Kevin Crane, wat beweer het hy is ’n voormalige kinderakteur, het Parisa Siddiqi (29) Saterdagmiddag doodgeskiet terwyl sy in ’n winkel in The Oaks-winkelsentrum in Thousand Oaks, Kalifornië, gewerk het.

Kevin (33) het by Paper Source waar Parisa gewerk het, ingestorm en in ’n hewige rusie met sy eksvrou betrokke geraak.

Hy het toe ’n vuurwapen uitgehaal en op haar losgetrek voor hy dit op homself gerig het. Luidens berigte is hy tans in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal.

’n Polisiebeampte het gesê Kevin is nog nie van Parisa se moord aangekla nie omdat die owerheid wag om te sien of hy gaan oorleef.

Die paartjie se twee kinders, wat nie in die voorval betrokke was nie, woon nou by familie.

Parisa en Kevin met hul twee kinders. Foto: Facebook (Parisa Siddiqi)

Kevin werk glo as ’n eiendomsagent by Pacific Rim, maar hy het in die sosiale media in sy beroepsopsomming aangedui hy het as kinderakteur vir Disney en Warner Bros. gewerk.

’n Bron wat kennis dra van Disney het egter aan People gesê daar is geen rekord van ’n Kevin Crane wat in ’n reeks of fliek van Disney gespeel het nie. Die publikasie het Warner Bros. probeer kontak, maar hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Kevin Crane beweer hy het as kinderakteur in "Little Giants" verskyn. Foto: Facebook (Kevin Crane Realty)

“Sy was ongelooflik sterk,” het ’n vriendin van Parisa aan People gesê.

“Haar kinders was haar prioriteit. Sy was hul hele wêreld en hulle was hare.

“Ek kan opreg sê sy was ’n lojale vriendin, ’n sterk vrou en ’n absolute vreugde. Sy was ongelooflik deernisvol teenoor vriende en het altyd almal eerste gestel. Ek gaan haar verskriklik mis.”

Bronne: people.com, therealdeal.com, extratv.com