Sedertdien het Lauren Richmond (22), oorspronklik van Huddersfield, Engeland, vertel van ’n verhouding van twee jaar wat gekenmerk is deur stormagtige tye, ’n beheervraat wat haar verbied het om grimering te dra en die laaste wrede aanval wat eindelik in die hof gedraai het.

Haar gewese verloofde, Jordan Greaves (23), ’n ligakrieketspeler, is skuldig bevind aan die aanranding op Lauren. Hy is tot 180 uur gemeenskapsdiens gevonnis en mag ’n jaar lank geen kontak met Lauren maak nie.

Greaves moes ook vergoeding van sowat R4 500 aan haar betaal. Sy rybewys is vir 20 maande opgeskort.

Lauren het twee maande nadat hulle mekaar ontmoet het, by Jordan ingetrek.

“Ons was verlief en alles was net so perfek,” vertel sy. Boonop het sy Greaves ervaar as ’n gawe man met ’n goeie hart. Tot hulle na sy tuisdorp getrek het.

“Hy het obsessief oor my en my lewe begin raak. Dit was eers ligte opmerkings oor klere en grimering.”

Sy moes selfs haar gewone daggrimering verwyder omdat hy haar daarvan beskuldig het dat sy dit doen om mooi te lyk vir mans.

Sy sê wanneer sy toppies gedra het, moes dit haar geheel en al bedek. Die ligte opmerkings het intenser geword.

Lauren kon ook nie meer met enige van haar mansvriende gesels nie. Sy moes haar kleredrag versigtig kies en was deurentyd bekommerd dat enige van haar mansvriende haar sou bel.

Hy sou my na my werk volg en dan die hele dag daar sit en na my staar.

“Ek moes selfs uit my werk bedank omdat ek ’n manlike bestuurder gehad het.”

Sy vertel hoe hy al hoe meer beheer oor haar lewe uitgeoefen het. Sy moes hom glo vertel waar sy elke minuut van die dag was en met wie sy gepraat het.

“Hy sou my na my werk volg en dan die hele dag daar sit en na my staar.

Kort voor lank het die emosionele misbruik in fisieke geweld oorgegaan.

“Ek weet ek het ’n fout gemaak om by hom te bly, maar hy het altyd vir my ná die tyd gesê wat ek wou hoor, soos ‘ek is jammer’, ‘dit sal nie weer gebeur nie’, ‘ek gaan hulp kry’. Onnosel ek het dit elke keer geglo.”

Lauren sê nadat hulle hul verhouding verbreek het, het sy teruggetrek na Wolverhampton. Hy het by haar huis opgedaag met ’n bos blomme in die hand.

“Dit was ook die eerste keer dat hy my om verskoning gevra het vir hoe hy my behandel het. Ek het hom regtig geglo. Dinge het van daar beter gegaan. Ons het ’n huis gekry en ek het weer by hom ingetrek.

Die laaste keer

Vyf dae later het die vuiste weer geklap.

Greaves het ’n goeie dag op die krieketveld gehad. Sy span het gewen en hulle het dit in oormaat met sterk drank gevier.  
Hy was glo onvas op sy voete maar het daarop aangedring om self huistoe te ry. Lauren en sy vriende het hom probeer keer, maar hy het woedend geraak en op hulle geskree.

Greaves het in die motor geklim, Lauren saam met hom. Sy het vir hom gesê hy’s te dronk om te bestuur, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie en begin ry.

“Daar was ’n argument tussen ons en ek het geweet wat gaan volg. En ek was so bang daarvoor dat ek wel in sy motor geklim het,” sê sy.

Wat Lauren verwag het om tuis te gebeur, het in die motor begin. Greaves was woedend en het haar begin slaan – aan haar gesig en lyf. Hy het die motor in die middel van die pad tot stilstand gebring en haar nog verder bygedam.

“Die bloed het reeds uit ’n nare sny aan my voorkop gestroom voor ek besef het hy is besig om my herhaaldelik aan my gesig, nek en maag te slaan.

“Ek het bloed geproe en hom gesmeek om op te hou.”

Foto: Facebook

Lauren het haar venster oopgemaak en om hulp geroep. Een van die inwoners in die buurt het haar te hulp gesnel.

Greaves het uit die motor geklim en begin stap. Die polisie is intussen ontbied en het hom in hegtenis geneem.

Die bloedtoets wat van hom geneem is, het gewys dat hy 156 mg alkohol per 100 ml bloed in sy sisteem gehad het. Dit is bykans dubbel die toelaatbare vlak van 80 mg alkohol per 100 ml in Engeland.

“Huishoudelike geweld laat jou met ’n massiewe wolk wat oor jou hang. Jy voel asof daar niemand is met wie jy kan praat nie en jy’s absoluut verskrik oor wat kan gebeur.

“Ek kry vandag nog steeds nagmerries oor wat hy gedoen het. As ek op my eie uitgaan, is ek nog bang dat hy my van agter gaan bydam. As ek ’n motor soos syne sien, raak ek paniekerig.

Foto: Facebook

“As jy, of enigeen waarvan jy weet, in ’n verhouding is waarin jy mishandel word, gaan dadelik weg! Ek was gelukkig. Dit kon soveel erger gewees het as hy my in die verkeerde plek in die hande gekrky het.

“Ek hoop my reis inspireer minstens een mens wat in ’n soortgelyke nagmerrie leef om van die aanvaller weg te gaan en die lewe te leef wat jy vir jouself kies."

Is jy ’n slagoffer van huishoudelike geweld?

Hier is organisasies wat kan help:

  • FAMSA (landwyd): Bel 011-975-7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na www.famsa.org.za vir inligting en hulp.
  • Lifeline (24-uur): 0861-322-322.
  • POWA (People Opposing Women Abuse):083-765-1235 of gaan na www.powa.co.za vir meer inligting en hulp.
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425 of besoek www.legal-aid.co.za vir bystand
  • Rape Crisis: 011-642-4345 / 021-447-9762.
  • SA Polisie-noodnommer: 10111

Bronne: gov.uk, examinier.co.uk, metro.co.uk