Siam Lee (20) het verlede Donderdag vermis geraak kort nadat sy haar werkplek in Margaret Maytomlaan in Durban-Noord verlaat het.

Die polisie het bevestig familielede het ’n lyk wat gedeeltelik verbrand is en Woensdagmiddag in ’n suikerrietveld naby New Hanover gevind is, as Sam se oorskot geïdentifiseer. 

“Dit (die ontdekking van haar lyk) is die moeilikste ding om te verwerk,” het Katie (20) aan Huisgenoot gesê.

Katie kan steeds nie glo Siam is dood nie. 

“Ek het gister gedink selfs al het ons nie so gereeld gesels soos ek graag sou wou nie, voel dit onwerklik om te weet sy is nie meer net ’n oproep weg of altyd daar om te help of my te vertroos nie.”

Katie sê hulle was vanaf 13-jarige ouderdom bevriend.

“Ons het mekaar deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet en het dadelik goed oor die weg gekom. Ons het albei gehou van pret, het saam ontspan en het selfs mekaar uitgedaag om simpel goed te doen.

“Sy was waarskynlik een van die liefdevolste en vrygewigste mense wat ek geken het.”

Katie sê dit het ’n rukkie geduur voor dit werklik ingesink het dat haar vriendin weg is. 

“Ek het eers geen reaksie gehad nie, maar dit het my ’n paar uur later getref en alles het verwarrend gevoel. Dis nog steeds so verwarrend.”

Sy voeg by dis moeilik om haar vriendin te beskryf, maar sy sal altyd onthou hoe Siam die beste van ’n slegte saak kon maak.

“Sy was altyd blymoedig; selfs al het sy nogal ’n moeilike lewe gehad, was sy optimisties deur dit alles.”

Siam se lyk is sowat 100 km ontdek van waar sy laas lewend in Durban gesien is. 

’n Finale bevestiging sal eers gemaak word nadat DNS-resultate ontvang is, het lt.kol. Thulani Zwane, ’n polisiewoordvoerde gesê.

Volgens Sue Foster, ’n vriendin van die Lee-familie, het Siam sedert Oktober verlede jaar dreigemente van ’n onbekende man ontvang. Hy het haar glo ook agtervolg.

Kring-TV-beeldmateriaal in Margaret Maytomlaan wys hoe Siam na bewering deur die bestuurder van ’n swart Mercedes met ’n Gauteng-registrasienommer ontvoer word.

Katie sê Sam het nie oor die man met haar of enige van hul gemeenskaplike vriende gepraat nie. 

“Dit voel nog so onwerklik, maar ons almal help mekaar dit verwerk. Om die goeie tye en wie sy was te onthou help baie.”