Die 29-jarige Londenaar en werknemer by 'n gesondheidstegnologie-saak ly aan 'n seldsame toestand – "slaapverwante eetsteuring" (SVES) – wat haar dikwels laat weglê aan omtrent alles wat sy in die hande kry terwyl sy in droomland is.

En dis blykbaar 'n familiekwaal, want haar pa, Junior, worstel ook al die jare daarmee.

Sara se SVES het haar al erg in die verleentheid gestel, soos die keer toe sy haar een oggend werk toe haas sonder om eers mooi in die spieël te kyk en daar gerasperde kaas uit haar hare val terwyl sy 'n belangrike voorlegging doen.

Sara en haar ma, Susie. Foto: Instagram

Stres kan blykbaar dié toestand vererger, en sy het ook al met 'n halwe hamburger onder haar kussing ontwaak. Vandag hou sy egter doelbewus nie meer gemorskos in die yskas aan nie.

Die mense na aan haar word ook nie gespaar nie – sy het byvoorbeeld al haar familie se hele kaasbord-versameling vir Kersfees in haar slaap kaf gedraf.

"Ek probeer balans handhaaf deur heelwat oefening, maar my toestand maak dit nogal moeilik om die kilojoules te tel,'' het Sara vroeër vandeesmaand teenoor Britse koerante geskerts.

Sy hou nou deurgaans druiwe in die yskas, blykbaar 'n gunsteling wanneer sy so in haar slaap peusel, "en ten minste gesond".

Buiten dat haar ma, Susie, destyds snags borde eetgoed vir haar pa begin uitsit het, is Sara se vroegste herinnering aan haar eie SVES-simptome toe sy in 2007 'n half geëte grondboontjie-brosbeskuitjie in 'n wortel-en-uie-doopsous in die yskas aantref.

Omdat sy toe alleen gewoon het en nooit so iets bewustelik sou doen nie, het sy besef sy’s stellig self 'n slaap-eter.

Sy het ook al 'n vreemde kombinasie van eiers, piesang, rissie en kouevleis in 'n kleipot tuis aangetref. Of sy daarvan geëet het, is steeds 'n ope vraag, want Sara kan nooit iets van haar SVES-manewales onthou nie.

Random apartment potluck placement turned #soulmate #besties @court_neyd #snakesaturday

A post shared by Sara Perry (@sjperry2) on

Op 'n kol het sy dit selfs met sterk slaapmiddels soos zolpidem probeer beheer, maar dit gou gelos uit vrees dat sy daaraan verslaaf kon raak.

Intussen fokus sy maar op die snaakse kant van alles, deur byvoorbeeld die "bewyse" van haar slaapstreke op Instagram te plaas, tot groot vermaak van familie en vriende.

So vertel sy by 'n kiekie van 'n patat wat lyk asof dit onder 'n knaagdier deurgeloop het: "Ek doen dit al van jongs af, maar 'n rou patat is 'n nuwe een vir my. Ja, vandag ontwaak ek toe terwyl ek met hierdie outjie lepel lê. Jip, ek’s 'n weirdo!"

A post shared by Sara Perry (@sjperry2) on

Sy het agterna trouens redelik las gehad van gevoelige tande en seer tandvleis.

  • Medici onderskei tussen nagtelike slaapverwante eetsteuring (nocturnal sleep-related eating disorder, NSRED) en nageetsindroom (night eating syndrome, NES). Mense met eersgenoemde eet terwyl hulle slaap en sal byvoorbeeld kos in die kombuis berei sonder enige herinnering daaraan. Daarenteen is NES-lyers by hul volle positiewe wanneer hulle snags eet; hulle sal tipies sukkel om weer aan die slaap te raak tensy hulle eet. Albei toestande kan egter 'n mens se voeding benadeel en neerslagtigheid en gewigsprobleme veroorsaak.
  • Die Britse popster Robbie William, oorspronklik van Take That-faam, ly glo ook aan slaapverwante eetsteuring.

Bronne: Instagram, inkphy.comthesun.co.ukwebmd.com