Lede van die Valke se dwelm-wetstoepassingseenheid, SANEB, het die afgelope week na 'n "intelligensiegedrewe ondersoek" op 'n dagga-kwekery in 'n ou kerksaal in Piket-Bo-Berg toegeslaan.

Hawks/SAPS
Foto: Verskaf/Hawks/SAPD

"'n Volledige hidroponiese dagga-laboratorium met 'n groot klomp daggaplante, ter waarde van R700 000, is blootgelê en twee verdagtes is vir dwelmhandel in hegtenis geneem," sê kapt. Philani Nkwalase, die Valke se woordvoerder.

Hennie Bredenkamp (54) en Cornelius Jacobus (Nelco) Coetzee (30) het daarop in die Piketberg-landdroshof verskyn, meld hy aan Huisgenoot. "Die saak is egter nou na 12 September uitgestel en hulle is op borgtog van onderskeidelik R5 000 en R1 000 vrygelaat.”

Hawks/SAPS
Foto: Verskaf/Hawks/SAPD

Hidroponika of waterkultuur behels die kweek van plante sonder grond. Plante soos tamaties, komkommers, blaarslaai, rissies – en dikwels dagga ook – word met hul wortels regstreeks in mineraalryke wateroplossings gekweek.

Soms word plaasvervangermateriale vir grond soos sand of gruis ook ingespan. Die vermeende voordeel (of nadeel, afhangend van plantsoort en gebruik) is dat die wortels se regstreekse blootstelling aan wateroplossings jou plante meer skop gee: die wortels hoef nie eers vog en voedingstowwe in grond te soek en onttrek nie.

Party verskaffers het vroeër vanjaar gesê hulle het 'n merkbare toename in die aankoop van hidroponika-toerusting bespeur ná die konstitusionele hof se wettiging van die private gebruik van dagga einde verlede jaar.

Hawks/SAPS
Foto: Verskaf/Hawks/SAPD

Maar kapt Nkwalase sê aan Huisgenoot die kerksaak op Piketberg wys opnuut dat die gereg jou gaan vasvat as jy dalk kanse vat met jou vertolking van die nuwe wetgewing: "Handel dryf in dagga in hierdie land is steeds onwettig. . . en as jy byvoorbeeld 'n kweeklaboratorium van dié aard het, is dit natuurlik nie vir persoonlike gebruik nie."

Met ander woorde, die wetstoepassers kan steeds met jou gal werk as hulle jou betrap met hoeveelhede dagga wat op handel dui, en nie bloot vir persoonlike gebruik nie.