Op 25 Augustus verlede jaar het klein Mienke Mulder die land se hartsnare geroer toe sy op agt maande aan haar melk verstik het by ’n dagmoeder in Mbombela. Sy het ernstige breinskade opgedoen en kan vandag steeds nie eet, sluk, sit of iets vashou nie. Mienke word in Januarie twee jaar oud. 

Nou het sy nog ’n uitdaging. 

“Haar lyf swel verskriklik. Die dokters weet nie waarvan dit is nie, maar dis so geswel dis moeilik om haar bene te buig. Sy haal swaar asem en is sommer net ongelukkig,” vertel haar ma, Verna, aan Huisgenoot. 

“Dit het letterlik net oornag gebeur.” 

Mienke is baie ongemaklik maar dokters weet nie waarom haar lyfie swel nie.
Mienke se ma, Verna se dit is moeilik om haar jongste kind so ongemaklik en ongelukkig te sien.

Mienke verstik ook daagliks aan haar eie spoeg en hou op asemhaal omdat sy nie kan sluk nie. Sy word deur ’n buis in haar maag gevoer. 

“Sy is baie geïrriteerd. Ek kry haar so jammer. Ek onthou hoe ek tydens swangerskap geswel het, en sy is 10 keer erger geswel. Haar lyfie voel sommer so warm,” sê Verna. Die gesin van vyf het teruggetrek Benoni toe ná Mienke se ongeluk.  

Dokters het nou al bloedtoetse gedoen en na haar hart gekyk, maar sukkel om die oorsaak van die swelling te bepaal. “Ons gaan nou urinetoetse ook doen.” 

In die tussentyd bid haar gesin dat hulle die oorsaak van haar swelling kan bepaal. 

“Ons het darem nou nuwe hoop. Mienke se neuroloog het ons vertel van intense terapie in Indië waarvoor sy Mienke wil stuur. Dit is vir mense met breinbeserings, en dit het glo goeie resultate. Ons benodig egter R500 000 om haar te stuur. Ons wil haar graag teen die einde van die jaar stuur,” sê Verna. 

“Net haar terapie op ’n Woensdag kos R3 500,” sê Verna. 

Mienke se aanlyn volgelinge op haar Facebookblad, “Please Pray for Mienke”, stuur steeds byna daagliks boodskappe van bemoediging aan haar ouers en haar. Mienke se fonds verkoop ook nou parfuum om te help om haar mediese koste te dek.

Tog bly die gesin positief. “Ek sal enige iets vir my kinders doen,” sê Verna.