“Dit is nou al maande later en ons kan nog steeds nie tot verhaal kom nie,” sê Elzette Vorster huilend oor die foon. 

Haar broer, Ruan Voges (24), het op 6 Maart by sy neef in Parys in die Vrystaat gaan kuier toe die voorval gebeur het. Hulle het by ’n kroeg gaan kuier en om middernag Breëstraat oorgesteek toe hy deur ’n grys bakkie getref is.

Volgens ooggetuies het die bestuurder gestop om te sien wat gebeur het en toe weggejaag. 

Ruan is na ’n Bloemfonteinse hospitaal geneem waar hy ’n dag ná die ongeluk dood is. 

Foto: Facebook/Ruan Voges
Foto: Facebook/Ruan Voges

Elzette sê dat daar wel ’n verdagte was, maar die polisie kon hom nie met sekerheid op die toneel plaas nie. Die verdagte het sedertien in Augustus sy eie lewe geneem. 

“Dit is vir ons hartverskeurend om nie antwoorde te kry nie. Hoe is dit moontlik dat niemand op die toneel die bakkie of die man kan identifiseer nie?

“Hoe los jy iemand net so in die pad soos ’n dier en ry weg? Iemand moet boet vir wat hulle gedoen het.” 

Elzette sê sy het Ruan sowat twee jaar laas gesien omdat sy in Ellisras woon, maar hulle het gereeld mekaar gebel. 

“Ons was baie geheg aan mekaar. Dit was my boetie en daar is nou ’n groot leemte weens iemand anders se nalatigheid.”  

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe