Die vrou het blykbaar noodlottige beserings opgedoen toe sy in die Stillwater-gebied uit die brandende minibus probeer klim het, het Belinda Catchpole, woordvoerder vir KZN Private Ambulance, aan News24 gesê.

Drie mense het tot 100-persent-brandwonde opgedoen en is na hospitale in Durban gebring. Die minibus het uitgebrand.

Die baba het rookinaseming opgedoen en is saam met 11 ander insittendes van die taxi na die Vryheid-hospitaal gebring.

Catchpole sê die veldbrand het eiendom in Stillwater vernietig. Dit is onduidelik wanneer die brand ontstaan het.

Die Vryheid Herald het berig windspoed van tot 58 km/h is Dinsdagmiddag in die gebied gemeet. 

Catchpole sê 600 kinders van ’n plaaslike landbouskool moes ontruim word, maar die skool se eiendom is nie beskadig nie. Twee plaaswerkers is vermoedelik beseer terwyl hulle die brand probeer bestry het. 

Werk met Vuur (WmV) en brandbestryders van die AbaQulusi-munisipaliteit is gestuur om die brand te help bestry. Beide WmV en die munisipaliteit kon nie vir kommentaar bereik word nie. 

In ’n afsonderlike voorval Dinsdagmiddag is vier mense dood en vier ernstig beseer toe ’n minibus en ’n bus naby Newcastle gebots het.

Robert Mckenzie, woordvoerder van KwaZulu-Natal se mediese nooddienste, sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend. 

Bron: News24