Drie dae ná sy ousus se skielike dood in die eilandparadys waar hulle saam met hul gesin vakansie gehou het, het hy destyds teen sonsondergang in sy pa se hotelkamer ingestap gekom – ’n bruingebrande seuntjie met ’n handdoek om sy lyf en rooigehuilde oë.

Marnuwico Vosloo (toe 11) het daardie middag alleen gaan swem in een van die swembaddens by die luukse Riu Creole-­hotel op Mauritius waar sy gesin veronderstel was om ’n droomvakansie te hou.

Mike en Marnuwico (toe 11) nadat Mundolene gesterf het. In die agtergrond is die weelderige Hotel Riu Creole waar die gesin uitgespan en die kinders voor die tragedie in die swembad waterpolo gespeel het.

Hy het op sy pa, Mike, se skoot gesit, sy kop in sy nek gedruk en hartverskeurend begin huil. Tussen die snikke deur het hy byna onhoorbaar vertel: “Ek het na die hemel opgekyk en gesien waar my sussie is. Sy mis ons . . .”

Mike het sy seuntjie probeer troos terwyl hy teer die trane van sy wange gevee het: “Wees sterk, my seun. Gaan spoel jou gesiggie af. Sussie wil hê ons moet smile, al is dit hoe moeilik. Sy is happier en veiliger waar sy nou is.”

Net dae tevore het die ondenkbare gebeur: Marnuwico se ma, Marietjie, het sy halfsuster, die 17-jarige Mundolene, ’n dag nadat die gesin van Springs aan die Oos-Rand op Mauritius aangekom het in ’n oomblik van woede geklap.

Mundolene het ineengestort en is kort daarna dood verklaar, en Marietjie is deur die owerheid weggevoer en in die tronk toegesluit om op aanklag van moord verhoor te word.

'Ek mis jou, suster, en die lewe gaan nie dieselfde wees sonder jou nie,' het Marnuwico op 3 Desember 2016 by die Instagram-foto geskryf.

In die 18 lang maande in die gevangenis waar sy daarna aangehou is, het een gedagte Marietjie (35) staande gehou: om haar seun weer te sien; weer vir hom ’n ma te kan wees.

Maar net sewe maande ná haar vry­lating in April vanjaar is sy en Mike (48), van wie Marietjie sedertdien vervreem is, pas deur nog ’n tragedie in rou gedompel.

Want minder as twee jaar ná sy geliefde halfsuster se dood het Marnuwico (nou 13) op Sondag 11 November ook gesterf.

Twee kinders; twee sterftes – ’n onhoudbare slag vir die gebroke ouers wat agterbly.

Marnuwico

Op die dag van sy dood het Marnuwico sy splinternuwe helderoranje KTM-veldmotorfiets, wat hy net die vorige dag gekry het, op ’n motorfietsbaan op Mar­gate aan die kus van KwaZulu-Natal, deesdae die Vosloos se tuisdorp, gaan uittoets.

View this post on Instagram

Got a new motorbike today????

A post shared by Marnuwico (@marnuwico99) on

Hy het hom vermoedelik met die krag van sy nuwe speelding misreken en beheer daaroor verloor. Toe hy teen ’n boom bots, is sy nek gebreek. Hy is op slag dood, voor die oë van die au pair in wie se sorg hy was terwyl Mike in die mynwese in die Demokratiese Republiek van die Kongo werk.

Marietjie het op Springs by haar broer en skoonsuster Bertie en Beverly Jacobs gekuier toe sy die tyding kry.

“Ek het net gehoor hoe sy uitroep toe die au pair bel: ‘Nie my kind nie! Net nie my kind nie!’ ” vertel Beverly steeds geskok.

“Ons het dadelik geweet dis Marnuwico.”

Klein Kierie, soos Marietjie haar enigste genoem het, was weg.

Marietjie het ineengestort en haar ander broer, Jan, het gehardloop om suikerwater te gaan haal, vertel Beverly.

“Ek het haar probeer troos. Daar waar sy op die grond gesit het, het sy gesê Kierie het haar aan die lewe gehou.”

Verslae sê Beverly: “Hy was haar alles. Sy het net vir hom geleef.”

Van links is Marnuwico, Mundolene, Marietjie en Mike voor albei sibbes in fratson­gelukke dood is. Foto: Verskaf

Marietjie is nog te geskok en gebroke om oor die tweede tragedie in twee jaar te praat. Al wat sy aan Huisgenoot kon uitkry, was: “Dit voel dit kan nie waar wees nie. Hy was so jonk . . . Hóékom?”

Ook Mike worstel met die vraag waarom hy nou nog ’n kind aan die dood moes afstaan.

“Ek is ’n lewende bewys van die hedendaagse Job,” het hy kort ná Marnuwico se dood in ’n WhatsApp-boodskap aan Huisgenoot gesê.

“Die Satan beproef my tot die uiterste. Wyk, Satan, wyk . . .”

En toe voeg Mike by: “Alle eer aan my hemelse Vader.”

Mundolene

Mundolene het inmekaargesak en gesterf kort nadat Marietjie haar in Oktober 2016 tydens ’n rusie op die eerste dag van die gesin se eiland­vakansie geklap het.

Tydens die hofsaak op Mauritius is bevind sy het weens bloeding op die brein gesterf, maar dat die oorsaak daarvan ’n aneurisme of ’n harde stamp teen haar agterkop kon gewees het nadat sy vroeër die dag in die swembad gespeel het.

Daar was geen bewyse dat die klap tot Mundolene se dood gelei het nie, maar Marietjie is aan aanranding skuldig ­bevind.

Kort ná Mundolene se dood destyds het Mike klein Marnuwico beskryf as “die onskuldige slagoffer van die driedubbele tragedie”. Want nie net het Marnuwico sy geliefde ousus verloor nie; sy ma het ook 18 maande lank op Mauritius in aanhouding gebly en sy pa moes noodgedwonge na sy werk in die buiteland terugkeer.

“My huis sal nooit weer dieselfde wees nie,” het Mike toe aan Huisgenoot gesê, min wetend dat nog ’n kind se plek twee jaar later pynlik leeg sou wees.

’n Passie vir bikes en karre

’n Week nadat Huis­genoot destyds gesien het hoe Mike sy bedroefde seun in sy hotelkamer op Mauritius oor sy sussie se dood troos, het Mike, Marnuwico en sy ouer halfbroer (nou 15) tydens ’n troosdiens op Springs van Mundolene afskeid geneem. Nes Mike en Marie­tjie nou ook vir Marnuwico vir oulaas moes groet.

View this post on Instagram

????‍??????‍??????‍??was lekker tho

A post shared by Marnuwico (@marnuwico99) on

Voor Marnuwico se begrafnis op Maandag 19 November wou die vervreemde ouerpaar niks verder oor die gebeure sê nie. Mike wil sterk staan ter wille van sy enigste oorlewende kind.

Oor Marnuwico het hy voorheen aan Huisgenoot vertel: “Hy het ’n passie vir bikes en karre.” Van kleins af het hy graag knortjor en veldfiets gery.

Huisgenoot het verneem Marnuwico het sy knortjorre verkoop om die nuwe veldfiets te kan koop.

Marnuwico Vosloo het in ’n fratsongeluk gesterf nadat hy sy nuwe veldmotorfiets gaan uittoets het.

“Dit was wat hy graag vir ontspanning gedoen het,” vertel Marnuwico se beste vriendin, ’n 16-jarige meisie van Secunda, Mpumalanga, wat anoniem wil bly.

Hulle het mekaar in skoolvakansies te sien gekry wanneer sy by familielede op Margate gekuier het in dieselfde kompleks waar Marnuwico saam met ’n au pair in sy pa se meenthuis gewoon het. Die afgelope ruk het sy halfbroer ook daar gewoon.

Sy en Marnuwico kon oor enigiets gesels, maar oor Mundolene het hy min gepraat, vertel die vriendin. Dit was ’n seer wat hy diep binne hom gedra het.

“Ek dink hy het altyd probeer sterk bly vir sy broer se onthalwe.

Marnuwico het op 28 Oktober 2016 die foto van Mundolene op Instagram gedeel en daarby geskryf: 'Waarom jy, sus, en nie ek nie'
Marnuwico was baie lief vir sy sus, Mundolene. Hy het hierdie foto ook op Instagram gedeel met die woorde: 'Ek is so lief vir jou, suster'

“Hy was 13, maar hy het ’n beter uitkyk op die lewe gehad as ek. Hy het net altyd die regte manier gehad om ’n situasie te hanteer. Hy het meestal vir my raad ­gegee.”

Op Facebook het sy kort ná sy dood geskryf: “Jy was dalk nie my regte boetie nie, maar jy het soos een gevoel. Marnuwico Vosloo, ons almal loop met die vrae rond: ‘Hoekom? Hoekom jy? Hoekom vandag?’ Boetie, ek sal nooit vergeet hoe jy altyd ge-smile het nie, al het jy die wêreld se probleme gedra.”

Die laaste keer

Marietjie het Marnuwico die laaste keer gesien toe sy in die afgelope skool­vakansie ’n week lank op Margate by hom gekuier het.

Marnuwico en sy ma, Marietjie Vosloo. Foto verskaf

Sy het hartseer teruggekeer na Rus­tenburg, waar sy haar vroeër vanjaar gevestig het, vertel ’n jare lange vriendin, Sandra Vermeulen.

Marietjie was bekommerd dat sy in die lang tyd dat sy van haar seun weg was van hom vervreem geraak het, want hy was baie stil en het meestal net Play­Station gespeel.

“Marietjie se hart was gebreek omdat sy hom so min sien. Sy het elke dag met hom gepraat of WhatsApp-boodskappe gestuur. Sy het hom baie gemis,” vertel Sandra, op wie se uitnodiging Marietjie ná haar vrylating Rustenburg toe getrek het. Sy het onlangs ’n administratiewe pos daar gekry.

Aan Huisgenoot het Marietjie verlede maand by haar nuwe woonplek gesê: “Ek moes aanvaar ek sal nou nie meer my kind elke dag by my hê nie en dat ek op my eie gaan wees.”

Met ons besoek het Marnuwico nog nooit geslaap in die kamer met die rooi beddegoed met karretjies wat sy ma spesiaal vir hom in haar woonstel ingerig het nie.

En nou sal haar seun nooit in sy bed slaap nie; nooit weer deel wees van die lewe en drome wat sy so desperaat weer wou bou nie.

Veldfietse: Moets en moenies

Nes met ’n vierwielmotorfiets is geen rybewys nodig om ’n veldmotorfiets te bestuur soos die een waarop Marnuwico Vosloo verongeluk het nie.

“Daar is geen ouderdoms­perk of enige perk op hoeveel krag die fiets mag hê vir ’n bepaalde ouderdom nie,” sê Phillip Weyer, eienaar van ’n opleidingsentrum, Synergy Racing Academy in Centu­rion.

Al wetlike beperking is dat veldfietse, nes vierwielmotorfietse, nie op openbare paaie toegelaat word nie.

Phillip raai mense aan om eers die nodige opleiding te kry en ook fyner veiligheidsmaatreëls onder die knie te kry voor hulle met een wegtrek.