“Dit gaan baie lank neem om dié saak af te handel,” voeg Willem by oor die aanklagte teen Sean. Hy het Vrydagoggend vir die tweede keer in die hof verskyn waar ’n tweede klag van moord teen hom in die landdroshof in Kaapstad gevoeg is.

Hy is in September in hegtenis geneem vir die moord in 2013 op dr. Anrich Burger (43), sy verlamde doktersvriend.

“Ons het ’n reis gedeel saam met dr. Anrich Burger en dit is hartseer dat dit hier (in die hof) opgeëindig het,” het dr. Sean Davison vroeër in ’n e-pos aan Huisgenoot gesê. As deel van sy borgvoorwaardes mag hy nie tans met die media praat nie.

Huisgenoot het destyds die storie gebreek dat Anrich – wat ’n gewilde pediater was voor hy in ’n motorongeluk verlam is– met Sean se hulp wou sterf. Hy was ’n kwadrupleeg, maar dit was veral die chroniese neuropatiese pyn wat hy nie meer kon verduur nie.

Dr. Anrich Burger en prof. Sean Davison het graag saam skaak gespeel. Foto: Corrie Hansen

“Drie maande ná my ongeluk het ek myself met pille probeer doodmaak, want ek het geweet van al die komplikasies: die blaasontsteking, die nierstene, die bedsere . . . .” het Anrich in September 2013 eksklusief aan Huisgenoot vertel.

“Niemand weet presies hoekom mense met ’n rugmurgbesering sulke kwaai pyn ervaar nie,” het hy bygevoeg.

“Dit gaan alles oor meelewing,” het Sean, ’n boesemvriend van Anrich,destyds oor bystandselfdood verduidelik.

Prof. Sean Davison Foto: Misha Jordaan

Adv. Megan Blows, staatsaanklaer, het bevestig die staat het baie vordering gemaak in die ondersoek en ’n tweede klag van moord teen Davison aanhangig gemaak. Dit hou verband met die dood van Justin Varian, ’n motorneuronsiektelyer, wat op 25 Julie 2015 in Frensnaye, Kaapstad, dood is.

Die staat voer aan Davison het ’n plastieksak oor Varian se kop getrek en helium daarin ingespuit om hom te versmoor. Die saak teen Davison is tot 29 Januarie uitgestel en hy is steeds op borgtog uit.

Hy het voorheen vyf maande huisarres in Dunedin, Nieu-Seeland, uitgedien omdat hy sy terminaal siek ma, Patricia, in 2006 gehelp het om te sterf.

Willem hoop dat Sean se sake saamgevoeg sal word met dié van dr. Sue Walter en Dieter Harck, wat albei terminaal siek is en die reg wil hê om hul eie lewens te neem. Sean het al in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê. “Ons moet ophou om agter tegniese gebrabbel weg te kruip.

Daar moet gevra word: 'Watter soort laat toe dat terminaal-siek mense ongelooflik moet ly omdat dit (genadedood)’n omstrede saak is'?”

Ekstra bron: dailymaverick.co.za