Dit het glo 'n uur geneem voor die kleinspan rusti
Dit het glo 'n uur geneem voor die kleinspan rustig genoeg was vir dié foto. Foto: Kristin Ann Photography/Caters News Agency

Dit was ’n teksboodskap wat sy so lank as wat sy leef nooit sal vergeet nie. “Sê asseblief vir my dit is ’n grap,” het sy teruggestuur.

Priscilla Rodriguez het vir nuus van haar swanger meisie, Heather Langley, gewag. Dié was dokter toe om te bevestig wat hulle gehoop het – dat sy swanger was.

Ja, het die dokter gesê, sy verwag – maar pleks van een bondeltjie vreugde is daar vyf op pad.

Heather (39) was ses weke swanger. “Priscilla was so geskok,” sê sy. “Sy het eers nie geglo ek is ernstig nie.”

Nou is die vyf kleingoed hier en met hul ronde wange, knoopneusies en donsige koppies is hulle regte hartediewe. Op ’n besonder skattige kiekie lê die meisies saamgedruk met hul koppe wat op hul arms rus. Vier is vas aan die slaap en die vyfde kyk lomerig na die kamera asof sy wag dat haar susters moet wakker word.

Dis moeilik om te glo die perfekte prinsessies was nie deel van hul ouers se planne nie.

Heather en Priscilla (35) was reeds die ouers van die driejarige Sawyer en wou nog ’n kind hê om hul gesin te voltooi. Nou kan hulle hulle nie hul wêreld sonder Hadley, Reagan, Zariah, Zylah en Jocelyn voorstel nie.

Hadley, Reagan, Zariah, Zylah and Jocelyn. Foto: K
Hadley, Reagan, Zariah, Zylah and Jocelyn. Foto: Kristin Ann Photography/Caters News Agency

“Eers het dokters vier babas gesien, maar toe kry hulle die vyfde een,” vertel Heather.

“Ek het dadelik bang gevoel toe ons uitvind, want ek het gevrees my swangerskap sou kommerwekkend en ingewikkeld wees. Ek was ook paniekerig oor hoe ons vyf babas sou versorg en hoe op aarde ons vyf name sou kies en daaroor saamstem.”

Maar daardie vrese het gou verdwyn en in vreugde verander. “Ná die aanvanklike skok en nadat die nuus ingesink het, het ek besef hoe spesiaal en uniek ons babas sou wees,” sê Heather. “Dit voel asof ons die lotery gewen het.”

En dit lyk of hulle die boerpot geslaan het ook. Vyflinge van net meisies is ongelooflik seldsaam – Hadley, Reagan, Zariah, Zylah en Jocelyn is maar die tweede stel wat in Amerika aangeteken is.

Heather en Priscilla, wat in Odessa, Texas, woon, was nege jaar saam en in die wolke toe klein Sawyer gebore is. Die lewensmaats was nie seker of hulle nog ’n baba sou kon hê nie, maar hulle was seker hulle wou probeer.

Heather Langley (39) en haar lewensmaat, Priscilla
Heather Langley (39) en haar lewensmaat, Priscilla Rodriguez (35), is al nege jaar bymekaar. Foto: Kristin Ann Photography/Caters News Agency

“Ek wou altyd kinders gehad het en ek was nie seker of dit ooit vir my sou gebeur nie,” sê Heather.

“Eers wou Priscilla nie regtig kinders gehad het nie. Maar nadat ons ons eerste dogter gehad het, het ons geweet ons wou vir nog een probeer.”

Hulle het besluit om die metode intra-uteriene inseminasie (IUI) te gebruik, dieselfde vrugbaarheidsbehandeling wat hulle vir Sawyer gebruik het. Maar hulle kon nie dieselfde spermskenker gebruik nie omdat hy nie beskikbaar was nie.

IUI is ’n prosedure waarmee sperm omstreeks die tyd van ovulasie direk in die baarmoeder geplaas word. Dit help gesonde sperm nader aan die eier kom om dit te bevrug.

Met IUI het vroue jonger as 35 net ’n 10 tot 15% kans om met net een siklus swanger te raak. Dit beteken Heather se sukses op 39 – en dit met ’n vyfling daarby – ná net een poging is uitsonderlik.

“Ons was nie seker of dit sou slaag nie,” sê Heather.

Die vroedrou het net aanhou sê ‘nog ’n meisie’. Ek kon nie glo ons sou nog vyf dogters kry nie.

Maar dit het – en met net een poging.

“Ons was baie gelukkig. Ons kon nie wag om weer ouers te word nie.”

Die volgende groot vraag was: wat sou hulle kry? Op sowat 19 weke is ’n skandering gedoen wat die geslag van die babas onthul – en die twee ma’s het duim vasgehou dat minstens een van die babas ’n seun sou wees. Maar nee.

“Die vroedrou het net aanhou sê ‘nog ’n meisie’. Ek kon nie glo ons sou nog vyf dogters kry nie.

“Uit ons vyf babas het ons regtig gehoop ons sou ’n paar seuns kry, maar dit was nie so bestem nie.

“Ek het net bly dink: ‘Sjoe, dit is baie meisies – wat gaan ons met hulle almal doen?’ Ons sou altesaam ses hê.

“En toe ons uitvind hulle sou die tweede vyfling van net meisies in Amerika wees, het ons baie geseënd gevoel oor hoe seldsaam en buitengewoon hulle is.”

Heather was 28 weke swanger toe sy 'n noodkeisersn
Heather was 28 weke swanger toe sy 'n noodkeisersnee moes ondergaan. Foto: Kristin Ann Photography/Caters News Agency

Toe sy 28 weke bereik, het dokters vir Heather medisyne gegee wat die babas se breine sou help ontwikkel, want hulle het verwag die kleintjies sou vroeg hul opwagting maak. Maar wat hulle nie voorsien het nie, was dat die medisyne die swanger ma vroeg in kraam laat gaan het.

Twee dae lank het dokters ’n vroeë geboorte probeer voorkom, maar Heather het aanhou ontsluit en moes ’n noodkeisersnee ondergaan.

Al vyf babas is in Augustus verlede jaar binne drie minute verlos.

“Hul verwagte datum was 2 November en omdat hulle so vroeg was, moes hulle die eerste drie maande van hul lewe in die hospitaal deurbring,” sê Heather.

Die foto waarop hulle almal slaap, het my ’n uur gevat om te kry. Veiligheid is allerbelangrik by die afneem van klein babas

Maar teen die einde van die jaar was die gesin van agt onder een dak herenig.

“Die eerste baba het op Halloween huis toe gekom en die laaste een het op 2 Desember huis toe gekom.”

Ter viering van die geboorte van hul wonderbabas het Heather en Priscilla die fotograaf Kristin Waner hul dogters laat afneem toe hulle eers almal by die huis floreer het.

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om ’n vyfling af te neem. Ek was baie opgewonde,” sê Kristin.

Dis dol, woes en uitputtend,” sê Heather. “Maar ons sou dit glad nie anders wou hê nie.


“Die foto waarop hulle almal slaap, het my ’n uur gevat om te kry. Veiligheid is allerbelangrik by die afneem van klein babas. Spanwerk van my assistente en hul ma’s het dit laat gebeur.”

Dit is amper drie maande sedert al die meisies by die huis is en Heather en Priscilla pas nog daarby aan om die ma’s van ses te wees.

“Dis dol, woes en uitputtend,” sê Heather. “Maar ons sou dit glad nie anders wou hê nie.”

En Sawyer het baie goed daarby aangepas om ’n ousus te wees.

“Ons oudste dogter is absoluut wonderlik met haar sussies. Sy noem hulle selfs haar babas. Dis baie oulik.”

Priscilla met een van die vyfling kort na geboorte
Priscilla met een van die vyfling kort na geboorte. Foto: Kristin Ann Photography/Caters News Agency

Die vyfling het klein glansmensies geword.

“Almal in ons tuisstad ken hulle. Hulle is gaande oor hoe seldsaam en spesiaal hulle is,” sê Heather. “Ons hou ook daarvan om mense se reaksie te sien wanneer ons vir hulle van die vyfling vertel, en mense kom in die openbaar na ons toe, want hulle is so verwonderd.”

Om ’n ma van ses te wees, is dalk nie wat Heather beplan het nie, maar dit is die beste ding wat sy nooit geweet het sy nodig gehad het nie.

“Dis wonderlik. Ek is altyd deur my dogters omring en daar is niks beter as dit nie.”

BRONNE: dailymail.co.uk, mirror.co.uk, metro.co.uk 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe