Marilyn Ramos, wat in 2012 die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gewen het, het onlangs verloof geraak aan haar kêrel, Louwrens Mahoney.

Die donkerkop, wat oorspronklik van Klerksdorp in die Noordwes kom, het die goeie nuus Donderdagaand op Instagram en Facebook bevestig toe sy foto’s gedeel het van die oomblik toe Louwrens haar tydens ’n romantiese ete by die Elandela-natuurreservaat buite Hoedspruit die jawoord gevra het.

“’n Biljoen keer ja. Ja, om die vrou te word van die man van my drome, die mooiste mens wat ek ken, my inspirasie en my absolute beste vriend,” het Marilyn by die foto’s geskryf.

“Ja vir nog miljoene herinneringe saam met jou en ja vir ’n absoluut geseënde toekoms saam met jou my engel. Ek is lief vir jou my verloofde.”



Marilyn en Louwrens, ’n voormalige veldmotorfietskampioen, is al vir sowat vyf jaar ’n paartjie en woon albei in Centurion, Pretoria. “Ek is baie opgewonde,” het ’n borrelende Marilyn vanuit Elandela aan Huisgenoot oor die verlowing gesê.

“Dit is baie spesiaal, want dit is eintlik hier waar alles vir ons begin het. Ons is al sowat vyf jaar ’n paartjie. Net nadat ons begin uitgaan het, het ons hier met die renosters kom uithelp,” vertel Marilyn.

Netwerk24 het in 2013 berig hoe Marilyn en Louwrens albei hand bygesit het tydens 'n renoster reddingspoging by Elandela. Tydens haar tyd as Mej. Suid-Afrika was Marilyn ook ambassadeur vir die Elandela-natuurreservaat.

Marilyn en Louwrens het mekaar deur hul kerk en by die veldmotorfietswedrenne ontmoet en mettertyd beter leer ken, vertel sy. Volgens Marilyn het sy glad nie verwag dat Louwrens haar nou al gaan vra om te trou nie. “Ons lewens is so besig so dit was baie onverwags. Maar dit is awesome.”

En hoe het hy die jawoord gevra? “Ons het nog al die jare ’n goeie verhouding met die mense van die reservaat en hulle het my gebel en laat weet hulle wil hul webblad opdateer met nuwe inhoud en foto’s.

"So ons het dieselfde mense wat vir ons foto’s neem tydens die wedrenne gevra om foto’s te gaan neem by die reservaat. Ons het gisteroggend hier aangekom en volgens my was dit net vir die fotosessies vir die webblad.

"Gisteraand het ons op ’n wildrit gegaan en toe gery na hierdie romantiese setting by die een dammetjie. Ek het gedink dit is nou maar net om die lodge uit te beeld en ons is net die modelle, maar toe ons daar aankom het Louwrens vir my gesê hy moet eerlik wees, hy het alles beplan en dit is eintlik ’n verrassing vir my. Toe vra hy my om te trou,” vertel Marilyn.

Sy sê hulle weet nog glad nie wanneer hulle bruilof gaan hou nie. “Ons is nogal besig en met die wedrenne is alles so ver vooruit beplan. Maar ek is seker as hy tyd kon kry om hierdie te beplan sal ons kan plan maak vir later die jaar.”

Marilyn deel graag foto’s op sosiale media van hul besige naweke tydens motorfietswedrenne. 

Marilyn bedryf ook haar eie voorkoms-akademie, die Marilyn Ramos Image Academy, in Klerksdorp wat onder meer werkswinkels vir skoonheidsbehandelings aanbied.

Dit is duidelik die twee is dol oor mekaar.

Baie geluk, julle!