wat deesdae openlik in 'n verhouding is, iets vier.
“Is ons verloof?” het Nazisca verbaas op Huisgenoot se navraag reageer. “Omdat ek ’n ring aan my vinger het? Ek is ’n getroude vrou!”
Nazisca het aan Huisgenoot bevestig dit is inderdaad haar niggie se ring, maar ontken dat dit ’n verloofring van Ettienne is. “Dis ’n deel van my niggie wat ek aan my dra. Ek is ’n baie sentimentele persoon, so ek heg baie waarde daaraan. Dis al wat ek gaan sê.”
Ettienne het nie Huisgenoot te woord gestaan nie, maar wel in die agtergrond bevestig hy het Heidi se ring as geskenk aan Nazisca gegee. Nazisca, wat deesdae haar nooiensvan Moolman gebruik, sê in hierdie stadium wil hulle steeds nie ’n onderhoud toestaan nie, want hulle het eers ander persoonlike aangeleenthede wat hulle nou moet afhandel.
'n Beroering oor Heidi se ring
Oplettende gebruikers op die privaat ondersoekende groep in die sosiale media, Murder She Wrote Investigations and Discussion Club, het dadelik opgemerk die ring lyk baie soos Heidi se trouring.
Hoewel die groep se naam baie sinistêr mag klink, word hier hoofsaaklik net onopgeloste sake deur amateur rusbankspeurders bespreek. Vir die lede is daar nog tientalle onbeantwoorde vrae oor wat werklik alles daardie dag afgespeel het. Die gebeure is steeds onderhewig aan ’n onvoltooide polisieondersoek.
Die Voëlklip-tragedie, wat op 22 Oktober 2019, ’n jaar en drie maande gelede, by die skilderagtige uitkykpunt naby Heroldsbaai afgespeel het, het groot opslae gemaak. Ettienne se vrou, Heidi (35), en hul twee kinders, Cozette (6) en Hugo (2), het saam in die gesin se Volkswagen-minibus oor die afgrond in die see beland.
Ettienne het eers sy gesin as vermis aangemeld, maar in die dae wat gevolg het, is Heidi en klein Hugo se lyke wel gekry. Cozette se oorskot is nooit gevind nie.
Die laaste openbare inskrywing, wat Ettienne op 18 Desember op Facebook gemaak het, lui: In ons harte leef jul voort. Daarby is ’n foto van die hartvormige monument met Heidi en die kinders se name, wat opgerig is op die plek waar hulle na hul waterdood gestort het.
Verlede jaar September het Huisgenoot berig Ettienne het net minder as ’n jaar ná die tragedie weer liefde gevind. Dit het tot ’n groot beroering in die sosiale media gelei, aangesien die nuwe vrou in sy lewe Heidi se getroude bloedniggie is.
Intussen het Huisgenoot van die gissings oor die ring verneem.
“Moet ons geluk sê?” wou een Facebook-gebruiker die afgelope week weet.
’n Ander vra toe: “Is dit nie Heidi se ring nie?!”
Een nuuskierige bron, wat baie aandag aan die saak gee en met wie Huisgenoot gepraat het, het foto’s van die ringe na onderskeidelik ’n goudsmit en juweliersontwerper gestuur.
“Hulle het die grootte en omtrek van die ringe bekyk en gesê dit is dieselfde ontwerp en glo dit kan dieselfde ring wees. As dit nie dieselfde ring is nie, is dit identies.”
Intussen het kapt. Malcolm Pojie, Kaapse polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot bevestig die ondersoek na die tragedie duur steeds voort.
In September verlede jaar het hy gesê die ondersoek is in ’n “sensitiewe stadium” en die dossier sal binnekort na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word.
- Kapt. Pojie het Maandag op Huisgenoot se navrae omtrent die vordering van die ondersoek en wat ondersoek word reageer: “Ons het die dossiere teruggekry van die direkteur van Openbare Vervolging, wat dit noukeurig ondersoek het. Sodra die ondersoek met betrekking tot die moord en geregtelike dossiere gefinaliseer is, sal dit terug na die direkteur vir beslissing verwys word. Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.”
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET