Soos soveel kere tevore kruip sy uit doodsvrees in die hangkas weg. Sy weet die vuishoue gaan kom.

Maar soos altyd is dit vergeefs – hy sleep haar uit die kas en sy moet weer sy dronk tirade verduur; die aanranding trotseer. Nes elke ander keer smeek sy om haar lewe wanneer hy sy pistool op haar rig.

Dis die laaste keer, besluit sy snikkend nadat haar man hom uitgewoed het. Nooit weer sal hy met sy drankasem in haar gesig skree en dreig “ek gaan jou vrekskiet” nie.

Toe hy by die deur uitstap en die agterligte van sy polisiemotor verdwyn, tel sy haar dogtertjie in haar arms op en vlug uit hul huis op Ventersburg in die Vrystaat.

Kort daarna lê sy soos ’n voortvlugtige plat op die agtersitplek van ’n bakkie, haar kind in haar arms, terwyl ’n vriendin hulle uit die dorp neem. Terug na haar ouerhuis buite die dorp.

Dit was 2006. Sy was daardie nag angsbevange, maar ook vol hoop vir ’n nuwe lewe sonder vrees, vuishoue en doodsdreigemente. Vandag glo Liana de la Hunt haar besluit om te vlug het haar lewe gered.

Want haar eksman, die polisiebeampte Jan de la Hunt, is verlede Oktober in die rondgaande hof op Virginia tot 12 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op sy derde vrou, Twanette.

Vermoor: Twanette is deur haar man, Jan de la Hunt doodgeskiet. Foto: Facebook/Twanette de la Hunt

Liana was Jan se tweede vrou met wie hy getroud was voor hy Twanette ontmoet het. Sy praat vandag die eerste keer oor haar beweerde ontberings, want sy voel veilig met Jan agter tralies.

Skaars ’n maand nadat sy padgegee het, hoor sy op haar ouers se kleinhoewe in die Ventersburgdistrik dat ene Twanette Oostendorp by Jan ingetrek het. “ ‘Ek het haar oor en oor gewaarsku,” onthou Liana.

Maar verniet, want Twanette het met Jan getrou nadat Liana van hom ge- skei het. Eers jare later sou Twanette glo teenoor Liana bieg: “Jan mishandel my ook.”

Toe, op 27 April 2016, skiet Jan vir Twanette dood – in dieselfde huis waaruit Liana met hul dogtertjie gevlug het.

“Ek het gewéét dis moord die oomblik toe ek van Twanette se dood hoor. Ek het gewéét dis hy; dat sy met haar lewe geboet het omdat sy te lank gehuiwer het om te vlug,” sê sy.

“Nou sit ek vandag hier en besef die loop van sy geweer kon ook die laaste ding wees wat ek gesien het. Maar dit wás nie.”

Meer as 10 jaar ná haar beweerde gewelddadige huwelik met Jan is sy steeds met afgryse vervul oor wat sy moes deurmaak, vertel Liana in haar en haar nuwe verloofde se huis op Theunissen in die Vrystaat.

Dis die eerste keer in jare dat sy die moed vind om te praat oor haar beweerde verbale en fisieke mishandeling: “Dit het my geknak.”

Sy en Jan het mekaar in 1996 ontmoet. Sy was ’n assistentbestuurder by ’n hotel op Ventersburg waar hy ’n paar dae ge-bly het. Jan was toe pas geskei van sy eerste vrou, Juanita.

Jan in die rondgaande hof op Viriginia tydens sy verhoor vir die moord op Twanette. Foto: Beeld/Alet Van Der Walt

“Ons was smoorverlief,” onthou Liana. “Hy was ’n rustige mens; baie sjarmant en goed met woorde. Ek was vinnig baie verknog aan hom.”

Die polisiebeampte was wel baie jaloers, maar sy het nooit kon dink die jaloesie sou oorgaan tot mishandeling nie.

“Ek was jonk en onnosel . . . en oortuig dat jaloesie deel is van enige verhouding,” verduidelik sy.

“Eers nadat ons in Mei 1998 getroud is, het ek besef hy is glad nie die mens wat ek gedink het hy is nie. Skielik het hy my begin voorskryf hoe ek moet aantrek en my hare stileer. Maande later moes ek heeltemal ophou grimering dra. Nog later is ek in die huis toegesluit soos ’n hond in ’n hok.”

‘Toe spuit hy gif in my oë, stamp die deur oop en slaan my’

Hy het haar glo ook van haar vriende en familie begin weghou.

“Tog het ek ten spyte hiervan eers werklik besef iets skort toe my oupa my op ’n dag ná ’n kuier ’n drukkie gee om my te groet.

“Ons was skaars by die huis toe die beskuldigings begin: Ek is ’n hoer . . . Ek dra grimering, want ek hoer rond.”

Die mishandeling het in die weke hierna begin, beweer Liana.

“Jan het baie gedrink. Wanneer hy dan besope by die huis kom, het ek altyd onder sy tong deurgeloop. Iets soos die televisie se afstandbeheerder wat skeef lê of ’n koppie wat uit plek staan, sou hom woedend maak. “Dan het hy in sy besopenheid opgemerk ek dra lipstiffie en vir my gesê: ‘Waar het jy gaan hoer?’ Daarna het hy sy pistool op my gerig en my gevra of ek wil doodgaan.

“Hy het my sielkundig afgebreek. Almal op die dorp was mal oor Jan-polisieman; almal het hom gerespekteer. Hy het vir sy hele familie en vriende vertel hoe mal ek is . . .”

Hy het ’n plan gehad: Wanneer ek die dag oor die mishandeling praat, sou almal al jare lank hoor hoe mal ek is.”

Een aand het sy woedebui glo so handuit geruk dat sy die Here gesmeek het om Jan se lewe te neem, bieg Liana.

“Hy het my rondgepluk, maar ek kon uit sy greep ontsnap en in die spaarkamer wegkruip. Toe dit stil raak, het ek deur die sleutelgaatjie gekyk. Toe spuit hy gif in my oë, stamp die deur oop en slaan my met sy polisieflits oor die kop.”

“Ek wou hê die Here moet hom vat – wegvat – vir altyd.”

Tog het sy gebly omdat sy geglo het elke voorval was die laaste. “Dit was nie, want weke later het ek hom een aand in die badkamer met die pistool teen sy kop aangetref. Ek het gesê hy moet kalmeer, toe druk hy die pistool teen my kop en vra: ‘Wil jy vandag vrek?’ “Ek het na die sitkamer gehardloop, waar sy ma besig was om aandete op te skep.

“Toe kom hy singend uit die badkamer geloop, en toe ek hom konfronteer, sê hy: ‘Sien jy, mammie? Ek sê jou mos sy is mal.’ Hy was ’n meesterlike manipuleerder.”

Liana sê sy het minstens drie keer van Jan probeer vlug voor daardie laaste suksesvolle keer. “Ek onthou hoe bang ek in die eerste paar weke was nadat ek weggehardloop het. My ouers was so dankbaar ek leef; dat ek eindelik kon insien hoe hy my mishandel en my jongmenslewe vernietig het.”

Sy het van die begin af vir Twanette se lewe gevrees toe sy hoor Jan staan weer op trou.

“Ek het haar gesmeek om weg te kom, maar sy het gesê sy is lief vir hom. Ek het vir haar gesê hy gaan haar eendag doodmaak.” En toe skiet Jan sy derde vrou dood in die huis waaruit sy tweede vrou gevlug het. Liana het die dag ná die moord in 2016 op Facebook van die “skietvoorval” gelees.

“Ek het dadelik geweet Jan het hierdie keer nie net gedreig nie.”

Hy is in dieselfde week van moord aangekla, maar is op borgtog vrygelaat. In die twee jaar voor sy skuldigbevinding op 6 Oktober verlede jaar is hy weer getroud – die keer met Geolene van Zyl, sy vierde vrou.

Geolene de la Hunt, Jan se vierde vrou, gee hom ’n drukkie kort nadat hy aan moord skuldig bevind is. Foto: Beeld/Alet Van Der Walt

Met die verlede hou sy haar nie meer op nie, want vir die eerste keer in haar lewe weet sy nou wat ware liefde is, sê Liana.

Dit is Nico Bouwer, haar verloofde en lewensmaat van twee jaar, wat die mure om haar kom afbreek het.

“Die Here het ’n gebroke mens gesien en geweet Nico sal my weer kan heelmaak. Hy is my steunpilaar. Dis steeds vir my pynlik moeilik om mans te vertrou, maar die geduld en liefde wat hy my gee, kan net van die Here af kom.

“Vir die eerste keer weet ek wat ’n normale verhouding is: een waarin ek soos ’n gelyke voel, ’n mens wat geliefd is en kan hoop en droom. Nié ’n vloerlap vir ’n dronkaard met ’n pistool nie.”

  • Adv. Pieter Nel, Jan de la Hunt se regsverteenwoordiger, het aan Huisgenoot bevestig dat hy in die laat 1990’s ook deur sy eerste vrou, Juanita, aangekla is van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy het aangevoer De la Hunt het gedreig om haar te vermoor, haar gereeld met sy dienspistool gedreig en rondgestamp. Hy is destyds onskuldig bevind op hierdie klagte. Nel sê benewens Twanette se moord is Hunt ook skuldig bevind aan die hanteer van ’n vuurwapen terwyl hy onder die invloed van drank was. Volgens Nel kan hy egter nie op Liana se bewerings reageer nie omdat sy nie ná Twanette se dood in De la Hunt se moordverhoor getuig het nie.