Dit is twee weke nadat Danie, wat in Newcastle in KwaZulu-Natal woon, sy nier vir klein Conor geskenk het, maar dit het meer as ’n jaar geduur om eindelik goedgekeur te word.

Danie, eienaar van die Newcastle Cougars-stoeiklub, was in Desember 2018 by ’n stoeigeleentheid toe hy Conor se pa, Hennie, oor Conor se gesondheidsprobleme hoor praat het. Conor se boeties stoei by die Boksburg-stoeiklub en Danie het al die Van Baalen-gesin op stoeikompetisies gesien. 

“Toe ek hoor Conor het ’n nier nodig, het ek omgedraai, Hennie in die rede geval en gesê hy kan my nier kry,” vertel Danie doodluiters aan Huisgenoot.

Conor se ma, Santie, vertel haar eerste reaksie was ongeloof.

Foto: Verskaf
Hennie, Santie en hul twee jongste seuns, Kody (links) en Conor.
Foto: Verskaf
Conor (regs) en sy tweelingboetie, Kody, kort nadat hulle begin vermoed het dat Conor sieklik is.

“Conor ly aan ’n genetiese niersiekte waar sy eie immuunstelsel sy niere aanval. Ons het al op 18 maande agtergekom iets is nie lekker met sy gesondheid nie en toe het ons toetse laat doen,” vertel sy.

Conor is een van ’n tweeling en het ook twee ouer boeties waarvan die oudste 20 jaar oud is.

“Nie een van ons ander seuns het die siekte nie. Ek sê altyd Conor was my sterkste baba, maar die afgelope Desember (voor sy oorplanting) het hy so verswak dat hy gesukkel het om die trap by ons huis te klim,” vertel Santie.

Foto: Verskaf
Conor is kleiner as ander ses jariges en het voor die oorplanting gesukkel om 'n normale lewe te lei.

’n Maand nadat Danie aangebied het om sy nier te skenk, het Conor se ouers hom gebel en gevra of hy ernstig was.

“Ek was doodernstig. My hele gesin het my ondersteun. My dogter, Dannel, moes toe sy 17 jaar oud was, ’n groot hartoperasie kry; dus weet ek hoe moeilik dit is as jou kind siek is,” sê Danie.

’n Jaar lank moes Danie verskeie mediese toetse ondergaan om seker te maak hy is gesond genoeg om ’n nier te skenk.

“Omdat hy nie familie is nie, moes dit ook deur die departement van gesondheid goedgekeur word,” vertel Santie.

“Ons is eintlik baie gelukkig dat dit so vinnig gebeur het. Omdat Conor ’n genetiese siekte het, kon ek of my man of die ander seuns nie ons niere skenk nie.”

Toe Conor nierversaking begin kry, het hulle hom op die nieroorplantingslys gesit en hy was 106de op die lys aan die einde van 2018. 

“Hulle het vir ons gesê ons kyk na ’n wagtydperk van so agt jaar (voor hy ’n oorplanting sal kry). Sedert sy niere ingegee het, moes hy daagliks elke drie uur dialise ontvang voor sy nieroorplanting,” vertel sy.

Toe Conor se tweelingboetie, Kody, vanjaar gr. 1 toe is, moes hy agterbly.

“Hy raak so vinnig moeg. Ons het gehoop hy kon saam met sy boetie begin, maar die goedkeuring vir die oorplanting het tyd geneem en hy was nie daartoe in staat nie.”

Die Van Baalen-gesin hoop dat Conor oor drie maande op skool by sy boetie sal kan aansluit.

“Hy lyk reeds gesonder. 'n Mens kon sien hy is vreeslik sieklik voor die oorplanting. Hy is gister ontslaan nadat hy Danie se nier twee weke gelede gekry het. Hy voel goed en dit gaan goed. Hy vertel my so ewe Danie is sy beste maatjie,” lag Santie.

Danie vertel hy het daagliks by Conor gaan kuier. Ook toe albei van hulle in die Morningside-kliniek in Johannesburg was.

“Ek het gesê ek gaan gou by my linkernier kuier. Conor is mos nou deel van my, of eintlik is ek deel van Conor. Daai is ’n spesiale seuntjie,” sê Danie.

Foto: Verskaf
Conor en Danie herstel albei goed.
Foto: Verskaf
Danie het daagliks in die hospitaal by sy 'tjommie' 'n draai gaan maak.
Foto: Verskaf
Conor en Danie in die hospitaal voor die oorplanting.

Danie is intussen huis toe en dit gaan goed met hom.

“Ek is effens seer en ek moet vir die volgende jaar van die stoeimat wegbly, maar dis alles die moeite werd,” vertel hy.

Hoewel Conor heel moontlik nooit soos sy ander boeties sal kan stoei nie, hoop Santie dat Conor nou net ’n gewone kind kan wees. “Hy is soos ’n grootmens in ’n kind se lyfie. Dit moet nie so wees nie. Hy moet hom nie oor hospitale en dinge bekommer nie. Hy gaan nou nie kan stoei nie, maar miskien sal hy iets soos swem kan doen,” sê sy.

Conor het egter steeds die niersiekte en dit is onduidelik hoe lank sy nuwe nier sal hou.

“Al gee ek net vir die kind nog vyf jaar van gesond wees, was dit die moeite werd,” vertel Danie.

Santie sê hulle sal vir ewig dankbaar wees aan die ‘byna vreemdeling’ wat sy nier vir hul seun geskenk het.

“Ek wil mense aanmoedig om as ’n orgaanskenker te registreer. Jy kan soveel mense se lewe direk en indirek  raak. Jou impak kan enorm wees,” sê sy.

Om as ’n orgaanskenker te registreer gaan na www.odf.org.za en onthou om jou geliefdes in kennis te stel van jou besluit om jou organe te skenk.