Die laaste keer wat Denise Christie (32) van Springs aan die Oos-Rand, se ma, Wilna, haar gekontak het, was die Vrydagoggend voor haar dood.

“Ek het die oggend doenig geraak met die kinders en werk en eers later gesien my ma wou weet hoe lyk haar geldsake. Ná my pa se dood het ons die internet banking vir haar hanteer, want sy was nie seker hoe nie. Ek weet nie wat sy die oggend wou gaan doen het nie, maar toe my boodskap later nie deurgaan nie, het ek aangeneem sy is dalk winkels toe . . .”

Wyle Wilna Smit. Foto: Facebook
Wyle Wilna Smit. Foto: Facebook

Die res van die naweek kon hulle haar 53-jarige ma, wat die afgelope drie jaar in Deneysville in die Vrystaat woon, steeds nie in die hande kry nie. Sy het alleen hier gewoon nadat haar man, Gert, wat vir Denise meer soos ’n pa as stiefpa was, kort ná hul trek hierheen in die einste huis aan ’n hartaanval gesterf het.

Denise het later begin dink haar ma het dalk deurgery na haar goeie vriende se plaas naby Krugersdorp. “Daar is nie goeie sein daar nie, maar die Sondagoggend het ons ’n familielid van my stiefpa gevra om te gaan kyk.”

Toe die familielid laat weet haar ma se bakkie staan nog op die erf, maar hy kry geen reaksie by die huis nie, het Denise en haar man, Gideon, dadelik in die kar gespring en deurgery.

Dit was hier waar hulle op haar ma moes afkom.

“Dit was dadelik vreemd dat die voorhek nie gesluit was nie. Was my ma dan so vroeg uit? Die voordeur en veiligheidshek was gesluit. Ons het ’n sleutel vir die veiligheidshek gehad, maar kon nie die voordeur oopgesluit kry nie, want die sleutel was nog binne aan die deur.”

Denise kon deur ’n venster sien haar ma se bed is mooi netjies opgemaak. Hulle is daarna na die agterdeur. Die glasdeur was oopgesluit, maar nie die veiligheidshek nie.

Denise en haar man, Gideon Christie. Foto: Faceboo
Denise en haar man, Gideon Christie. Foto: Facebook/DeniseChristie

Hulle het die voordeur oopgebreek. In die kombuis het Gideon sy skoonma gekry; Wilna se miniatuur worshondjie verdwaald langs haar.

Sy begin huil: “Hy wou eers nie hê ek moes inkom nie. Hy het net gesê . . . jou ma is weg . . .”

Hulle het die paniekknoppie gedruk om die sekuriteitsmaatskappy te ontbied. ’n Mens kan hoor op dié rustige dorpie het hulle baie gedoen om hul ma te beveilig. Daar was selfs ’n kamera op die hoofhek gerig met ’n digitale video-opnemer in haar kamer.

Met die polisie se aankoms het hulle dadelik gesê dit lyk soos ’n hartaanval, ook die ouens van patologie wat haar kom haal het. “Ek kon dadelik sien sy is vermoor.”

Sy vertel die manier hoe haar ma plat op haar rug, arms oop, en blou om haar mond gelê het, het vir haar gesê iets anders het gebeur. Haar ma was nog besig om haar hondjie se kombersies in die waskamer te was. Die roosterbrood wat sy nog per ongeluk gebrand het, was gereed op die hond se bakkie op die kas, waar sy dit vir die hond wou neersit.

Vir Denise was dit baie om in te neem.

“Om te dink my pa en ma is dood, net toe hulle hul pensioen moes geniet.”

Die patoloog sou eindelik aan hulle bevestig haar ma is verwurg.

Sy kan nie daarvan sin maak nie. Denise en haar man het vir die polisie gaan kyk wat in die huis aangaan. Alles was nog in plek, behalwe toe hulle in die kamer kom en sien die kamera se opneemboksie asook die televisie waaraan dit gekoppel was, is weg.

Ook haar ma se selfoon.

Die motorhuis se sleutel is tot vandag toe weg. Wat baie vreemd is, is dat haar ma se aanvaller so ver gegaan het om die veiligheidshek (by die agterdeur) agter hom te sluit en die sleutel na binne te gooi.

“Dit het nie soos ’n gewone roof gelyk nie. Niks was opgemors of uit die kaste gegooi nie. Dis asof die aanvaller net die bewysstukke wou vat.”

Denise moes ook hoor die polisie het glo geen afdrukke gekry nie. “Hoe gebeur dit? Dat hulle nie eens my ma, wat daar gebly het, se vingerafdrukke kon kry nie?”

Intussen worstel sy met die vrae oor haar ma se laaste oomblikke: haar ma, wat ’n omgeemens was en altyd vir almal om haar gehelp het. Verlede jaar toe borskanker by haar gediagnoseer is, was haar ma daar met haar chemoterapie, ook met haar mastektomie. Die bestraling gaan sy nou alleen moet ondergaan.

“Ek kan nie dink wie my ma soveel leed sou wou aandoen nie. Sy het nog nie eens lank daar gebly nie . . . Ek kan nie dink hoe ek moet aangaan nie. Ek het nie vrede nie. Dié persoon het soveel van ons, ons kinders, gesteel.”

Wat die polisie sê

Kol. Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder het Dinsdagmiddag aan Huisgenoot bevestig dat ’n moordondersoek aan die gang is, ook dat die televisie en digitale opnemer wat in haar huis was, weg is.

“Aanvanklik is ’n geregtelik doodsondersoek geloods, maar dit is later na moord verander nadat die patoloog bevestig het die oorledene is verwurg.” 

Oor bewerings dat geen vingerafdrukke gevind is nie sê sy: “Die toneel is deur lede van die kriminele rekordsentrum besoek en vingerafdrukke is gelig, maar as gevolg van die sensitiwiteit van die saak kan geen inligting verder hieroor geopenbaar word nie. Die ondersoek duur voort om alle moontlike leidrade op te volg om die verdagte/s op te spoor.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe